As jy ’n storie het om te vertel, of sukkel om jou manuskrip gepubliseer te kry, ’n skrywer, vertaler of redigeerder nodig het, of sommer net vir die lekker skryf, dan is SA Vryskutskrywer net die plek om by aan te klop. Self in die bedryf, weet hulle hoe om medeskrywers by te staan en weet hulle ook wat redakteurs en uitgewers wil hê.
SA Vryskutskrywer beskryf hulself as jou eenstop Afrikaanse skryfportaal. Hier kry jy hulpmiddels en ondersteuning van ’n klein groepie skrywers wat saamwerk om Afrikaans te bevorder asook ’n groot verskeidenheid aanlynkursusse. Leoni Benghiat, Carla van der Spuy, Ilse Ferreira en Alita Steenkamp ondersteun aspirant- en vryskutskrywers en help “om ’n droom te voed”.
Iets vir almal
Daar is iets vir almal, of jy nou ’n vryskutbesigheid bedryf of ’n aspirantskrywer of ’n student is. Die sakpas-kursusse met maklike betaalopsies word deur middel van die internet en e-pos op ’n een-tot-een basis in jou eie tyd en in die gerief van jou huis aangebied. Hulle help ook met redigering en evaluering van jou skryfwerk. En vir diegene wat liewer op hul eie wil leer, is daar ook selfstudiekursusse. Vir ’n klein bedraggie maandeliks kry jy toegang tot premium-inhoud en word jy deel van die vryskutnetwerk. Daar is ook ’n gratis afdeling waar heelwat dienste en hulpmiddels beskikbaar is.
As jy daarvan hou om met kollegas te gesels, sluit gerus by die SkryfFORUM aan en ruil raad en advies uit.
Skryfkursusse
Jy kan onder andere kies tussen basiese en gevorderde kursusse in joernalistiek, sakeskryfgeheime, kreatiewe skryfwerk (fiksie en nie-fiksie) en kan gou die ABC van kortverhale of die kuns agter poësie baasraak. Daar is selfs kursusse wat jou toerus oor hoe om geld te verdien met jou stories en akademiese skryfkursusse. Jy kan selfs leer hoe om jou eie kookboek te skryf! Ons tieners en kinders is ook nie vergeet nie en kan in ’n japtrap leer hoe om nuusberigte vir hul skoolkoerante te skryf, of hoe om ’n leesverslag of die beste opstel in die klas te skryf.