Die toetssaak in die Konstitusionele Hof tussen Gelyke Kanse en die Universiteit Stellenbosch rakende die reg tot onderrig in Suid-Afrikaanse inheemse tale op tersiêre vlak, is aangehoor en op 10 Oktober is uitspraak gelewer. Die hof het ten gunste van die Universiteit Stellenbosch en hul taalbeleid besleg. Dié beslissing is verreikend.
Volgens die Grondwet het alle tale van Suid-Afrika dieselfde status, maar die hofuitspraak maak dit duidelik: Engels het wel die oorhand.
Daar was terugvoer uit verskeie oorde. Kritiese stemme wat veral die gevolg van die uitspraak vir meertaligheid ontleed. Ander wat geleenthede vir selfdeterminasie raaksien, politieke uitsprake wat mense warm onder die kraag het, asook beskuldigings dat die ongelukkiges tekenend is van ‘n “klomp verstokte Afrikaners”.
Lees die volledige uitspraak hier
Lees uittreksels uit die uitspraak hier
’n Gevoelige slag …

Volgens Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, is dit ’n jammer dag vir Suid-Afrika.
“Dit het ’n onomkeerbare situasie geskep wat sal afwentel na Afrikaanse skole op primêre sowel as sekondêre vlak. Afrikaans is ’n gevoelige slag toegedien.”
Meertaligheid bly in die slag
Van Wyk sê in sy repliek op LitNET dit is ’n gevoelige slag vir Afrikaans, maar ook vir meertaligheid, nie slegs aan die US nie, maar ook vir die land.
“Dit strook nie met uitsprake van die President soos onlangs in Upington uitgespreek tydens Erfenisdag, dat alle tale in die land gelyk is nie. Dit was slegs lippetaal waarvan die teendeel nou bewys is. Engels is verhef tot die belangrikste taal in Suid-Afrika. Die ander amptelike tale is op die sylyn gerangeer en sal daar stagneer tot wie weet wanneer. Die kanse op die ontwikkeling van die inheemse tale is ook ’n slag toegedien. Uit die aard van die saak besef ons nie wat die langtermyngevolge van hierdie uitspraak gaan wees nie. Suid- Afrika is ná vandag taalkundig armer.”
Engelssprekende studente word bevoordeel
Van Wyk sê onder meer dat ons onderwysstelsel reeds in ’n krisis verkeer en dat die negering van moedertaalonderrig op tersiêre en skoolvlak grootliks tot hierdie situasie bydra.
“Parallelmediumonderrig sou die oplossing wees aan die US om gelyke kanse aan almal wat daar studeer, te bied. Engelssprekende studente word dus bevoordeel en baat by hierdie bevestiging van die taalbeleid.”
Moenie die boodskapper skiet nie …

Volgens Theuns Eloff, voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk Stigting en voorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys is die uitspraak allesbehalwe regverdig, omdat die volle prentjie nie in ag geneem is nie. Hy sê onder meer in ’n meningstuk op Maroela Media, waarin hy sy standpunt uiteensit, dat die stand van sake voor die deur van die US en Afrikaanse sakeleiers gelê word, maar ook ouers en studente wat Engelse onderrig verkies. Hy sê Afrikaanssprekendes sal hulself nou moet beroep op art 29 (3) en private Afrikaanse instellings oprig.
Terugslag vir ander amptelike tale

“Ons moet nie dink dat die impak klein gaan wees nie. Inteendeel! Vir Afrikaans se waarde as onderrigtaal is dit ’n groot terugslag,” skryf Wannie Carstens, Afrikaanse taalkundige en professor in sy reaksie op die uitspraak.
“Maar vir die nege ander amptelike tale is dit ’n nog groter terugslag omdat daar nou nie meer regtig ’n verpligting is om die gees van die grondwetlike taalbepalings waar te maak nie. Die kans dat een van die Afrikatale tot die vlak van Afrikaans (en natuurlik Engels, want die tale is mos gelyk) gaan ontwikkel, het vandag gestol. Die koste-argument gaan nou gereeld gebruik word en mettertyd gaan daar nie eens van die ander tale gepraat word nie. Lippetaal oor taalontwikkeling gaan nou aan die orde van die dag wees.” Carstens sê ook dat die uitspraak nie sprekers van tale anders as Engels se behoeftes in ag neem nie en dat daar groter begrip moes wees vir die kompleksiteite van ons land.

Mercy Kannemeyer, taalaktivis, skryf: “Die Universiteit Stellenbosch voel ’n veer vir Afrikaans en vir meertaligheid.”
Sy sê sy voel in die rug gesteek.
“Ek is nie meer lus om doekies om te draai nie. En ek is jammer as ek ’n gegewe perd in die bek kyk, want ek is bevoorreg genoeg om aan een van die top universiteite in die land te kan studeer. Maar (voeg hier na hartelus jou eie vloekwoorde in), goeie genugtig! Wat hierdie universiteit besig is om aan Afrikaans en al die ander ampstale (behalwe Engels) in ons land te doen, is futiel.
Is Engels die maklike oplossing?
“En hoe ongelooflik ironies is dit nie”, skryf Kannemeyer, “ … die Universiteit Stellenbosch streef na dekolonialisering en transformasie en allerhande gonswoorde wat hulle beelde en weelde goed genoeg ‘weerspieël’, maar deur Engels as hooftaal van instruksie te aanvaar, is die universiteit besig om hulself te herkoloniseer. Ek glo nie enigiemand hoef aan Engels se geskiedenis herinner te word nie.”
Sy sê Engels lyk vir talle na die maklike oplossing. “Links en regs word gepreek dat Engels jou voorberei op ’n internasionale beroepslewe. (Lag lag lag.) Dit is Suid-Afrika se lingua franca. Hoe gaan ons ander ampstale egter aanhou ontwikkel as ons die maklike oplossing aangryp? Hoe gaan Xhosa, wat een van die tale in die Wes-Kaap is wat die meeste gepraat word, op die akademiese vlak van Afrikaans en Engels kom as Afrikaans nou aan die agterspeen moet suig? Wie is so naïef om te dink dat die universiteit werklik enige pogings tot meertaligheid gaan aanwend? Hulle gryp na maklike strooihalmoplossings. En dit is onvolhoubaar.
“Natuurlik wil ek hê dat die universiteit se arms vir almal oop moet wees. Natuurlik wil ek in ’n geïntegreerde taalgemeenskap studeer waar ons naatloos saam met mekaar en ook van mekaar kan leer. En natuurlik dink ek nie Afrikaans is die belangrikste taal op die planeet nie.
“Wat Afrikaans in hierdie konteks egter verdien, is om in ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar die meerderheid sprekers van die taal bruin mense is, as prioriteit gesien te word. Nie bo enige ander taal nie, maar gelyk. Na aanleiding van dit wat by ander universiteite in die land gebeur het, het ek diep diep diep binne myself gehoop dat Afrikaans op Stellenbosch dit sal oorleef. Helaas.” Lees haar meningstuk hier
Geen doodsvonnis nie …

Volgens Michael le Cordeur, voorsitter van die Departement Kurrikulumstudie in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, is die uitspraak egter geen doodsvonnis nie. Hy sê die toekoms van Afrikaans is in sy sprekers se hande.
Hy skryf: “Pleks van in sak en as te gaan sit, het diegene wat Afrikaans ter wille is, nou die geleentheid om die daad by die woord te voeg.”
Daar is geleentheid …
“Dit bied die ideale geleentheid aan Afrikaanse sakelui om byvoorbeeld ʼn leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk aan die US te borg. Sulke inisiatiewe sal nie net help met die handhawing van Afrikaans as medium van onderrig nie; dit sal ook bydra tot die bevordering van Afrikaans as wetenskap- en beroepstaal binne ‘n meertalige gemeenskap.
“Beurse kan toegeken word aan studente wat nagraads in Afrikaans studeer. Die regering behoort dieselfde te doen vir ons ander inheemse tale aan ander universiteite. Elke universiteit behoort op dié manier die inheemse taal in sy omgewing aan boord te neem.”
Hy sê vervolgens dat Afrikaans nie meer die beskermde status geniet wat hy in die verlede gehad het nie. “Vir Afrikaanssprekendes is dit belangrik dat ‘n konstruktiewe balans gevind moet word: Terwyl ons steeds verbind bly om Afrikaans (en ander inheemse tale) te bevorder, moet ons realisties en sensitief wees vir inklusiewe kommunikasie op die kampus en die rol wat Engels kan speel om gelyke geleenthede te skep op ‘n baie ongelyke speelveld.”
Die toepassing van die taalbeleid moet dopgehou word
“Ongeag hoe mooi en edel die doelwitte van die taalbeleid is, daar is twee voorwaardes: Studente moet die moed hê om hul pond vleis op te eis, en dosente moet weet dat dit baie ekstra werk gaan verg. Veral deeglike beplanning is noodsaaklik. Die beleid sal val of staan by die mate waartoe die reëls van die beleid nagekom word al dan nie. Hierin is gereelde monitering van uiterste belang en Gelyke Kanse het dit duidelik gemaak dat hulle die toepassing van die taalbeleid met valkoë gaan dophou. Die druk is op die universiteit.” Lees prof. Le Cordeur se meningstuk hier
Lees verder
- Frederik Rudolph van Dyk: Stories op die Rooiplein: Veeltalige Maties of gerusstellende leuens?
- Bettina Wyngaard: Stellenbosse taalbeleid: Woed die Anglo-Boereoorlog dan nog steeds?
- Jonathan Jansen: Die stryd was nooit oor die taal nie, maar oor die oorlewing van Boere-baasskap
- Risha Lötter: Gelyke Kanse en die Konstitusionele Hof-beslissing: uit ‘n US-tolk se perspektief
- Cerneels Lourens: Stellengate? ’n Ongelyke kans: Ope brief aan regter Edwin Cameron
- Bradley Slade: Wie is die “bruin mense” en watter taal praat hulle? Repliek op Mercy Kannemeyer