US Woordfees 2019:

’n Fees van leefstyl, kultuur en vermaak – 1 tot 10 Maart.

“Die Woordfees is 20 jaar jonk en ons glo ons program weerspieël die bruising en drif wat pas by 20. Dis ’n program wat kanse waag, die eerste tree gee in die rigting van ’n Fringe-program, met ’n aanbod wat werklik die nette wyd gooi.” – Saartjie Botha, Direkteur: US Woordfees en WOW

Die US Woordfees is die plek om skouers te skuur met skrywers en akteurs, te deel in die debat, jou ore met musiek te streel, jou siel te verkwik met uitstekende kuns en jou in topgehalte toneel en talent te verlustig.  Vanjaar se program bied iets vir almal. Daar is “drama, ligte en klassieke musiek, diskoerse en boekbesprekings tot ’n filmfees, visuele kuns en ’n smörgásbord van leefstylaanbiedings.”  Dan is daar ook ’n kinderfees en die Woorde Open Wêrelde- skrywersfees, woordfeeskursusse en diskoerse wat jou beslis aan die dink en praat gaan kry.

Met 497 aanbiedings om uit te kies, gaan dit dus moeilik wees om te besluit wat om by te woon en wat om te los, maar raadpleeg gerus die volledige program. Afrikaans.com hou van die volgende:

HUISHOU: Twee wit vroue wil ’n swart kind aanneem. Die jonger een beleef ’n identiteitskrisis in die soeke na haar wortels en Afrikaner-erfenis. Die ouer vrou wil sorgvuldig ’n huis opbou en vol maak. Maar wat beteken dit as die jonger vrou nie daar tuis voel nie? Is hul vol huishouding nou eintlik leeg?

TOUTJIES & FERREIRA: Al ooit gewonder wat gebeur op die verhoog in die uur voor ’n vertoning by ’n kunstefees begin? Die antwoord is ongelóóflik baie. Kom benut ’n seldsame kans om hierdie gekke, snaakse, spanningsvolle uur met akteurs en tegnici te beleef. Jy gaan lag en dan gaan jy minder lag in dié produksie wat as komedie wegspring en by knop in die keel eindig. As jou kinders emigreer is die vooruitsig van Skype op ’n Sondag met kleinkinders wat Engels praat, ’n skrale troos. Spesiaal vir diesulkes en ander wat sit met ’n gat in die hart; ook vir feesfoendies, en almal wat nog nooit agter die skerms in ’n teater was nie.

KLIPPE WAT VAL : Op ’n afgeleë plaas kruip ’n jong man in ’n hondehok weg. Om hom op die werf is netjiese stapels klippe, ’n herinnering aan mense en diere wat reeds weg is. Sy boesemvriend keer ná amper 20 jaar terug na die plaas. As seuns was hulle onafskeidbaar, nou is hulle vreemdelinge vir mekaar. Terwyl die twee mans terugdelf die verlede in verskiet die een ster ná die ander. Klippe wat val was op verlede jaar se Woordfees die Beste debuutproduksie.

ONS IS NIE ALMAL SO NIE: Jeanne Goosen se gelyknamige roman het lankal ikoonstatus bereik. Daar’s Gertie en haar ma, Doris, en Uncle Tank en Mavis. Hulle is arm, maar hulle is menslik en trots. Dis die vroeë vyftigerjare in Parow en apartheid steek sy vuil vingers oral in. Goosen kyk met skerp ironie, deernis en humor na dié tyd en sy Afrikanermense deur die oë van Gertie.

ROKKIE: Rokkie is ’n 48-jarige transgenderpersoon van die Kaapse Vlakte. Vandag is die dag waarvoor sy al jare wag: haar gender reassignment. Daar sit sy in haar onderklere agter ’n naaimasjien, besig om ’n rok aanmekaar te stik terwyl sy ’n Black Label en sigaret geniet. En sy deel haar herinneringe met ons, lief en leed.

SOPHIA KAPP: KANTELPUNT: Boekgesprek –  Nellie, wat pas 50 geword het, is ’n konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy’t stilgebly. Dan kantel haar wêreld en begin sy haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ’n ontsettende prys. Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die konvensies wat haar stom gehou het.

HAAR BLUES / HER BLUES: Met Luna Paige (sangeres), Simon Orange (klawerbord, sang), Sean Sanby (kontrabas, elektriese baskitaar), Michael Bester (elektriese en akoestiese kitaar), Kevin Gibson (tromme), Zeke le Grange (saksofoon), Lorenzo Blignaut (trompet), Siya Charles (tromboon), Adelia Douw (agtergrondstem). Her Blues gaan oor die koninginne van die blues – hulle lewensverhale en liedjies. Luna Paige sing van hierdie ikoniese blues-sangeresse se bekendste liedjies en voer die luisteraar mee na die eras van Bessie Smith, Lady Ella, Etta James, Aretha, Janis en Nina Simone onder begeleiding van ’n vuurwarm orkes.

KROG: Antjie Krog se digkuns is dekades reeds innig geliefd en gereeld omstrede. In hierdie produksie span Babette Viljoen, Olga Leonard en Hilandi du Toit saam om Krog se gedigte in ryk melodieë opnuut te laat opklink. Gedigte soos “Ma”, “Êrens is jy”, “Fughetta vir drie stemme” en “My mooi land” word liedere onder begeleiding van klavier, trekklavier en ’n kas vol kitare.

Kaartjies by Computicket.

Vertel ons waarom die Woordfees #onmisbaar is vir Afrikaans, deel jou insigte, gedagtes en ervaring op sosiale media en gebruik die hutsteken!

Kaartjies by Computicket.

Vir die volledige program, venues en koste, klik hier om die pdf-formaat af te laai