Die feesmaal is gedek vir vanjaar se Franschhoek Literêre Fees.
Die Franschhoek Literêre Fees (FLF) vind vanaf Vrydag 19 tot Sondag 21 Mei in Franschhoek plaas. ʼn Kenmerk van hierdie fees is die verskeidenheid internasionale en Pan-Afrikaanse skrywers wat elke jaar aan hierdie fees deelneem en vanjaar is geen uitsondering nie. Die FLF is in 2007 deur ʼn groep literêre entoesiaste en vrywilligers as ʼn niewinsgewende organisasie gestig. ʼn Paar Afrikaanse skrywers en kunstenaars maak ook ʼn draai by hierdie drie dae lange fees in Franschhoek.
Vir krimi-entoesiaste is die Bloedhonde-sessie op 19 Mei ʼn móét. Twee ervare misdaadskrywers, Rudi van Rensburg en Irma Venter gaan aan hierdie lewendige bespreking oor misdaadfiksie deelneem en meer oor gunstelingkarakters soos Kassie Kasselman, Carl Nester en Ami Prinsloo deel. Hul gesprek met die resensent Jonathan Amid vind tussen 16:00 en 17:00 plaas.
In Sheila Cussons 100 op 20 Mei tussen 13:00 en 14:00 word daar gekyk na die digkuns van Sheila Cussons. Adriaan Potgieter gesels in hierdie sessie met Amanda Botha oor sy boek In die Klipknoets van Haar Vuis, ʼn Jungiaanse perspektief op Sheila se lewe as kunstenaar en digter. Die boek het in 2022 verskyn.
Die skrywer en digter Antjie Krog het ʼn hele paar optredes by vanjaar se fees. Sy sal optree in die sessie Verses and Reverses op 20 Mei tussen 10:00 en 11:00. Sy gesels oor die eerste Engelse vertaling van haar gedigte in agt jaar. Dit verskyn as die bundel Pillage. Antjie sal ook in Afrikaans gesels in Words Fly Under Night Skies wat op 20 Mei tussen 18:30 en 20:00 aangebied word.
Herman Lategan, skrywer van Hoerkind en Melinda Ferguson wat Bamboozled geskryf het, gesels saam in die sessie Full Disclosure wat op 19 Mei plaasvind. In hierdie gesprek fokus hulle op outobiografiese vertellings waarin alles verklap moet word.
Tydens vanjaar se FLF sal daar ook geleentheid wees om vir Nataniël in aksie te sien in sy produksie Nataniël in Concert. Hy tree op saam met die bekende Steinway-pianis Charl du Plessis en die optrede vind plaas op 19 Mei van 19:00 tot 20:30 by die NG Kerk. In die sessie Speak to your spark gesels Diane de Beer met Nataniël. Dit vind op 19 Mei plaas.
Vir die volledige program van vanjaar se fees, klik hier.