fbpx

16 Oktober 2019

Vaaldriehoek-duo stel tweede enkelsnit vry na Aardklop

Die akoestiese duo, Victor Bravo, het vanjaar vir die eerste keer ’n draai op Aardklop se Ontprop-verhoog gemaak en beskou dit as een van die groot hoogtepunte van hulle loopbaan sover. Skemer, die groep se tweede enkelsnit, is pas vrygestel. Annelien van Basten vertel meer oor hulle opwindende musiekreis tot dusver.

’n Gedeelde liefde en passie vir betekenisvolle musiek het gelei tot die ontstaan Victor Bravo, wat vanaf 2018 saam by kuierplekke in Gauteng en omliggende areas optree.

‘n Unieke styl

Die groep, wat bestaan uit Weco van Basten (voorsanger, ritmekitaar en liedjieskrywer) en Jopie Pienaar (hoofkitaarspeler en sanger) het ’n baie unieke styl wat elemente van alternatiewe-, kontemporêre-, rock-, pop-, folk- en bluesklanke soomloos laat saamsmelt om ’n vars en nuwe kontemporêre aanslag na die Suid-Afrikaanse musiekmark te bring en waarby gehore van alle ouderdomme aanklank vind.

“Hierdie projek is so twee jaar terug gebore as ’n konsep in my kop. Die idee was om ’n platform te skep uitsluitlik vir musiek, sonder die ander sideshows. Ons familievan se eerste letters was die inspirasie agter die skep van die groep se naam,” verduidelik Weco, wat, ten spyte van die feit dat hy al vir baie jare musiek maak en in die Drakensberg Seunskoor was, eers op ses-en-dertig die dapper stap geneem het om sy musiekdrome waar te maak. “Baie keer in die lewe gebeur dit so dat jou plan B, as gevolg van stabiliteit en verantwoordelikhede, jou plan A word. Met my voorlaaste verjaardag, het ek toe besluit om my oorspronklike droom ’n kans te gee,” sê hy.

Jopie, wat gedurende die week ’n instrukteur by CrossFit Razmig in Moreleta Park is, het min of meer in dieselfde tyd besluit dat hy graag wil begin optree. Toe hy Weco hieroor nader, was sy voorstel toe dat hulle hierdie uitdaging saam aanpak.

“Ons is familie en het nog altyd saam om die braaivleisvuur musiek gemaak. Op ’n manier was ek dus altyd deel van hierdie projek. Nou is dit net amptelik,” verklap Jopie, wat ook die hoofrol in die groep se eerste musiekvideo speel.

“Goeie musiek moet jou hart raak en dit is wat ons anders maak. Die liedjies wat ons kies, is dieper en ons pas die klank aan om ’n meer treffende en emosionele boodskap deur te gee,” meen die talentvolle kitaarspeler.

Breakway Line, die musiekpaar se eerste Afrikaanse enkelsnit (vervaardig deur Renier Henning Music), is in November 2018 uitgereik. Dit is uit die staanspoor uit goed ontvang en het vir hulle ’n onderhoud losgeslaan op Marius Dreyer en Zachelle Howard se ontbytprogram – Morning Mix@6 op 90.6 FM Stereo, Cousin Rick se program op IFM, asook Francois Deysel se program op FM Stereo.

‘n Wenresep

Die enkelsnit het ook die nommer 1-posisie bekleë op Springbok Internet Radio se Top 20 vir twaalf agtereenvolgende weke en het vir twee-en-dertig weke onder die top 10 gebly.

Breakway Line se musiekvideo is in April 2019 vrygestel en is deur Dehan Janse van Rensburg verfilm. Buiten vir die mooi storie en pragtige agtergrond van elke toneel, is die video besonders spesiaal omdat dit geskiet is as deel van een van Troukoors-tydskrif se amptelike gestileerde fotosessies vir die November 2019-uitgawe wat binnekort op die rak is.

Kyk hier …

Nou is die twee terug in die kollig met hulle splinternuwe vrystelling, Skemer.

Hierdie emosiebelaaide, alternatiewe kontemporêre snit, wat ook deur Renier Henning Music vervaardig is, is oorspronklik geskryf as die temalied van ’n rolprentdraaiboek waaraan Weco en sy vrou besig is om te werk. Alhoewel dié projek nog ver van klaar af is, het die duo gevoel dat die liedjie sterk genoeg is om op sy eie te staan, omdat dit reeds ’n groot gunsteling by hulle lewendige konserte is. Die ateljee-opname sluit ook die werk van die talentvolle baskitaarspeler, Janes Blomerus, en die bekende dromspeler, Bruce Wallace, in.

Oor die betekenis agter die lied, sê Weco: “Skemer gaan oor daardie rou tydperk, net nadat jy iemand verloor het, tussen-in wanneer jy nog vasklou aan die skadu’s van herinneringe voordat dit finaal in die donker verdwyn.”

Die snit maak ook deel uit van die groep se eerste onafhanklike kortspeelplaat (EP), wat ’n mengsel van ses oorspronklike snitte – die twee radiogeredigeerde weergawes en vier eie verwerkings – vervat.

Oor hul musiek …

Victor Bravo wil hê dat hulle musiek moet wees wat ookal die luisteraar nodig het dit moet wees op daardie spesifieke oomblik wat hulle dit hoor. “Dit moet jet fuel wees vir die ouens wat wil kuier en dit geniet, maar dit moet ook ’n sagte vertroosting wees vir enigiemand wat op daardie oomblik ’n skouer soek om op te huil,” sê Weco.

Wat begin het as ’n Nuwejaarsvoorneme om musiek te maak ter wille van die passie en nalatenskap daarvan, het uitgedraai in ’n kitssuksesverhaal wat die groeplede se wildste drome oortref het.

Skemer kan afgelaai word op iTunes, Spotify, Google Play, Apple Music, Amazon Music, iHeart Radio, SoundCloud en ander aanlyn platforms.

Volg hulle op Facebook, Twitter en Instagram by @VictorBravoMusic en stuur ’n e-pos na victorbravomusic@realsounds.co.za vir besprekings en navrae.

Afrikaans.com-musiek

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.