Vrystaat Kunstefees: 8 – 14 Julie 2018 – ’n Fees wat jou asem sal wegslaan!

Foto links: Maricelle Botha, Bloemfontein Courant, foto regs: Erwin Maas

“Die Vrystaat Kunstefees, in wese ’n Afrikaanse fees, is besig om hom as een van die belangrikste internasionale kunstefeeste op die Afrika-vasteland te vestig.” – Dr. Ricardo Peach, Feesdirekteur

Vandaar vanjaar se tema: Migrasie.  Vanaf 8 tot 14 Julie gaan dit weer gons op die Kovsiekampus in Bloemfontein. Die Vrystaat Kunstefees is die besoek werd, afgesien van die winterweer, want hier kan feesgangers uitsien na die “beste toneel, musiek, visuele kuns, rolprente, performance-kuns, lewende kuns, eksperimentele kuns, kunsvlyt en koskuns in die land”.

Vanjaar is daar meer as 40 internasionale skrywers, digters en kultuurpraktisyns uit talle wêrelddele betrokke by die fees. Dit sal ook die eerste keer wees wat daar ’n uitruilprogram aangebied sal word, die Pan-Afrika Kreatiewe Uitruilprogram (PACE) wat deur die borgskap van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief  (NATi) moontlik gemaak is. Drie dae lank gaan daar gepraat word oor die ontwikkeling van Afrikakultuur. Die Projek vir Innovasie en Kunsvormontwikkeling (PIKO) en NATi  help ook om ko-produksies van Holland, België, Australië en Singapoer aan te bied.

Links; Wie’s jou pappa – lees meer oor die produksie hier. Regs: DEUR-nis een-tot-een teater – lees meer oor die ervaring hier.

Die Vrynge: 7 – 14 Julie 2018

Nou in sy derde jaar, bars die Vrynge vanjaar uit sy nate met opkomende kunstenaars wat hulle talente met gehore gaan deel. Hier word jy meegevoer na die toekoms van kuns en kultuur en is daar talle produksies en werksessies asook ateljeetoere en kortflieks om na uit te sien.

Vrynge-koördineerder: Michael Garbett Michael.Garbett@Volksblad.com