Wêreldmusiekdag – Afrikaanse musikante op wêreldverhoë

Musiek is die een ding wat brûe oor enige grens kan bou. Musiek vat aan jou hart en speel met jou emosies. Musiek verander lewens en bring mense bymekaar. Indien jy enigsins twyfel oor die uitwerking wat musiek op mense kan hê, gaan kyk gerus na enige Andre Rieu DVD en hou die emosies op die gesigte in die skare dop.

In 1982 het die Franse minister van kultuur voorgestel dat daar ʼn spesiale dag opsy gesit word waarop musiek gevier kan word. Hierdie eerste Fête de la Musique is in 1982 in Parys gehou, maar die idee om op 21 Junie elke jaar Wêreldmusiekdag te vier, het vinnig oorgespoel na meer as 120 lande.

Op Wêreldmusiekdag word mense aangemoedig om musiek te maak in parke en enige openbare plek. Daar is min dinge wat soveel vreugde verskaf soos om saam met ander musiek te maak of na goeie musiek te luister. Op Wêreldmusiekdag val ons fokus graag op Afrikaanssprekendes wat as klassieke musikante op wêreldverhoë uitgestyg het. Alita Steenkamp laat val die fokus op ʼn paar van hulle.

Charl du Plessis speel Mozart

Baie musikante word gebore in huise waar een of albei ouers ook musikaal is. Die pianis Charl du Plessis vertel egter hy kom uit ʼn totaal onmusikale gesin. Tog was daar ʼn pragtige Steinway-klavier in die huis, eintlik net ʼn meubelstuk, maar dit het hom van kleins af gefassineer. Na skool het Charl musiek aan die Universiteit van Pretoria studeer onder die leermeester professor Joseph Stanford. Hy het sy studies voortgesit aan die Universiteit van North Texas en aan die Zürich Musiek-konservatorium. In 2010 het hy die lewenslange titel van Steinway-kunstenaar ontvang. Hierdie prestasie is merkwaardig, want hy het daarmee die jongste pianis in Afrika geword om met hierdie titel vereer te word. Alhoewel Charl ʼn briljante klassieke pianis is, trek hy nie sy neus op vir ander musiekgenres soos jazz en popmusiek nie. Hy het ʼn jazz-ensemble, die Charl du Plessis-trio wat vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar met ʼn SAMA-prys vereer is vir die beste klassieke/instrumentale album. Charl is ook vir jare al die pianis wat Nataniël in sy konserte begelei. Na sy benoeming as Steinway-kunstenaar, het Charl al hoe meer gefokus op ʼn internasionale loopbaan, beide as klassieke en jazz-pianis. Hy het al in van die bekendste konsertsale soos die Royal Albert Hall, die Berliner Philharmonie en die Sjanghai Oriental Arts Centre opgetree. Hy was ook die eerste pianis om ooit bo-op Tafelberg ʼn uitvoering te gee, op Wêreldklavierdag in 2017.  In konserttoere na Amerika, Europa en die Verre Ooste is sy gewildheid ongekend en word hy gereeld beskryf as een van die mees dinamiese en invloedrykste musici van sy tyd. Hy kan met trots die titel as Suid-Afrika se eie Piano Man dra!

‘n De Kat-onderhoud met Charl du Plessis

Petronel Malan

Petronel Malan voor die Staatsoperahuis in Wene.

Al dink sy self dat daar te maklik die etiket van wonderkind om iemand se nek gehang word, kan ʼn mens die media nie kwalik neem dat hulle Petronel Malan as ʼn wonderkind geëtiketteer het nie. Sy het haar solodebuut as pianis gemaak toe sy maar net 10 jaar oud was en saam met die Johannesburgse Simfonieorkes opgetree het. Op 12 het sy ʼn goue medalje gewen in die ATKV-Prelude Kompetisie en op veertien het sy haar vlerke wyer gesprei en haar eerste internasionale sukses behaal en ʼn musiekwedstryd in Sicilië, Italië gewen. Petronel was 17 toe sy as wenner aangewys is in die SAUK se musiekpryswedstryd vir jong Suid-Afrikaanse pianiste en orreliste. Voordat sy kon deelneem moes sy eers toestemming van die destydse Direkteur-generaal van die SAUK ontvang het omdat die reëls bepaal het dat net persone tussen 18 en 32 mag deelneem. Petronel het aan Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria gematrikuleer en na skool na Amerika vertrek om daar musiek aan die Staatsuniversiteit van Michigan te studeer. Sy het beide haar meestersgraad en doktorsgraad in Musiek verwerf aan die Universiteit van North Texas se College of Music. Sedert haar Europese debuut in Rome in 1988 tree sy in groot konsertsale regoor die wêreld op. Afgesien van die baie konserte waarin sy speel, bied sy ook meesterklasse aan. Petronel maak seker dat sy kontak met haar familie in Suid-Afrika hou en is elke jaar vir een of twee maande in die land. Dan kan sy heerlik Afrikaans praat.

‘n Bravo-ondehoud met die Malansusters

Mimi Coertse

Sy dra met reg die titel van Onse Mimi. Mimi Coertse was die eerste Suid-Afrikaanse operasanger om as primadonna in die Weense Staatsopera aangestel te word. Sy was bloot 21 jaar oud toe sy haar vlerke gesprei het om haar sangloopbaan op die Europese verhoë te begin. Sy het vir agtien maande aan die Weense Akademie musiek studeer voordat sy haar skitterende debuut in die Weense Staatsopera gemaak het in die rol wat sy nog talle kere sou vertolk: Die koningin van die nag in Mozart se Towerfluit. Sy was 17 jaar lank die primadonna in die Weense Staatsopera. In die tydperk het sy ook wyd en syd saam met die geselskap getoer en op operaverhoë elders in Europa gesing. Een van haar waardevolle bydraes tot Afrikaans was die feit dat sy die musiek van Suid-Afrikaanse komponiste in Europa bekendgestel het. Deel van die Lieder-program wat sy gereeld aangebied het, was Arnold van Wyk se Vier Weemoedige Liedjies, Pieter de Villiers se Boerneefliedjies en dan die immergroen, O Boereplaas en S Le Roux-Marais se Heimwee. Op die hoogtepunt van haar loopbaan, toe Mimi slegs 41 jaar oud was, het sy na Suid-Afrika teruggekeer. Nou was dit die beurt van Suid-Afrikaanse gehore om deur Onse Mimi bekoor te word. Mimi het ook ʼn besondere rol gespeel in die ontwikkeling van jong operastemme uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Sy het op 12 Junie haar 86ste verjaarsdag gevier.

Johan Botha

Nie net vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele wêreld se operaliefhebbers was die dood van die tenoor Johan Botha, op 8 September 2016, ʼn reuseverlies. Daar was nog soveel jare waarin hy kon sing, want Johan is op die ouderdom van 51 aan kanker dood. Johan, gebore in Rustenburg, het op skool in die NG Kerkkoor op Rustenburg gesing. Tydens sy dienspligjare was hy lid van die Lugmagkoor. Johan het as basbariton aan die Technikon Pretoria Operaskool begin studeer, maar gou agtergekom dat hy eintlik ʼn tenoor is. Hy het in 1990 na Europa vertrek om daar ʼn loopbaan te maak. In dieselfde jaar is hy deur die koormeester by die Bayreuth Musiekfees ontdek. Die het hom sonder meer gevra om by hierdie koor aan te sluit. Die groot deurbraak het gekom toe hy aan die einde van 1990 gevra is om die rol van Pinkerton in Puccini se Madam Butterfly te vertolk wat in Parys opgevoer is. Johan was onmiddellik besonder gewild en binne twee weke het hy kontrakte gesluit met die Royal Operahuis in Covent Garden, die Metropolitan Operahuis in New York, die Weense Staatsopera en die operahuis in Berlyn, Duitsland. Dit was sy veelsydige stem wat aan hom ʼn verskeidenheid rolle besorg het. Hy het ook nie gehuiwer om uitdagende rolle soos die van Otello in Verdi se gelyknamige opera, Calaf in Puccini se Turandot en Radamas in Verdi se Aida aan te pak nie. Dié musiek het hy met die grootste gemak gesing en wêreldgehore aan sy voete gehad. Johan het altyd sy sukses toegeskryf aan sy Skepper wat hom met die besondere gawe geseën het. Met sy dood is ʼn swart vlag halfmas by die Staatsoperahuis in Wene gehys.

Emmarentia Scheepers

Daar waar Heidelberg hang aan die Suikerbosrand, AG Visser se woorde, het die klein Emmarentia Scheepers daarvan gedroom om eendag ʼn dokter te word. Gelukkig het haar ma al kleintyd gesorg dat Emma klavier- en vioollesse neem en sy het soms op plaaslike konserte gesing. Op 14-jarige ouderdom het sy in Johannesburg begin sanglesse neem by Ester Mentz wat dadelik vir haar gesê het dat sy “goud in die keel het”. Van toe af het Emma haar op sang toegespits. In 1948, kort na die Tweede Wêreldoorlog, het sy na Londen vertrek om aan die Nasionale Operaskool te studeer. In die tyd het sy vir Maria Callas hoor sing in die Royal Operahuis in Covent Garden en dadelik besef dat sy op die Italiaanse manier wil leer sing. Sy het in die suide van Italië, in Catania, by meester Santonocito aangeklop om hulp. Uiteindelik het sy in 1967 in La Scala gedebuteer in Nabucco van Verdi. Emmarentia Scheepers het mettertyd Emma Renzi geword en ʼn wonderlike, suksesvolle loopbaan in Italië gehad. Sy het in 1979 teruggekeer na Suid-Afrika om nader aan haar bejaarde ouers te wees. In Suid-Afrika het ʼn tweede loopbaan gevolg. Eers as direkteur van Wits se musiekskool, toe as lektrise aan die Pretoriase Technikon Operaskool en toe weer terug na Wits as senior lektor. Emma het oor die jare verskeie toekennings gewen: die Orde van Verdienstelikheid van die staatspresident, die Adelaide-Ristori prys van Italië, ʼn eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit, ʼn eerbewys van die ATKV vir haar lewenslange bydrae tot musiek en ʼn eerbewys van die Italiaanse regering. Op die ouderdom van 90 jaar het sy steeds opleiding aan jong operasangers gegee. Sy het op 8 April vanjaar haar 92ste verjaarsdag gevier.