Trek jou partytjieskoene aan … Alternatief is GROOT is hier!

Eers was daar Afrikaans is Groot, toe Classics is Groot en nou is daar Saterdag 16 Februarie Alternatief is Groot op Loftus Versfeld in Pretoria.

Musikante soos Francois van Coke, Die Heuwels Fantasties, Jack Parow, Sunset Sweatshop, Early B en die Straatligkinders is saam op die verhoog net ná die rugbywedstryd tussen die Blou Bulle en die Stormers.

“Ons sien ongelooflik daarna uit om deel te wees van Alternatief is Groot,” sê Bouwer Bosch, hoofsanger van die Straatligkinders.

“Dis die eerste keer dat hierdie konsertreeks gehou word en dis altyd lekker om deel te wees van iets wat ’n eerste in die land is.

Johan C. Venter van Coleske Artists, die organiseerder, sê die konsert gaan iets heeltemal anders wees.

“Daar is groot en relevante musikante wat gehoor gaan word. Dit gaan ’n massiewe jol wees.

“Daar is nie vanjaar ’n jool-jol in Pretoria nie en hierdie konsert gaan beslis ’n goeie plaasvervanger wees. Maar dit beteken nie dat dit net op studente gemik is nie. Ons mik daarna om oud en jonk daar te hê.

“Mense kan Gig & Game-kaartjies vir ’n skamele R245 koop om die rugbywedstryd en die konsert te sien,” sê Venter.

Die groepe en kunstenaars gaan elk sowat 45 minute hê om hul liedjies te sing en die mense te vermaak.

Bosch sê hy was 13 toe hy aan ’n rugbytoernooi op Loftus deelgeneem het.

“Ek het nooit gedink ek sou op die einste veld kitaar speel as waarop ek rugby gespeel het nie,” sê Bosch.

Die Alternatief is Groot-konsert begin 19:30. Kaartjies kos R195 per persoon as jy net die konsert bywoon of R245 per Gig & Game-kaartjie. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

*Alternatief is GROOT word aangebied deur die ondersteuning van JOOX-musiekstroomdiens en geborg deur We Buy Cars, Beeld en Via (DStv-Kanaal 147).