1 blikkie vis = ’n hele gesinsete
Sit dié vinnige aandete warm met ’n slaai voor en pak oorskiet in die gesin se kosblikke vir ’n voedsame ete. Die gebak vries ook uitstekend. Selfs mense wat nie dol is oor geblikte vis nie, geniet die gereg.
Lewer 4 porsies
4 snye bruin- of volgraanbrood
250 ml (1 k) melk
1 x 425 g-blik sardyne in tamatiesous
1 ui, gekap
1 wortel of murgpampoentjie, grof gerasper
4 groot eiers, geklits
30 ml (2 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie
suurlemoensap en swartpeper na smaak
5 ml (1 t) paprika
60 ml (¼ k) gerasperde kaas
- Voorverhit oond tot 180 °C. Skeur brood in stukkies en plaas in ’n groot mengbak. Giet die melk oor. Laat dit bietjie week en druk met ’n vurk fyn.
- Roer die vis in tamatiesous by en druk fyn. Onthou om die sagte grate in die sardyne deel van die mengsel te maak – dit druk maklik fyn.
- Voeg ui, wortel of murgpampoentjie en eiers by en meng goed deur. Roer pietersielie by en geur met suurlemoensap, swartpeper en die helfte van die paprika.
- Skep in ’n oondbak en strooi kaas en die orige paprika oor. Bak vir 30-40 minute tot goudbruin en gaar. Sit met slaai voor.
Resep aangepas uit Cooking from the heart 1 | Foto met vergunning van Cooking from the heart SA.
Taalfokus
- SARDYNE of SARDIENTJIES? Ken jy die verskil? Sardyne (of pilchards) is ’n effens groter vissie as sardientjies (sardines), maar hulle kom van dieselfde familie.
Beide vissies is bekend daarvoor dat dit propvol voedingswaarde is, veral proteïene en gesonde vette. Het jy geweet dat die fyn graatjies in die vissies ’n uitstekende bron van kalsium is? Eet dit dus gerus, veral in geblikte weergawes van die vissies.
- Sardyne is onlangs aangewys as die gewildste proteïen in SA – selfs hoender is uitgestof! Maak gerus hierdie sardyngebak deel van jou spyskaart hierdie week.