Suidoosterfees 2019 – ’n Fees vir almal!

Met unieke stories, ’n skatkis vol talent en jong talent beloof vanjaar se sestiende Suidoosterfees om jou siel te verryk en jou tone van lekkerkry te laat krul. Irma Albers, die waarnemende uitvoerende hoof, sê  die kunste gee hoop – “kreatiewe kunste is die lig wat deurbreek in uitdagende tye”.

Die fees fokus op die ontwikkeling van gehore sowel as die loopbane van opkomende kunstenaars. Die Talentsoektog-wenners word weer vanjaar aan feesgangers blootgestel en veral plaaslike kunstenaars kry die geleentheid om hul talente op die planke te kry. Studente van Stellenbosch en Kaapstad wat deel uitmaak van die Jong Sterre-produksie kry kans om hul vlerke te sprei, maar ook gesoute en geliefde kunstenaars maak soos altyd hul buiging. Jy kan uitsien na die Soweto String Quartet wat weer terugkeer na die Moederstad vir ʼn spesiale vertoning saam met Anton Goosen, Lynelle Kenned en Early B – ‘n vertoning wat beloof om ’n hoogtepunt te wees.

Die Suidoosterfees is sekerlik dié Afrikaanse gemeenskapsfees waar die toekoms van taal, kuns en kultuur jou nader wink en hoop gee … die plek waar teater en taal ons verskeie leefwêrelde verenig.

“Daar’s ’n next generation wat nie bang is om uncomfortable en challenging stories in Afrikaans te vertel nie en wat weet dat eerlike, inclusive stories belangrik vir ons nasie is. Daar’s tog vryheid in die waarheid en ek’s excited vir wat nog gat kom … Dis nou meer as ooit belangrik dat ons tog almal wat die taal praat en wie lewe in die taal, besef dat ons almal het tog ’n deel om by de te dra om die taal en sy verskillende ways van praat en uitbeeld te beskerm; nie dat dit juis beskerming need nie, maar net om te kyk dat mense die waarde van die taal op al die vlakke besef. As communication, as academic taal, as lekker-praat-taal, maar dit in die proses nie exclusive maak nie.” – Denver Breda (medefeesorganiseerder).

Afrikaans.com het na die program gaan loer en hou van die volgende:

Moenie die Jakes Gerwel-gespreksreekse misloop nie. Dit is gratis en die volgende temas is onder die loep:

Hoe soomloos is die kunste werklik?

(Met: Saartjie Botha en Basil Appollis – gespreksleier: Kabous Meiring).

  • Donderdag 25 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)

Wie is ons en maak dit saak?

(Met: Bill Nasson, Willem Verwoerd en Haji Dawjee – gespreksleier: Heindrich Wyngaard).

  • Vrydag 26 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)

Afrikaans ’n taal vir almal?

(Met: Samuel Minnaar, Esra Plaatjies en Carla Barnard – gespreksleier: Tracey Lange).

  • Saterdag 27 April, 10:00 tot 11:00. (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)

Die volle verhaal van Afrikaans?

(Met: Anastasia de Vries, Wannie Carstens en Willa Boesak – gespreksleier: Michael le Cordeur).

  • Maandag 29 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)