Jou duimvinger is al rou van al die scroll. Jy wou net vinnig kyk waarmee jou eks hom deesdae op Facebook besig hou. Nou is dit al tweeuur die oggend en jy het sy tannie se aangetroude nefie se verlore Jack Russel opgespoor. Hy is iewers in die Oos-Rand.
“Ek hou nie eers van sosiale media nie,” hou jy vol.
Maar jy jok. Niemand van ons spandeer so baie tyd saam met iets tweeuur die oggend as ons nie daarvan hou nie. Die vraag is net, wie is jy as jy agter jou foon se skerm inklim?
Realiteitster
Hollywood moet vashou aan sy matras, want Boksburg het ’n ster gebaar! Bets vind haar eie lewe so opwindend dat sy genoodsaak voel om elke oomblik daarvan op sosiale media te dokumenteer: wanneer sy opstaan, wanneer sy eet, wanneer sy badkamer toe gaan.
Wie het nou Keeping up with the Kardashians nodig as jy vir Hou by met Bets het?
Nudis
Die matrieks gebruik nou nie meer die voorgeskrewe biologieboeke om die menslike anatomie te leer nie. Hulle verwys net na Charné-Lize se Instagram-profiel.
Jamie Oliver
Elisma het vanoggend vir haar ’n Marmite-toebroodjie gemaak. Dis ’n persoonlike oorwinning. Sy het die arme stuk toast so woes afgeneem, hy gaan dink hy is die volgende SARIE-voorbladgesig. Hy het al sy handtekening begin oefen en als.
Foei tog, sy weet nie eers hoe die broodjie gesmaak het nie. Teen die tyd wat sy die eerste hap wou vat, was dit al beskuit.
Die Hoender
Wat sou sosiale media dan tog nou gewees het sonder die Hoenders onder ons wat ’n eier te lê het oor ALLES.
Jy kan ’n sosialemedia-Hoender uitken aan die volgende tipe plasings op Facebook:
- “Sies Boer soek ’n Vrou! Dis dan ’n familieprogram!”
- “Jy gaan nog een oggend wakker word, Petro, en dan gaan die swaard van oordeel oor jou val. Dis hoekom ek niemand oordeel nie. Ek sê maar net.”
- “…julle onderskat julle luisteraars se intelligensie …”
- “Toe ek ’n kind was, sou hierdie tipe goed nooit gebeur het nie.”
- “Ag nee wat, ek kyk al vir jare nie meer Binnelanders nie. Kyk nou net weer Dokter Tertius se gedrag in gisteraand se episode. Ek skaam my dood!”
Aandagsoeker
Chardenise het besluit om papier te spaar en eerder haar gevoelens op sosiale media neer te pen. Na haar kêrel haar verneuk het, het sy al sewe fases van rou op Facebook gedokumenteer. Maar moet haar liefs nie daaroor uitvra nie, “dis persoonlik” en sy “wil nie daaroor praat nie”.
Die Miemie
’n Miemie kan so maklik op sosiale media uitgeken word. Haar profielfoto is dié van ’n spastiese Yorkie met ’n strik op sy kop teen ’n see-backdrop.
Daar is baie kriteria betrokke wanneer Miemie ’n plasing maak:
- Die foto móét pixalate.
- Ten minste drie van die foto’s moet dupliseer.
- Elke foto moet gepaardgaan met ’n aanhaling uit ’n Ray Dylan-sokkietreffer.
- Onvleiende foto’s kry voorkeur en die betrokke persone móét getag word.
Laastens glo Ouma Miemie ook in kettingboodskappe. Sy het eenkeer gehoor mens sal met die dood of ’n dubbelken gestraf word as jy dit nie aanstuur nie.
Konteks-koningin
Hester verstaan nie heeltemal die konsep van ’n onderskrif nie. Sy is absoluut verhewe bo die konteks van ’n foto.
Hiermee ’n tipiese kenteken van ’n internet-Hester:
Foto: Hester in ’n selfie wat sy in Benoni-mall se badkamerspieël geneem het. Jy kan ’n rolletjie toiletpapier en die woorde “Please wash your hands” in die agtergrond sien.
Onderskrif: Soms moet jy net glo in jouself. #knypmydis’ndroom #livingontheedge #teveelliefde #bethechange
Haar ouers is seker trots…
Nou ja, daar is dit nou. Daardie stukkie “wysheid” wat jy vanoggend tweeuur op 7de Laan se fan page gaan deel het, het toe nie ongesiens verbygegaan nie.
Kan jy nou glo? Hugo, bel die polisie … ek is geskok!