Bibi Slippers het vanjaar (2017) die literêre wêreld behoorlik laat regopsit met haar digbundel, fotostaatmasjien, wat bekroon is met die Eugene Marais-prys, die UJ-debuutprys en die Elisabeth Eybers-prys. Maar wie is Bibi Slippers?
Deur Ilse Salzwedel
Ons bestook borrelende (en bekroonde) Bibi met vrae
Enigiemand wat al vir Bibi ontmoet het, sal weet sy is vrolik, aweregs en energiek. Vra maar die gehoor by vanjaar (2017) se ATKV Woordveertjies wat byna vir die grappie geval het toe ʼn vrolike Bibi op die verhoog gehardloop het om ʼn fop-prys te gaan ontvang vir ʼn produksie wat nie bestaan nie. (Dit was darem alles deel van die aand se amptelike pret en natuurlik ʼn tong-in-die-kies-verwysing na vanjaar se Oscar-glips toe La La Land per abuis aangekondig is as beste rolprent in plaas van Moonlight, die eintlike wenner.)


As jy nog twyfel oor my beskrywing, kyk gerus ʼn episode van In die bed met Bibi, Via se program oor skrywers en boeke. Haar ander “regte” werk – want in ons land kan min digters en skrywers leef van hul inkomste – is as inhoudsregisseur van Flits, KykNET se program oor mode, kuns en vermaak.
Bibi is kunstig én goed met woorde. Sy het in 2007 terselfdertyd twee BA-grade by Tukkies behaal: een in Beeldende Kuns en nog een in Tale, en in 2015 ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy was voorheen ’n inhoudsbestuurder by LitNet en artikelredakteur by die tydskrifte MyTyd en VISI. Haar gedigte en stories is opgeneem in verskeie versamelbundels, onder andere Nuwe Stemme 4 en Nuwe Stories 1.
Ons het Bibi gevra om ʼn Proust-vraelys in te vul. En as jy wonder wat op aarde is ʼn Proust-vraelys, hier is ‘n kort verduideliking: Die Franse skrywer Marcel Proust het in 1885 as tiener sommer vir die pret ʼn lys van vyftien vrae van sy vriendin Antoinette ingevul. Die vrae was in Engels, en eintlik die speletjie Confessions, hoogmode in die Britse sosiale kringe sedert die 1850’s. Proust het sy vrae in Frans beantwoord en dit selfs ʼn titel gegee: “Proust deur homself”. Vyf jaar later het hy dit weer gedoen, en toe 31 vrae beantwoord. Hy het die vraelys sy eie gemaak deur ʼn paar van die Confessions-vrae met sy eie te vervang, en tot vandag nog is dit ʼn lekker manier om meer oor mense te wete te kom.


Ons het, spesiaal vir Afrikaans.com, die eerste vier vrae bygesit.
1. Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?Fnuik.
Geut.
WOKNAKWYF! *
2. Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit gelees het in Afrikaans?
“Ek wil ‘n ander lewe hê”
3. Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek? (Kan selfs uit jou kinderjare wees)
Die Groot Verseboek- hy is die opste gelees
4. Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?
Pikkie Pikkewyn.
5. Wat is jou idee van perfekte geluk?
Waterski / om ‘n lam met ‘n bottel te voer / om in die son te sit
6. Jou grootste vrees?
Om ‘n oproep te ontvang wat sê dat iemand vir wie ek lief is iets oorgekom het.
7. Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek is obsessief.
8. Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Ek kan nie aan ‘n antwoord hierop dink nie.
9. Wat is jou grootste uitspattigheid?
Gereelde vlugte Kaapstad toe, sommer vir enige rede. En gemarineerde artisjokke van Woolworths.
10. Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Die f-woord in al sy variasies.
11. By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Om myself uit ‘n afspraak te kry waarheen ek eintlik nie wil gaan nie.
12. Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Lees.
13. Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
Elke keer as ek ‘n hanslam met ‘n bottel voer, of wanneer ek waterski.
14. Watter talent sou jy die graagste wou hê?
Ek sou graag werklik goed wou kon dans – soos die hip-hop-choreograwe op YouTube.
15. As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek sou minder vyandig wou wees teenoor my eie liggaam.
16. Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Dat ek deurgedruk het met my meestersgraad.
17. Wat is jou kosbaarste besitting?
Twee skilderye van skape. Een is deur Nina Torr (getiteld “Sire”) en die ander deur Katherine Meeding (getiteld “middagslapie”).
18. Waar wil jy die graagste woon?
Bakoven in Kaapstad.
19. Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
Afhanklikheid.
20. Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Gehoorsaamheid.
21. Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek het diep kuiltjies en baie energie.
22. Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Al die beroepe wat jou toelaat op baie dinge te sien, te doen, te wees: Skryf, joernalistiek, toneelspel, TV-maak.
23. Wie is jou gunstelingskrywers?
Anne Carson, Anne Michaels, Antjie Krog.
24. Jou fiksieheld/in?
Cassandra in “I Capture the Castle”.
25. En jou helde in die regte lewe?
Kom ons gaan maar weer met Antjie Krog.
26. Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste? (En hoekom?)
Theodore Roosevelt. Ek het ‘n BuzzFeed Quiz gedoen, en dit was die antwoord.
27. Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Die vermoë om geheel en al op te gaan in iets. (Dus basies enige vorm van geekiness.)
28. En in ʼn vrou?
Die vermoë om sterk te wees sonder om hard te wees.
29. Waaroor is jy die spytste?
Ek het in my twintigs baie tyd gemors op mans wat nie my tyd werd was nie.
30. Wat is jou leuse?
“F** alles, ek’s ‘n panda!”
*Vir ingeval jy (soos ek) gewonder het wat op aarde is WOKNAKWYF, lees hier.
Lees meer oor Bibi en fotostaatmasjien:
Bibi se bedankingsrede by die UJ-prys.
Foto-onderhoud met Bibi.
Resensie van haar bundel.
SKAKELS:
Webwerf: www.onsetv.co.za
Facebook: https://www.facebook.com/onsetv/
Twitter: @Onse_Televisie