Stroomop – gelukkig is die lang wag nou verby!

Die avontuurfliek, Stroomop, is vanaf 9 Augustus 2018 op die grootskerm te sien. Regisseur Ivan Botha gesels met Annelien van Basten oor hoekom lokprente so belangrik is vir die sukses van ’n rolprent.

Die glanspaar, Ivan Botha en Donnalee Roberts, is die lieflinge van die Suid-Afrikaanse silwerdoek en is verantwoordelik vir twee van die mees suksesvolle rolprente (Pad Na Jou Hart, Vir Altyd) wat nog ooit by die plaaslike loket gedraai het. Aanhangers sit dus op hete kole en wag vir hulle nuutste vrystelling, Stroomop, en gelukkig is die lang wag nou amper verby!

Alhoewel Botha nie self in dié avontuurverhaal te sien is nie, maak hy sy debuut as regisseur (onder die naam van hulle produksiemaatskappy 17Films) en het hy oor die jare geleer watter bestanddele noodsaaklik is om die sukses van ’n fliek te verseker.

Donnalee Roberts en Ivan Botha tydens die verfilming van Stroomop. (Foto’s: Key Art Services)

Ivan Botha verklap hoe lokprente gemaak word

Een van hierdie bestanddele is beslis ’n aangrypende lokprent – iets waaraan hulle nog altyd baie aandag geskenk het wanneer hulle aan ’n prent werk. Die sukses wat in die verlede behaal is, is immers ’n bewys hiervan!

Gaan kyk self hoe slim en treffend hulle flieks se lokprente aanmekaar gesit is:

  • Pad Na Jou Hart
  • Vir Altyd
  • Stroomop

Volgens Ivan, het die kwaliteit van Suid-Afrikaanse lokprente oor die afgelope paar jaar net soveel verbeter soos wat die gehalte van plaaslike rolprente verbeter het en dat rolprentmakers hierdie belangrike aspek deesdae die aandag gee wat dit verdien. Dit is immers dié belangrikste bemarkingsaspek wat jy het om die aandag van potensiële kykers vas te vang.

Ons het met hom gaan gesels oor hoe lokprente gemaak word en wat ons van sy eerste vollengte speelfilm as regisseur kan verwag.

Wie maak gewoonlik die lokprent van ’n fliek en watter kwalifikasies het jy nodig hiervoor?

“Daar is nie ’n vaste reël oor wie die lokprent sny nie. Net soos die filmmaak-proses, is dit ook nie ’n taak wat alleen aangepak word nie. Quinn Lubbe, wat ook ’n redigeerder en samesteller is, het vir ons die lokprent gesny, al was CA van Aswegen verantwoordelik vir die redigering van die fliek. Dit is altyd goed om iemand vars aanboord te kry, wat met nuwe oë na jou rolprent kyk. Ek, as regisseur is betrokke en natuurlik is ’n lokprent se hoofdoel om mense te lok. Dit is deel van bemarking, so ek en Donnalee kyk van daai oogpunt af ook daarna. Maar agter dit moet die musiek gemaak word, die grade ensovoorts. Dit is weer ’n hele nuwe span. Ek sou sê die kwalifikasies wat benodig word om ’n lokprent te maak, is redigeringsvaardighede.”

Hoe gaan ’n mens te werk om te besluit wat jy in die lokprent gaan insluit en wat nie… ’n mens wil immers hoogtepunte gee, maar nie te veel weggee nie?

“Dit is altyd die moeilike deel daarvan om die lokprent te maak, en is maar altyd die gevaar. Soos genoem, is die lokprent een van jou grootste bemarkingselemente, so dit moet reg wees. Jou gehoor moet weet waaroor die storie gaan, wie jou hoofkarakter is en watter genre die prent is. Die lokprent moet vir hulle ’n rede gee om die film te wil kyk. Iets wat ook baie belangrik is, is om nie te jok in jou lokprent nie. Soms word ’n film verkoop as iets in die lokprent en as jy dit gaan kyk is dit iets anders, en dit gooi die gehoor.”

Wie besluit almal oor die finale lokprent?

“Die vervaardigers en M-Net of kykNET, as vennote het hulle ook ’n groot bydrae, maar op die einde van die dag lê die finale besluit by die regisseur.”

Watter eienskappe maak ’n goeie lokprent?

“As jy in die kort tydperk jou kyker ’n emosionele rede kan gee hoekom hulle die fliek moet gaan kyk. As ’n lokprent ’n draaipunt in het trek dit my persoonlik aan.

Hoe word ’n lokprent gemaak – word dit heeltemal saamgestel uit dele uit die fliek of word daar spesifiek goed agter die skerms bygewerk en verfilm vir die lokprent?

“Ons gebruik net dele uit die film as dit kom by die lokprent, ek dink dit sluit aan by die ‘moenie vir jou gehoor jok nie’-kommentaar van vroeër, moenie vir hulle iets wys wat nie in die film gaan wees nie.”

Partykeer is die musiek in die lokprent nie noodwendig die temalied nie. Hoe besluit julle watter musiek word gebruik?

“Baie keer is die musiek ook die dryf agter die lokprent, die redigeerder sny agter die musiek aan. Daar moet ’n liedjie in die lokprent wees wat die film se hoof emosionele stemming vasvang. In Stroomop is dit Bittermaan deur Spoegwolf.

Wat wou julle met Stroomop se lokprent bereik?

“Ons wou seker maak ons gehoor koop emosioneel in, en dan vat ons hulle op ’n epiese reis op die Oranjerivier. Die draaipunt is dan die onverwagste aksie en gevaar wat die gehoor kan verwag.”

Hoekom word lusmakerlokprente deesdae ook vrygestel en hoeveel ekstra werk is dit?

“Dit gee jou ’n ekstra bemarkingsgeleentheid. Dit is gewoontlik nie langer as ’n minuut nie. Die werk is net soveel soos met die kokprent.”

Watter raad het jy vir iemand wat wil spesialiseer in lokprente?

“My voorstel sal wees om rolprentredigering te studeer en baie lokprente te kyk!”

Wat maak Stroomop onmisbaar en hoekom moet mense dit gaan kyk?

Stroomop is gemaak vir die grootskerm, die wêreld waarin ons verfilm het en dan natuurlik die aksie in die film is net beter op die grootskerm. Die storie en karakters gaan jou op unieke emosionele sielsreis neem soos wat geen ander film jou al vantevore gevat het nie.”

’n Baie belangrike aspek wat ’n rolprent se sukses bepaal, is natuurlik die openingsnaweek omdat dit is wat ’n rolprent vir so lank as moontlik in bioskope gaan hou. So as jy lief is vir Ivan en Donnalee se werk, gaan ondersteun hulle hierdie naweek en gaan kyk Stroomop. Jy sal nie spyt wees nie!

Oor die fliek…

Hierdie avontuurverhaal vertel die storie van vyf dames – Lana (Donnalee Roberts), Vivian (Simoné Nortmann), Adrie (Chanelle de Jager), Nixie (Carla Classen) en Diona (Ilse Klink) – wat elkeen besig is om te ‘verdrink’ en in die rowwe waters van die lewe rondgemaal word. ’n Sameloop van omstandighede neem hulle saam op ’n avontuur op die Oranjerivier. Hier gebeur die ondenkbare en hulle boot word omgegooi, die riviergids Guy (Armand Aucamp) raak verlore en die vroue bevind hulleself in ’n stryd om oorlewing in die wildernis. Die reis verander hulle lewens ingrypend, soos wat hulle saam deur seer en vrees worstel.

Oor die klankbaan…

Dawie de Jager was een van die talentvolle musikante wat gewerk het aan die klankbaan van Stroomop. Die voorsanger van Spoegwolf, Danie du Toit, sing die temalied met dieselfde naam as die fliek en het dit ook geskryf.

Klik hier om te hoor wat Ivan Botha sê… 

Armand Aucamp behoorlik kniediep tydens die vervaardiging van Stroomop.

Chanelle de Jager se Adrie, is ’n vrou met wie baie kan identifiseer.

Donnalee Roberts en Simoné Nortmann wie se karakter, Vivian, haar angs in hierdie reis oorwin.

Ilse Klink verwerk die verlies van haar man as Diona in die fliek en Carla Classen wie se puik spel in die rol van Nixie, gehore gaan verras.

Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink, Carla Classen en Armand Aucamp. … in Stroomop

By die bekendstelling …

Carla Classen

Chanelle de Jager

Ilse Klink

Donnalee Roberts in ’n rok deur Vesselina Pentcheva by die premiere van die fliek wat in Johannesburg gehou is.

David de Villiers en Nadia Beukes

Ivan Botha

Simoné Nortmann

Irene-Louise van Wyk saam met haar verloofde, Nicholas du Preez, op die blou tapyt.

Melissa Willering en Lea Vivier

Duan Wanty en Cindy Swanepoel