fbpx

Waarna kan Afrikaanse musiekliefhebbers in 2020 uitsien?

Deur Pieter Cloete

13 Januarie 2020

Voor ons die nuwe jaar behoorlik ingaan, kyk Pieter Cloete terug op wat 2019 vir Afrikaanse musiek ingehou het en waarna ons vanjaar kan uitsien.

Samewerking

Samewerking tussen kunstenaars is glad nie ’n nuwe tendens nie en in 2019 was dit ook nie anders nie.

Kunstenaars soos Elvis Blue en Theuns Jordaan het saam die titelsnit van Elvis (Jan Hoogendyk) se album, “Jou huis”, opgeneem.

Brendan Peyper, Refentse, Elandré en Christia Visser het ook saamgewerk (onder die sambreel van Select-musiek) en “Ons staan saam” opgeneem.

‘n Liedjie van Robbie Wessels, “Staan saam”, wat aanvanklik saam met Steve Hofmeyr opgeneem is, maar nooit vrygestel is nie, is later weer saam met Appel (Christoph Kotzé) opgeneem.

Nadat sy The Voice SA 2019 gewen het, het Tasché ‘n paar liedjies saam met Francois van Coke, wat ook haar mentor was, opgeneem.

In die alternatiewe genre het Francois van Coke ook saam met Danie du Toit van Spoegwolf gewerk. Hier is hul duet “Dagdrome in suburbia”.

Waar verskillende genres in Afrikaans mekaar gevind het

In 2015 was Coenie de Villiers die vervaardiger van ’n reeks programme op kykNET genaamd, “Vat die rap”. Die doel van die reeks was om kletsrym en Afrikaanse liedjies wat reeds lankal volksbesit is, saam te bring. Bekende kletsrymers, soos onder andere HemelBesem, YOMA, Jaco van der Merwe (Bittereinder) en VITO, het die geleentheid gehad om saam met legendes in die Afrikaanse musiekbedryf te werk.

In 2017 stel die groep Anders (Wynand & Lindie Delport) ’n enkelsnit bekend saam met die kletsrymer HemelBesem (Simon Witbooi) – “Die tyd is nou” – weliswaar nie die eerste keer dat verskillende genres in Afrikaans mekaar ontmoet het nie. Klik hier

In 2019 was dit asof die Afrikaanse mark weer reg was vir iets nuuts – en veral as dit kom by die samewerking van Afrikaanse kunstenaars vanuit verskillende genres. Die grootste sukses was die samewerking tussen Ricus Nel en Snotkop (Francois Henning) met hul lied “Boerepompie”. Die video is meer as vyf miljoen keer op Youtube gekyk en die enkelsnit het ook vroeg in 2020 platinumstatus bereik. Om platinumstatus te bereik, beteken dit die enkelsnit moes sedert die bekendstelling verkope van 30 000 aanlyn oorskry het, of meer as 3.6 miljoen keer gestroom gewees het.

Ander kunstenaars wat in 2019 tussen genres saamgewerk het, was onder andere:

Janie Bay & Early B – “Die heelal”

Elvis Blue & Snotkop – “Langpad alleenpad”

LuBoy ft V.I.T.O – “Hoekom kyk jy so na my?”

Jan Bloukaas ft Early B & Biggy – “Dans”

Waarna kan Afrikaanse musiekliefhebbers in 2020 uitsien?

Die resep van verskillende genres wat saamwerk sal moontlik weer vanjaar ’n paar treffers oplewer. Alternatiewe musiek (Spoegwolf, Francois van Coke et al) sal moontlik ook meer aandag geniet. Kletsrym se gewildheid oor die afgelope paar jaar sal beslis net toeneem. Of dit nou Biggy, V.I.T.O, Early B, HemelBesem of YOMA is, wie weet. Die genre het die afgelope paar jaar beslis meer aanvaarbaar as ’n kommersiële model geword. Wie sou kon dink dat Early B so ’n groot kommersiële sukses met sy album sou behaal.

Digitaal gaan natuurlik weer seëvier en hopelik sal meer mense musiek wettig begin stroom. Coleske Artists het in 2019 die positiewe stap geneem om ook hulle kunstenaars op Apple Music te lys, wat beteken dat alle platemaatskappye se kunstenaars nou ’n oop veld het met die stroom van musiek en dit is natuurlik uiters voordelig vir die luisteraar.

Met die dat Die Ventertjies en Kosie Beukes by Universal Music geteken is, glo ek ons gaan vanjaar dalk ’n paar duette in Afrikaans sien. Die Ventertjies het reeds in 2019 ’n Engelse liedjie saam met Fatman opgeneem. Ek voorsien dat daar moontlik ’n paar Afrikaanse enkelsnitte saam met ander Afrikaanse kunstenaars beplan word.

Dalk is 2020 die jaar waar legendes weer ’n liedjie of twee bekendstel. Miskien ’n nuwe enkelsnit van Coenie de Villiers en wie weet, dalk iets van Danie Niehaus, wat in 2007 laas ’n album bekendgestel het. Dit sal voorwaar wonderlik wees!

Afrikaanse musiek is op ’n goeie plek en 2020 gaan ’n goeie jaar wees vir brûe bou oor verskillende Afrikaanse genres heen.

Dankie aan elke Afrikaanse kunstenaar wat woeker en werk om kwaliteit musiek in Afrikaans beskikbaar te stel. Musiektaal is #onstaal

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.