“Afrikaans is nie net die taal van apartheid nie; Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening. Dit is ook ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote. Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef! Dit is geen geringe prestasie nie.”– Dr Franklin Sonn
Op Versoeningsdag, Vrydag, 16 Desember 2016, is dr Michael le Cordeur en prof. Wannie Carstens se boek, Ons kom van vêr, (Naledi) vrygestel – ’n boek opgedra aan Adam Small wat uiteindelik die bydrae van bruin sprekers tot die ontwikkeling van Afrikaans vier.
Ons kom van vêr
Michael le Cordeur sê dat die boek deurgaans Small se stempel dra en dat sy filosofieë soos ’n goue draad deur die boek loop. “Deur sy werk het Adam Small namens, maar ook met, sy mense gepraat oor die liberale waardes van vryheid van denke en spraak… Danksy Small is die stigma rondom Kaaps afgebreek en het hy van Kaaps ’n literêre taal gemaak: ‘Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra,’ (aldus Small).
Le Cordeur beskou dit as ’n wonderwerk van versoening dat Small die moed gehad het om na die openbare lewe terug te keer en veral dat hy die Hertzogprys in 2012 – 50 jaar na die verskyning van Kanna – aanvaar het.
want julle sien vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so…
(Uit: Kanna hy kô hystoe – Adam Small)
Michael le Cordeur skryf: “Small kom inderdaad van vêr af. Deur hierdie boek aan hom op te dra, en op Versoeningsdag bekend te stel, is gepaste erkenning aan ’n man wat lank in sy land misken is terwyl hy eintlik sy tyd vêr vooruit was. Die storie van Afrikaans het in die verlede meestal gefokus op die taal se wit geskiedenis terwyl die taal se bruin en swart geskiedenis misken is.”
Die skrywers ‘stel die situasie reg’ en toon aan dat bruin mense se verbintenis met Afrikaans inderdaad van vêr kom.
Afrikaans – taal van versoening
Franklin Sonn stel dit so: “Die gesprek oor Afrikaans en die bruin mense wat die skrywers in hierdie boek aanroer, is tydig in die opsig dat ná al die ambivalensie oor die Afrikaans van ons hart en die onverkwiklike manier waarop ons in hierdie taal verdruk en misken is, ons ons vryheid gekry het – wat ook verantwoordelikheid meebring om minstens onder mekaar klaarheid te vind oor wat nou vorentoe met ons taal moet gebeur.”
Sonn sê voorts in die agterbladteks dat Afrikaans die taal van versoening geword het en homself stadig maar seker bevry van die politiek en vir homself kan sorg. “Ons moet in die proses van eenheid uit diversiteit onthou dat die jongste Afrikataal, Afrikaans, op ons tonge klank gekry het… dis deel van ons swart- en bruinwees, maar dit sluit ons ook aan by ons wit taalgenote.”
’n Meer volledige verhaal?
Volgens Le Cordeur is die boek se grootste waarde dat dit die stigma dat bruin mense nie ’n stem het oor Afrikaans of ’n bydrae te maak het tot Afrikaans nie, weerlê.
Le Cordeur het verskeie skrywers uit hoofsaaklik die bruin gemeenskap genader om betrokke te raak en oor ’n aspek te skryf waarby hulle intens betrokke is/was en waar ’n bydrae tot Afrikaans gemaak is. “Die reaksie uit die bruin gemeenskap het ons wildste drome oortref en ons moes streng keuring toepas om die boek tot 36 hoofstukke te beperk.”
Medewerkers
Uiteindelik het 35 skrywers, akademici en gemeenskapsleiers van byna elke sfeer van die samelewing hulle tot die projek verbind, wat deur die SA Akademie, Die Jan Marais Nasionale Fonds, die Hiemstra Trust, die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans (SBA) en die ATKV ondersteun is.
Die bydraes in hierdie omvattende werk van 600 bladsye val in tien kategorieë: Ekonomie en bemagtiging, Godsdiens en Kerk, Identiteit, die Impak van apartheid, Sport en Kultuur, die Media, Onderwys, Politiek en Taal.
In die proses word nie net bruin mense se bydrae tot die tot standkoming van Afrikaans geboekstaaf nie, maar die skrywers wys telkens uit dat die bruin gemeenskap dikwels aan die voorpunt gestaan het in die stryd teen apartheid – en hulle het dit boonop trots in Afrikaans gedoen.
Hulle is Fatima Alie (Moesliem-leier), Herman Bailey (oud-burgemeester), dr Jacques Beukes (jeugpredikant), Charles Beukes (sportjoernalis), dr Willa Boezak (Khoisan-beweging), prof Wannie Carstens (Taalredakteur), dr Johan Coetzer (akademikus), dr Gavin Davids (UWK), John Diergaardt (onderwyskundige), Cecyl Esau (apartheidsaktivis), Gaireyah Fredericks (digter), Edwena Goff (Mej Afrika-Suid), Willem Fransman (digter), Henry Jeffreys (oud-koerantredakteur), Basil Kivedo (oud-burgemeester), prof Nico Koopman (vise-rektor, US), dr Michael le Cordeur (Inhoudsredakteur en akademikus), Marlene le Roux (Kunstekaap), dr Llwellyn Macmaster (predikant), Basil May (onderwyskundige), Patrick Mettler (onderwyskundige), Selwyn Milborrow (digter), dr Reggie Nel (akademikus), Elias Nel (kultuurmens), Robert Pearce (dramaturg), Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (kerkleier), Conrad Sidego (oud-koerantredakteur en Ambassadeur), dr Cornelius Thomas (Rhodes Univ), dr Danny Titus (ATKV), Christo van de Rheede (Agri-Wes-Kaap), dr Raymond van Diemel (akademikus), Danie van Wyk (onderwyskundige), dr Ronel van Oordt (akademikus), en Archie Vergotine (onderwyskundige).
In Gesprek
Afrikaans.com wil aan jou, die leser, die geleentheid gee om in gesprek te tree oor sleutelsake in die Afrikaanse leefwêreld wat vir jou van belang is.
Die laaste onderhoud …
Adam Small sou op 21 Desember 2016, 80 jaar oud gewees het en ’n dokumentêr oor die lewe en werk van dié bekroonde Afrikaanse dramaturg en digter, is nou beskikbaar. Die titel van die dokumentêr is: “Ek hoor die vryheid sing”, ’n reël uit sy gedig “Vryheid” in Kitaar my kruis.
“Ek hoor die vryheid sing” – Prof. Adam Small
Bekendstelling
Die plan was om die boek op 21 Desember 2016, prof Small se 80ste verjaarsdag, vry te stel. Small het sy seën op die projek geplaas. “Ongelukkig het die Hoër Hand ingegryp en prof Small is van ons weggeneem op 25 Junie 2016. Hy sal nou nooit die produk sien nie, maar die skrywers – en sy weduwee dr Rosalie Small – het gevoel dat ons moet voortgaan om prof Adam se nalatenskap te eer.” Die boek is op 16 Desember 2016, Versoeningsdag, by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad bekendgestel.
Die boek begin en eindig met gedigte van Selwyn Milborrow en Gaireyah Fredericks. Small se weduwee, dr Rosalie Small maak in haar hoofstuk, waarin sy die vraag stel: “Wie is Adam Small?”, aspekte van die digter-dramaturg bekend waarvan niemand ooit geweet het nie.
Franklin Abraham Sonn was vanaf 1995 tot 1998 Suid-Afrika se ambassadeur in die VSA. Dit was egter as skoolhoof op die Kaapse Vlakte (Spes Bona Hoërskool in Athlone) en later rektor van die Skiereilandse Technikon (vandag die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie) dat hy homself gevestig het as ’n leier van sy mense en vegter teen apartheid. As jarelange president van die Kaaplandse Onderwysersunie (KPO) het hy nie net ’n groot rol gespeel in die demokratisering van onderwysvakbonde nie, maar hy het ook die KPO geprofileer as ’n toonaangewende organisasie vir demokratiese maar ook professionele onderwys.
Sy betrokkenheid by sy mense en die liefde wat hulle vir hom koester, kom duidelik na vore in hierdie boek as verskeie skrywers en in verskillende hoofstukke verwys na sy rol in die bruin mense se struggle teen apartheid.
Oor die jare dien hy in verskeie toonaangewende leierskapposisies: hy was die kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, uitvoerende lid van die Universiteit Kaapstad se Bestuurskool, en ’n trustee van die Desmond Tutu Vredestrust en hy is steeds lid van die World Wide Fund for Nature in Suid-Afrika. Hy was ook of is lid van talle maatskappye se direksies.
Hy is die ontvanger van 14 eredoktorsgrade, die mees onlangse van die Universiteit Stellenbosch (2016). Ander toekennings sluit in die Orde van die Disa van die Wes-Kaapse regering, die Nasionale Orde-toekenning (Silwer) deur oudpres Thabo Mbeki, en die Internasionale toekenning ter ere van dr Martin Luther King Jr.
Hy is getroud met Joan Gelderbloem en die egpaar het twee kinders, Crispin en Heather.
Dr Michael le Cordeur is die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en voorsitter van die B.Ed-programkomitee en dosent in Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die skrywer van etlike handboeke en “Wellingtonse Klopse, 100 se onvertelde stories (2013)” asook “16 Junie 1976, 35 jaar later (2012). Sy navorsing vir die PhD-graad aan die US handel oor die verbetering van lees met behulp van die inligtingstegnologie. Hy doen ook navorsing en publiseer gereeld oor temas soos taalbeleid, moedertaalonderwys en die media in die skoolkurrikulum (MEd). Hy het ook die Senior Bestuursprogram aan die Nagraadse Bestuurskool van Stellenbosch voltooi. Hy is voorsitter van die trusteeraad van Breytenbach Sentrum op Wellington, ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en die Media24 Rachels Angels Bemagtigingstrust. Hy is deur die SA Akademie bekroon met die Elisabeth Steijn-medalje vir sy bydrae tot die onderwys. Hy is ook ’n beskermheer vir Afrikaans.
Prof Wannie Carstens is verbonde aan die Noordwes-Universiteit, waar hy die huidige direkteur van die Skool vir Tale is. Hy was o.a. stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die vorige voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), asook van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum. Hy dien as direksielid van die Buro van die WAT en is ’n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. As gegradeerde NNS-navorser is hy die outeur of mede-outeur van vier akademiese boeke. Hy is in 2014 deur die ATR bekroon met ’n Koker vir die Bevordering van Afrikaans. Sy rol as taalredakteur is van onskatbare waarde. Hy is ook ’n beskermheer vir Afrikaans.
Lees meer:
Meer oor dr Michael le Cordeur – pedagoog en taalman: LitNET.
Huldeblyk aan Adam Small deur dr Michael le Cordeur op LitNET.
Die kwessie van Kaaps: Afrikaansonderrig op skool benodig ‘n meer inklusiewe benadering – ’n Navorsingsartikel deur dr. Michael le Cordeur.
Lees ook op LitNET oor die boek, Ons kom van vêr.
Dis ’n wanopvatting dat bruin mense niks oor Afrikaans te sê het nie. Lees Julian Jansen se artikel op Netwerk24.
Lees ook dr Michael le Cordeur se artikel: Afrikaans kom van vêr af, op Netwerk 24.