


Leon Gropp is die afgelope dekade op die Suid-Afrikaanse musiekverhoog – eers deel van kitaarduo CH2, en daarna as solokunstenaar. Hy is bekend vir sy versmelting van verskillende klanke wat dikwels klassieke-, akoestiese-, luistermusiek en selfs Spaanse ritmes insluit. Hierdie unieke klank wat gepaardgaan met saksofoon, viool of perkussie het hom reeds drie SAMA-toekennings besorg.
Leon het oor die jare bekend geword vir sy kitaarspel, pragtige stem, sielvolle musiek, betekenisvolle lirieke, unieke musiekverwerkings en gesellige verhoogpersoonlikheid.
Sy debuutalbum, Rooidag, is in 2017 vrygestel. Die album bestaan uit Leon se gedigtoonsettings van die digter NP van Wyk Louw, en bevat ook duette met Coenie de Villiers, Anna Davel, Richard van der Westhuizen en Christiaan Baartman. Rooidag is ook ‘n verhoogproduksie wat landswyd opgevoer word. Die gelyknamige verhoogproduksie het die Woordtrofee vir “Beste Musiekgedrewe produksie” by die 2018 US Woordfees gewen.
In Junie 2018 is sy enkelsnit, Bakenlig, bekend gestel – wat hy saam met Jattie de Beer geskryf het. Die klank van die lied en ook Leon se styl word beskryf as poëties en meesleurend wat terselfdertyd gemaklik luister, met ‘n melodie wat lank in jou kop vassteek.
Leon is voorts saam met sy vennoot Jaco Boëttger, wat plaaslik en internasionaal saam met hom reis, betrokke by talle bemagtigingsprojekte waar hy musiek in die korporatiewe wêreld inspan om positiewe, persoonlike groei teweeg te bring.
Hy het al saam met verskeie kunstenaars gewerk en het ook al die verhoog met kunstenaars soos Coenie de Villiers, Nataniël, Richard van der Westhuizen, Joshua na die Reën, Anna Davel, Lloyd Cele, Vicky Samson, Soweto String Quartet, Steve Hofmeyr, Nianell, Brandon October en Akustika Chamber Singers gedeel.
Leon is in September 2018 aangestel as aanbieder op die gewilde Afrikaanse ontbytprogram, Ontbytsake. Sy mede-aanbieders is Dawie Roodt, Eloise Cupido en Renette Vosloo.
Pieter Cloete het by Leon gaan koffie drink om meer oor die talentvolle jong man uit te vind.
Toekennings:
3 x SAMA-toekennings
2 x GHOEMA-toekennings
3 x VONK-toekennings
1 x ATKV Lier-toekenning
*Sy musiekproduksie, Rooidag, is in 2018 as die beste musiekproduksie by die US Woordfees aangewys.
*Hy was ook die kategoriewenner by die ‘Lee Ritenour Sixstring Theory Guitar’-kompetisie in Montana, Amerika.
Lees meer oor Leon hier of besoek sy facebookblad.