NB-Uitgewers: 10 boeke oor liefde vir Valentynsdag

Tuis 5 Lees dit 5 Boeke 5 NB-Uitgewers: 10 boeke oor liefde vir Valentynsdag
NB Uitgewers

Dis Valentynsmaand en ons vier een van ons grootste liefdes – boeke! Loer gerus na ons keur van NB-Uitgewers se liefdesboeke wat jou hart beslis vinniger sal laat klop. Van liefdesromans tot poësie, daar is iets vir oud en jonk.

Afrikaans.com gee jou ’n voorsmakie van wat jy in elk van hierdie boeke kan verwag …

‘n Droomman vir Carmi

Elize Davies

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 978079818480

Een middag terwyl Carmi Molenaar, ’n eerstejaarstudent op Potchefstroom, diep ingedagte op haar fiets ry, kruis haar pad met dié van Herman Hattingh. Al het hierdie senior regstudent al die eienskappe van ’n droomman, laat Carmi se verantwoordelikhede min tyd of ruimte vir romanse.

Die lewe deel egter links en regs klappe uit, en Herman is elke keer dáár om te help wanneer Carmi hom nodig het. Maar sal hulle kan leer om mekaar te vertrou?

Lees meer …

Christine le Roux Keur 8: Geskenk uit die hemel, Die lente kom weer, Kosbaar soos die lewe

Christine le Roux

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798183031

Christine le Roux Keur 8 bevat drie immergroen liefdesverhale.
In Geskenk uit die hemel leer die suksesvolle sakeman Pieter Louw vir Maja ken nadat hy haar per ongeluk raak ry. Só begin ’n voorlopige verblyfreëling wat tot talle onmoontlike en baie snaakse situasies lei.

In Die lente kom weer moet Frans Fourie aan ’n nuwe sekretaresse gewoond raak. Kristien is ’n uitstekende plaasvervanger, maar hoekom is hy teleurgesteld oor haar koel en onbetrokke houding?

En in Kosbaar soos die lewe bedank Elizabeth Benade haar werk by ’n rekenaarfirma en gaan werk vir die moeilike dokter Richard Nel. Dis nie lank voor Elizabeth betrokke raak by dié dokter en sy seun se lewe nie.

Lees meer …

Helene de Kock Keur 6: ’n Kind vir Vier Oude Vrinde en Volmaakte versnit

Helene de Kock

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798182027

Helene de Kock skryf meesleurende romans, en sy beeld haar karakters met deernis en humor uit.

’n Kind vir Vier Oude Vrinde is ’n liefdesroman wat lees soos ’n speurverhaal. Die legende van die baba wat eeue gelede een nag op die drumpel van die ou opstal gevind is, herleef wanneer die beeldskone erfgenaam, Isabel Verwey, een stormagtige nag wakker word en ’n baba by haar deur kry.

Volmaakte versnit is die verhaal van ’n vrou wat in haar drang om vry te wees die verkeerde keuse gemaak het, ’n keuse wat haar weggeneem het van haar mense. En dan keer sy terug na die wynplaas en vind uit dat ’n krisis mens kan breek óf balans kan bring, die volmaakte versnit tussen vreugde en pyn.

Lees meer …

Hier verlaat ek jou

Miriam Telanie

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798182041

Senobia Arendse, ’n taalversorger van Prins Albert, se toekoms lê en wink waar sy vroegoggend in Bellville op haar nuwe woonstelmaat wag. Palesa word vergesel deur drie dashing jongmanne. En dis veral die selfversekerde DJ, Ayanda Ngubane, met sy breë glimlag, wat haar beïndruk. Maar net wanneer Senobia begin dink haar nuwe lewe is maanskyn en rose, stap die verlede saam met Palesa by die voordeur in. Mondeo Hendricks, haar eerste liefde, is terug asof dit nog altyd in die sterre voorspel is.

Lees meer …

Elisabet se oorlog

Helene de Kock

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798181914

Dis 1938 en Elisabet Uys se onrus oor haar voorgenome huwelik met Johannes Barnard groei saam met die gerugte dat daar dalk ’n tweede Groot Oorlog mag uitbreek. Gepantser met Ouma Liesbet se raad besluit sy kort voor haar troue om die verlowing te verbreek en vrou-alleen na Europa te reis. Sal Elisabet in die oorloggeteisterde Londen vryheid en onvoorwaardelike liefde vind?
Helene de Kock op haar beste.

Lees meer …

Eerste Liefde Omnibus 2

Janie Oosthuysen, Helen Brain

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798182706

Drama, humor . . . en natuurlik liefde en liefdesdriehoeke. In Ouens is nes ekstra bagasie moet Barbara die vakansie by die Turkana-meer spandeer waar haar pa opgrawings doen en dokumentêre films maak. In Liefde is nie tjoklits nie is Tamara vir die eerste keer in haar lewe smoorverlief en ’n makeover is haar enigste hoop. In Soene op’n Suzuki het Lizanne skaars die supervatterige Gerhard afgesê of haar ma pers haar af om met hom op te maak.

Lees meer …

Die verleiding van Eva de Winter

Louis Krüger

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798182720

Wanneer Josua een middag vir Eva de Winter in ’n Rotterdamse koffiewinkel ontmoet, voel dit vir hom onwerklik dat ’n begaafde regsgeleerde soos sy in ’n verhouding sou belangstel. Maar sy getuienis vroeër in ’n hofsitting interesseer haar – dit lei tot verdere afsprake, en algaande word hulle vriende. Dis eers ná hul huwelik voltrek is dat Josua begin begryp daar is iets onpeilbaars aan Eva. Hoeveel raaisels het sy van hom weerhou, en wat hy slegs d.m.v. obskure soekenjins oor haar kon naspeur?

Lees meer …

Liefde en verset

André le Roux

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798184861

André le Roux se tweede digbundel verskyn 47 jaar ná sy debuut, Struisbaai-blues, wat kort ná publikasie in 1977 verbied is. Nou skryf hy met selfs skerper eerlikheid oor die liefde, verlange en verwondering, met ‘n aweregse blik op die ouderdom. Met bytende humor en selfspot verken hy die Suid-Afrikaanse werklikheid, hoewel sy verse spreek van universele menslikheid en deernis. Nie sonder verset nie.

Lees meer …

Hans kry troukoors

Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie

ISBN: 9780795802621

Hans het geen begeerte om ná soveel jare alleen weer vrou te vat nie. Maar alles verander toe ’n nuwe inwoner, Liefiediefie, in Huis Madeliefie land. Met haar Marilyn Monroe-gesiggie en Jane Fonda-lyfie veroorsaak sy ’n heidense herrie onder die mans en roer sy iets in Hans se gemoed los. Nog ’n nuwe inkommer, Janneman Vermaak, ding om haar hart mee. Boonop wil hy Hans as leidsman in die tehuis onttroon. Maar iets aan dié opperse snoeshaan en die talentkompetisies wat hy reël is nie pluis nie.

Lees meer …

Foto’s en fairy lights

An-Mari do Carmo

Uitgewer: Human & Rousseau

ISBN: 9780798184458

Elzandri, ’n holderstebolder plaaskind uit ’n groot, hegte familie, het ses maande om aan haar pa te bewys sy kan haar eie toekomsbesluite neem voor hy haar dwing om ná
matriek universiteit toe te gaan. Wanneer haar oudste niggie verloof raak en Elzandri vra om die troufoto’s te neem, is dit die perfekte geleentheid om haar geliefde stokperdjie in ’n besigheid te omskep. Daar’s net een probleem: sy moet die knorrige buurseun vra om haar te help.

Lees meer …

by | Feb 13, 2025 | Boeke, Lees dit

Deel hierdie plasing