fbpx

DZL-man sing Afrikaans in Disneyland

Andries Potgieter het groot drome gehad toe hy jonger was, maar nooit sou hy kon dink dat hy eendag op ’n verhoog in Disneyland sou staan en Afrikaans sing nie.

Andries het grootgeword in Jeffreysbaai en het sy skoolloopbaan by Laerskool Sunridge in Port Elizabeth begin. Daar het hy die voorreg gehad om in sy moedertaal, Afrikaans, skool te gaan – ook later op hoërskool.

Afrikaans het ’n groot rol gespeel in Andries se lewe en min mense weet dat sy oupagrootjie ’n bekende Voortrekker was.  Na skool het Andries verder studeer en hom as rekenmeester bekwaam.

’n Keerpunt

Andries wou altyd in Afrikaans sing en na ’n kerkdiens een Sondag, waar die dominee gepraat het oor jongmense wat hulle drome moet uitleef, het hy besluit om sy sangdroom waar te maak.

Sy eerste album is saam met die Grammy-benoemde Soweto Gospel Choir opgeneem en sy tweede album saam met Steve Hofmeyr. Daarna het Andries besluit om Suid-Afrika te verlaat en die internasionale verhoog te betree. Daar het hy ’n ruk lank FAK-liedjies in Disneyland, New York en Atlanta gesing en gewys dat ’n mens wel sukses in jou moedertaal kan bereik – selfs in ’n plek soos Amerika.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika, is DZL gebore en het Andries en Wiaan Fourie saam verhore met hul besondere sangtalent bekoor.

Sukses in en deur Afrikaans

Tog is Andries se storie nie uniek nie, veral as ’n mens sien hoeveel Afrikaanssprekendes wat die voorreg gehad het om in hul moedertaal skool te gaan, ook oorsee sukses behaal. Die rede hiervoor is natuurlik omdat moedertaalonderrig een van die belangrikste boustene van uitnemendheid is. Dit is wat jou die X-faktor gee en die selfvertroue om saam met die res van die wêreld te gesels.

Kyk Andries Potgieter en Wiaan Fourie (DZL) se eerste onderhoud met afrikaans.com

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.