
Met die woorde “Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie” en die komieklike maniertjies van sy geliefde karakter Ouboet, het Frank Opperman reeds 30 jaar gelede die harte van talle Suid-Afrikaners gesteel.
Dit is dan ook geen verrassing dat hy onlangs tydens ’n spesiale geleentheid in Pretoria deur die FAK vereer is met die Prestige-toekenning vir uitnemende kultuurprestasie in die Afrikaanse toneelkuns nie.
Luister hier na wat hy te sê gehad het oor dié gesogte prys:
Frank Opperman: Die man agter “Poeksie Woeksie se Worsie Wapsie”
Toneelspel was egter nie altyd deel van Frank se planne nie. Hy is op 8 Junie 1960 in Johannesburg gebore. Gedurende sy skoolloopbaan is hy deur sy onderwyseres-ma aangemoedig om aan eisteddfods deel te neem, maar het vinnig sy belangstelling hierin verloor.
Kort nadat hy sy studies in regte aan die Universiteit van Pretoria begin het, het hy besef ’n beroep as prokureur is hom nie beskore nie en het hy, na sy diensplig, by die Pretoria Technikon aangesluit en sy diploma in drama voltooi. Hier is hy ook deur die Pretorian Trust as die beste student aangewys. Na sy studies het hy by die Transvaalse Raad van Uitvoerende Kunste (TRUK) gewerk en in sy eerste vollenge rolprent, Boetie gaan border toe, gespeel.
Dié 1984 satiriese film, onder leiding van regisseur Regardt van den Bergh, het afgespeel in die grensoorlog en vir Frank die geleentheid gebied om die grootskerm met die befaamde akteur Arnold Vosloo te deel.
Dit was egter eers toe hy die rol van Ouboet in die gewilde reeks Orkney Snork nie, losgeslaan het, dat hy diep spore in die Afrikaanse televisiebedryf begin trap het. Sedertdien is hy ook gesien in talle televisiereekse insluitend Die Vierde Kabinet, Gautengeleng, Pandjieswinkel, Munisipaliteit van Gwara Gwara, Vlug na Egipte en Ouboet en Wors.
Frank en Dana Snyman span kragte saam
Een van die grootste invloede op Frank se loopbaan is sy besonderse verhouding met skrywer Dana Snyman. Frank en Dana het sowat 15 jaar gelede kragte saamgesnoer nadat hy van Dana se berigte as misdaadverslaggewer in die Beeld gelees het. Sedert hul begin saamwerk het, het hulle al talle produksies die lig laat sien waaronder die Uwe Pottie Potgieter, Wyk 14, Rooi Kaart, Hond en Die Klaagliedere van ds. Tienie Benade wat ook vroeër vanjaar as film in teaters landswyd vrygestel is.


Nou op die planke …
Frank is tans te sien in die produksie, Donkie, ’n humoristiese eenmanstuk wat ernstige kwessies ondersoek en terselfdertyd die fokus op die onderwys plaas. In dié eenman-vertoning vertolk Frank die rol van ’n skoolhoof wat die leerders aanspreek na afloop van ’n rassistiese insident in een van die tegnologieklasse.
Frank en sy band
Buiten Frank se passie vir toneelspel, is daar ook ’n ander liefde wat hom baie na aan die hart lê – musiek. Dit het reeds op hoërskool posgevat toe Frank ’n band gestig het saam met Henning Pieterse en die sogenaamde “Spaghetti”.
Tydens die opname van Orkney Snork nie het Frank en sy mede-akteur Pierre van Pletzen mekaar belowe dat hul eendag hul eie band sal begin. 25 jaar later het hierdie belofte ‘n waarheid geword met die opname van ’n werklikheidsprogram op VIA genaamd Die ooms se band. In hierdie reeks stig Frank en Pierre ’n rockgroep, Harrebaard, saam met musikante Anton L’Amour en Leon Ecroignard.
Kyk hier na die liedjie Harrebaard wat onlangs deur die groep opgeneem is.
Oor wat ons volgende kan verwag, wil Frank nie te veel verklap nie. Volgens hom het hy en Dana ’n paar “plannetjies” in die pyplyn. Hoe dit ook al sy; een ding is seker: Dit kan net goed wees!