Vuur en Vlam!

Dit is tyd vir Innibos 2019

Op soek na ’n bietjie hitte die winter en vuur in jou pype? Dan moet jy pak en die pad Nelspruit toe aanpak. Vanaf 26 tot 29 Junie word daar weer behoorlik feesgevier in die Laeveld. Vanjaar se Innibos beloof soos altyd om nie teleur te stel nie. Hierdie fees  spog nie verniet reeds met vier Fiëstas vir gewildste kunstefees nie.

Vanjaar se tema is Vuur en Vlam en soos elke jaar is daar baie om te beleef en kan feesgangers kies uit musiek, toneel, crawls, boeke en gesprekke, visuele kuns, ’n filmfees en nog vele meer. Daar is beslis iets vir almal – of jy nou net hou van sit en kuier met ’n lekker lafenis of daarop uit is om jou kultuurinspuiting te kry – Innibos het van alles en nog meer.

Afrikaans.com het na die program geloer en die volgende het ons nuuskierigheid geprikkel, maar glo ons as ons sê daar is nog baie meer op die spyskaart:

Musiek

Musiek en Liriek – 40 jaar later – met onder andere Anton Goosen, Coenie de Villiers en Jannie du Toit. Dié beweging het die weg gebaan vir die bevryding van Afrikaans en was deels ’n teenreaksie teen vertalings van oorsese spookasemtreffers. Veertig jaar later is  daardie Afrikaanse musiek uit eie bodem steeds tydloos.

Die musiekblyspel, The Buddy Holly Story. Dit vertel die storie van Buddy sedert sy eerste optredes as ’n country-sanger tot “die dag wat die musiek gesterf het” – na die tragiese vliegongeluk waarin Buddy gesterf het

Toneel

Nagskofkliek – komiese drama uit die pen van Retief Scholtz – met Albert Pretorius en Melt Sieberhagen. Kortliks: Hans Gouws is ’n veiligheidswag en spandeer sy agtste Paasnaweek in ’n ry aan diens. Alleen. Maar alleen pla hom nie. Dan verskyn Man … Nagskofkliek probeer verstaan hoe dit moet wees om ’n koppie tee te drink saam met die weergawe van jouself wat jy nog altyd gedink het jy wil wees en wat gebeur as jy nie meer vir jouself kan jok nie.

Die Sjokoladeshow  – ’n komiese drama met Lizz Meiring en Jak de Priester. ’n Sensoriese fees van daardie donker, soete verleiding. ’n Keur van tekste deur gevestigde en minder bekende skrywers is verwerk in ’n produksie wat die gehoor op reis sal neem deur al die soet en bitter aspekte van sjokolade.  ’n Produksie waar sjokolade-bedekte verleiding, liefde, wraak, verslawing, moord en komedie voorgesit word om al jou sintuie te betrek.

Haal Asem – ’n drama met Ira Blanckenberg.  Na die dood van haar seun, Kieran, probeer hierdie ma (Ira) sin maak van haar onbegryplike verlies. Van die eerste oomblik na Kieran se dood begin Ira op stukkies paper skribbel en vul daarna dagboek an dagboek, alles in ’n poging om te besin en ook om Kieran se laaste woorde aan haar: “haal Asem” te eer. ’n Ware verhaal oor verlies, rou en die siel se onvermydelike reis.

Schalkie en Cassie hou konsert – stand up-komedie met Schalk Bezuidenhout en Casper de Vries. Kom ervaar hierdie twee puik komediante met elkeen se beste materiaal – apart en saam op die verhoog.

Koekeloer – klug/komedie met Gavin van den Berg, Ben Pienaar, Roche van Blerk en ander. ’n Eg Suid-Afrikaanse klug uit die pen van Braam van der Vyver. Die komedie speel af in ’n woonstel in Stellenbosch tydens die finale rondte van die Koekedoorkompetisie. Die twee finaliste, Marie Coleské, ’n oujongnooi van Koekenaap en Marié Kok, ’n lingerie-model van Ruimsig, moet sake in die finaal uitspook.

Die road trip – ’n komedie met Waldemar Schultz en Brendon Daniels, oftewel Jaco en Belarus. Die twee is op ’n road trip om weg te kom van alles. Dinge rafel egter vinnig uit as die twee hulle verdwene jeug probeer herwin met skreeusnaakse gevolge.

Sê groete vir Ma – ’n drama met Hannes van Wyk. Die drama ondersoek die band tussen ’n ma en haar kind, hulle lewensreis saam, die pyn en onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is. ’n Knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge waarmee die meeste mense hul kan vereenselwig.

Donkie – ’n komedie uit die pen van Dana Snyman met Frank Opperman as mnr. Barry Swart, skoolhoof van ’n voormalige model C-skool. Mnr. Swart in ’n man onder druk en oorweeg dit om te bedank, maar dan besluit hy om sy kant van die saak te stel.

Deloris se dagboek met Karien van Niekerk as Deloris Davidson van die Cape Flats, Delorez  Duvenhage van Waterkloof en Deloris de Lange van Hoopstad. Kopluise, vloerstuipe, kosblik pak en eksamens, vrouwees … alledaagse uitdagings vir ’n ma. Deloris se Dagboek neem jou op ’n reis deur die lewens van drie uiteenlopende dames se daaglikse opwinding.

Innibos-crawls:

Maak jou reg vir komedie en boeke. Die komedie-crawl beloof om groot pret te wees. Feesgangers klim op ’n bus en ry dan saam met die toerleier na Ingwenyama Lodge waar daar vier aandoenplekke is waar daar saam met die pret en plesier, drinkgoed aangebied word. Vergeet al jou bekommernisse en lag ’n slag.

Die boeke-crawl toer weer agter woord en musiek aan na Kaapsehoop en vier die krag van die woord.

ATKV-Boeke-oase bied kos vir die siel. Hier kan jy luister na boekgesprekke, boeke koop by die boekwinkel of sommer net lekker sit en ontspan in die koffiewinkel.

Innibos se Storie-krôl

In 2017 het haar droom van ʼn storiedorp waar kleuters kan sit en luister na verskillende stories, midde in die besige Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, waar geword. In 2017 het sy dit in samewerking met ander kleuterskole in Nelspruit aangepak, maar vanaf 2018 reël sy alles self. Sy maak wel van die hulp van kundiges wat kreatief is en net so entoesiasties oor die aangeleentheid voel, gebruik. Vanjaar sal Eugenè Wait en Lené Vosloo twee van die storiestasies beman. Lees meer hier.

Filmfees:

kykNET se Bosbioskoop-program bied vollengte flieks asook kortfilms. Dit is ’n gratis venue en fliekgangers kan uitsien na flieks soos Kanarie, Ellen: Dis storie van Ellen Pakkies, Stropers, Dominee Tienie en Gat in die Muur. Kortfilms sluit in: Die leeftyd van ’n orgidee, Grys, ’n Sterrejag, Kromkieriefontein, Cowboy Dan, Die ongenooides, Fluit-fluit,  en nog vele ander.

Vir die volledige program en koste asook om meer te wete te kom oor die Innibos-fees, klik hier.