TV in jou taal – waarna om uit te sien

“Ek is ongelooflik opgewonde oor wat tans in Afrikaanse televisie gebeur. Ons stories, mense en Afrikaanse subkulture is uiteenlopend, en dit word al hoe meer op televisie uitgebeeld.” Armand Aucamp – akteur.

Afrikaanse televisie is springlewendig en gesond

ʼn Mens kan nie anders as om met genoegdoening terug te kyk op ʼn jaar propvol hoogtepunte in die Afrikaanse televisiebedryf nie.  ʼn Reeks soos Spoorloos op kykNET (DStv-kanaal 144) het kykers elke week vasgenael voor die skerms gehou. Spoorloos is bloot een van verlede jaar se hoogtepunte. Afrikaans.com loop terug op 2018 se televisiespore.

Twee-en-veertig jaar nadat televisie ons lewens kom omkeer het hier in Suid-Afrika, kan ʼn mens jouself kwalik ʼn lewe daarsonder indink. Van die heel begin af, het Afrikaanse televisie gewys dat ons geensins ʼn tree hoef terug te staan wat kwaliteit en verskeidenheid betref nie. Dink maar aan reekse soos Phoenix en kie, Die Seepsteenbataljon, Die Mannheim-sage, Konings, Torings en Arende, en Sonkring wat gesorg het dat ʼn uitstekende standaard gestel word. Afrikaanssprekendes sou met niks minder as die beste tevrede wees nie, en die kere wanneer ʼn substandaard reeks op die kassie verskyn, word daar gou gemor en gekla. Met reg natuurlik.

KykNET

Die jaar wat verby is, het weer eens heerlike hoogtepunte opgelewer. kykNET wat in November 2018 reeds 19 jaar lank met ons was, het die voortou geneem toe die SABC al hoe minder kykstof vir Afrikaanssprekendes gebied het. Met ʼn hele paar ander kanale soos kykNET en kie (DStv-kanaal 145), en kykNET Nou!  (DStv-kanaal 146), het die spyskaart vinnig groter geword. Ook Via TV (DStv-kanaal 147), Media 24 se Leefstylkanaal in Afrikaans wat sedert 2015 uitsaai, sorg vir heerlike Afrikaanse kykstof.

Lizz Meiring as Marie Fick in Spoorloos

Ilse van Hemert oor die gewilde reeks, Spoorloos

Gedurende Oktober en November verlede jaar het Spoorloos op kykNET gesorg dat kykers Dinsdagaande voor die televisie bly. Ilse van Hemert is die regisseur van die eerste ses episodes van Spoorloos, maar ook die skrywer en vervaardiger van die laaste sewe episodes van die dramareeks van 13 weke. Alhoewel Ilse al amper twee dekades lank aan die vervaardigingskant van televisie betrokke is, was Spoorloos die eerste geleentheid wat sy gekry het om as regisseur van ʼn dramareeks te werk. Vir haar is dit heerlik om goeie terugvoer op die drama te kry, want daar was ʼn hele paar uitdagings met die maak van hierdie reeks.

“Dis vir my ʼn riem onder die hart om te besef dat iets wat ons met soveel bloed, sweet en trane aanmekaar geslaan het, so goed vaar, te oordeel aan die kykers se terugvoer. Die begroting vir hierdie reeks was eintlik veels te klein vir die omvang van die projek. Om op ʼn dorp twee uur weg van die naaste lughawe te skiet, met soveel mense in die storie, beloop ʼn klomp geld en die enigste manier hoe ons dit kon doen was om verskriklik vinnig te skiet. Daar was uiteindelik ook ʼn paar tonele wat ons moes laat vaar het, want ons kon dit net nie in die skedule inpas nie. Reekse soos Waterfront of Die Boekklub of Fynskrif word oor tussen elf en dertien weke klaar geskiet. Ons moes klaarmaak in agt weke. Om dan met ʼn paar legkaartstukkies wat ontbreek, die dinge te laat sin maak, was nogal ʼn uitdaging,” vertel Ilse.

Een van die dinge wat juis van Spoorloos so ʼn uitmuntende storie maak, is die akteurs wat ingespan is. Dit is ʼn potpourri van baie bekwame en gevestigde akteurs soos Lieb Bester, Deon Coetzee, Elsabé Daneel en Lizz Meiring, tot drie jong akteurs wat al drie in Cradock woon en geen ervaring gehad het voordat hulle op stel beland het nie. Die drie, Niel Slabbert (Jan-Gustav), Charl Fleurs (Keagan) en Ineke van der Merwe (Esti) pas al drie uitstekend in hulle rolle as laerskoolkinders en vir Ilse was dit ʼn groot vreugde om hierdie plaaslike talent te kon gebruik en te sien hoe hulle gedy voor die kameras. Sy lag en sê sy het na ʼn 90-sekonde oudisiefilm van Ineke gekyk, maar na tien sekondes het sy gesê dit is genoeg. Sy het toe reeds geweet sy het haar Esti gevind.

Ilse het vir haarself naam gemaak as verhoogregisseur en sy het eers sedert 2000, met die geboorte van haar seun, besluit om eerder voortaan op televisie te fokus. Sy lag en sê sy is ʼn geweldige beheervraat, en dit kan iets soos lewendige teater nogal ʼn baie groot uitdaging maak. As regisseur kan jy niks doen wanneer iets op die verhoog skeef loop nie. Dan is die akteurs maar oorgelewer aan hulle eie genade om die dinge te red. Tog bly die verhoog vir haar baie spesiaal, juis omdat dit lewendig is. Dit is baie meer magies en die opwinding en adrenalien wat daarmee gepaard gaan, kan met niks vergelyk word nie.

Ilse sê haar kop werk reeds oortyd om te dink aan ʼn volgende whodunnit-reeks. Spoorloos is geïnspireer deur die boek Daddy Long Legs wat Vernon Baumann geskryf het. Vernon het ʼn storielynontwikkelingskursus by Ilse gedoen en haar van die boek vertel wat hy geskryf het. Dit het gedien as inspirasie vir sekere storielyne, maar die tweede helfte van die reeks was Ilse se eie handewerk. Vir Ilse is kwaliteit geweldig belangrik en sy laat niks gaan as sy nie weet dat sy haar bes gedoen het om dit so perfek as moontlik te kry binne al die beperkinge nie. Dit is daarom dat sy elke dag veertien ure van haar tyd aan haar werk bestee.

Op die vraag waarin die grootste vreugde van die maak van Spoorloos gelê het, kom daar ʼn verrassende antwoord. “Die dorpsmense was net ongelooflik. Ek het Cradock as ʼn mikrokosmos van Suid-Afrika ervaar wat op ʼn manier homself uitgesorteer het. Daar is geen aggressie in die dorp nie en bloot ʼn soort welwillendheid en ʼn gemaklikheid en selfvertroue sonder om verwaand te wees. Die mense was vriendelik maar nie opdringerig nie en Cradock was die perfekte dorp om op te skiet. Om te kon beleef dat daar ʼn gesonde Suid-Afrika soos op Cradock bestaan, sal iets bly wat ek altyd sal onthou.”

 AJ Opperman, kunsjoernalis by Netwerk24, sê toe kykNET se uitsendings in November 1999 begin het, was hy maar in graad 6, maar toe reeds het hy na ʼn program soos Boeksusters gekyk. Afrikaanse televisie het hom nog altyd geïnteresseer.

“Afrikaanse televisie verras my altyd en daar is immer iets wat ek nie wil misloop nie omdat dit soveel plesier verskaf. Ek kyk baie gereeld Afrikaanse programme, oud en nuut. Ek het nog altyd geglo dat as ʼn mens Afrikaans is, jy ook graag Afrikaanse stories sal wil volg. Ek verstaan glad nie die gebruik van sommige Afrikaanssprekendes wat niks Afrikaans wil kyk of lees of luister nie,” sê hy.

Hans van Wyk (Chris van Niekerk) en sy gesin – Fynskrif

Luan Jacobs, Neels van Jaarsveld en Mia van der Merwe as Luke, Ben en Bella van Wyk.

Die Boekklub – vir seker ‘n hoogtepunt!

Vir AJ was daar gedurende 2018 ʼn hele paar hoogtepunte onder meer Spoorloos en Waterfront, maar hy sonder die dramareeks Fynskrif, geskryf deur Louis Pretorius en Albert Snyman wat ook vir die uitstekende Die Boekklub verantwoordelik was, as sy hoogtepunt van die jaar uit. “Wat hierdie reeks vir my so besonder gemaak het, is dat dit in die regswêreld afspeel, maar tog is daar nooit ʼn toneel in die hof nie. Karakters het natuurlik die vermoë om ʼn verhaal te maak of te breek en ek het baie van Fynskrif se karakters gehou. Natuurlik was nie almal aangename karakters nie, maar elkeen het ʼn bepaalde funksie verrig. Die reeks het juis die leefwêreld van mense in die regswêreld goed uitgebeeld en ʼn mens met ander oë na regslui laat kyk. Die reeks had my ook die heeltyd nuuskierig,” sê hy.

Televisie is veel meer as net dramareekse. Geselsprogramme wat gekombineer word met musiek, is besonder gewild, veral wanneer jy dink aan reekse soos Karen Zoid se Die Republiek van Zoid Afrika en Klavierkuiers met Pedro, wat op Via-TV uitgesaai is. Pedro, een van ons Afrikaanse ambassadeurs, het homself uitstekend as gasheer laat kwyt en die reeks was besonder gewild. Oor Karin en die Republiek van Zoid Afrika se gewildheid is daar al dikwels geskryf. Tydens elkeen van die uitsendings, is die liedjie waarmee die program uitspeel en wat Karen en een van haar gaste dan saam doen, die volgende dag reeds ʼn topverkoper op een van die digitale aankoopplatforms.

Geselsprogramme bly gewild

Oor Afrikaanse geselsprogramme se gehalte sê AJ: “In vele opsigte hou van hierdie geselsprogramme kers vas met oorsese geselsprogramme. Tog hang dit alles af van die gaste. Alhoewel ek vermaak wil word, wil ek ook nuwe kennis opdoen deur na hierdie onderhoude te kyk en daarom wen dit baie punte by my indien die aanbieder goed voorberei het. Ek is eintlik baie mal oor geselsprogramme en die kombinasie van om vermaak, én ingelig te word, werk vir my.”

Die kersie op 2018 se TV-koek – Die Kontrak

Die jaar het op ʼn besonderse hoogtepunt geëindig met Via-TV se Die Kontrak waarin Demï Lee as die uiteindelike wenner tydens Afrikaans is Groot se megakonsert op 23 November  2018 gekroon is. Na ʼn landwye soektog is daar agt aspirant-musieksterre uit 2000 hoopvolles gekies om deel te neem aan hierdie realiteitsreeks.

Martjie Roos, senior joernalis by TV-Plus, sê vandat sy die eerste keer van Die Kontrak gehoor het, het sy geweet dit gaan uitstekend slaag. “Mense hou van realtiteitstelevisie en ek het geweet dit gaan baie kykers lok. Wat vir my so spesiaal is van iets soos Die Kontrak, is dat dit ʼn wonderlike geleentheid aan aspirant- Afrikaanse sangers gegee het. Daar was nog net een Afrikaanse Idols-reeks, en daar is dus nie altyd die geleentheid vir Afrikaanse kunstenaars om met so ʼn reeks ‘n deurbraak te maak nie. Met Die Kontrak het jong sangers waarlik ʼn uitstekende geleentheid gekry en boonop het die blootstelling aan mentors soos Elvis Blue, Dewald Wasserfall en Tarryn Lamb vir seker ʼn reusebydrae tot die ontwikkeling van al die deelnemers gehad,” sê sy.

Om na uit te sien … Ses splinternuwe TV-programme dié Januarie op VIA