Só vier Liewe Lisa se akteurs Valentynsdag

Op 14 Februarie maak Cupid nie net reg om harte met sy pyltjies te tref nie. Bioskope staan ook reg om die splinternuwe liefdesverhaal, Liewe Lisa, met kykers te deel. Annelien van Basten verklap meer oor dié rolprent en het ook gaan uitvind wat die akteurs beskou as ’n romantiese Valentynsafspraak…

Liewe Lisa kan glad nie beskryf word as ’n tradisionele liefdesverhaal nie. Eintlik kan dit nie heeltemal vasgevang word in een spesifieke genre nie, want liefde en die lewe was immers nog nooit ongekompliseerd nie – en dis een van die belangrike boodskappe wat in Hendrik Cronje se regisseursdebuut na vore kom.

Die storie

Die rolprent, wat afspeel in Stellenbosch en die Weskus, vertel die storie van Daniel (Hendrik Cronje) – ’n belowende jong man wat moeg word vir die doodgewone plan wat hy en sy pa vir sy lewe en toekoms het.

In sy strewe na opwinding, word hy vasgevang in ’n buite-egtelike verhouding met ’n invloedryke sakeman (Albert Maritz) se vrou, Michelle (Barbara-Marie Immelman). Dinge neem ’n dramatiese wending wanneer hy verlief raak op dieselfde sakeman se dogter, Lisa (Elani Dekker). Na sy foute bekendgemaak word, roep hy die koers wat die lewe vir hom bepaal het vaarwel en ontmoet hy vir Tom (Zane Meas) – ’n eenvoudige visserman wat Daniel help om sy ware lewenspotensiaal te bereik.

Die draaiboek is deur Hendrik Cronje geskryf en is geïnspireer deur die film, The Graduate (1967), wat ’n groot impak op hom gehad het gedurende sy studentejare. Hy het dadelik geweet dat sy eerste rolprent soortgelyk moet wees en net daar het die idee vir Liewe Lisa begin posvat.

Omdat Hendrik nog altyd graag sy eie flieks wou maak, het hy besluit om saam met sy broer – Johan Cronje – die rolprentmaatskappy, Kompanjie Stories, te begin en self lewe te gee aan hulle eerste storie wat al vir so lank leef in sy hart.

“Onafhanklike films is belangrik omdat die storie meestal sy oorsprong het in iemand wat ’n storie vir die mense wil vertel en nie noodwendig om inhoud vir ’n instansie te vervaardig nie. Vir die filmbedryf, in die algemeen, is dit baie belangrik en voordelig om stories uit verskillende perspektiewe te vertel,” – Hendrik Cronje

Buiten vir ’n aangrypende draaiboek en die mooiste natuurtonele, spog die fliek ook met ’n uitstekende rolverdeling en ’n emosiebelaaide klankbaan wat tot die sukses van die eindproduk bydra.

In die fliek sê Daniel se karakter, wat ook die verteller is, dat ons almal karakters in mekaar se lewensverhaal is. In sommige stories is jy die held en in ander die skurk, maar elke keuse wat jy maak (klein of groot) het ’n invloed op jou lewe. Nie net is dit ’n groot waarheid nie, maar ’n gedagte wat ’n mens lank bybly nadat jy die bioskoop verlaat het.

Deur te kies om hierdie plaaslike projek te ondersteun, sal jy nie net ’n verskil maak in die betrokke partye se lewens nie, maar ook in jou eie … want dit is sielskos!

Elani Dekker speel die rol van Lisa in die nuwe Afrikaanse drama.

Barbara-Marie Immelman geniet dit om terug te wees op die grootskerm.

Albert Maritz is nie gelukkig daarmee dat sy dogter by sy vrou se eks-minnaar betrokke raak nie.

Zane Meas, Elani Dekker en Hendrik Cronje maak ‘n gedugte span in Liewe Lisa.

Hulle ideale Valentynsafspraak lyk so …

Omdat hulle so baie weg van die huis af is, is dit nie snaaks dat baie bekendes ’n rustiger viering vir persoonlike geleenthede verkies nie. Ons het by ’n paar van die rolspelers in Liewe Lisa gaan hoor hoe hulle dié dag van liefde vier …

Hendrik Cronje is die draaiboekskrywer, regisseur en hoofrolspeler (Daniel) in Liewe Lisa.

Sy perfekte Valentynsafspraak… is ’n piekniek in die berg, met ’n lekker bottel wyn.

Sy lekkerste Valentynsbederf ooit… was ’n verrassingsuitstappie inry toe.

Kyk hier om te sien wat hy sê oor die fliek en Valentynsdag.

Elani Dekker speel die rol van Lisa. Hierdie talentvolle aktrise is tans te sien in Binnelanders as Annelize se sussie, Monique, en het voorheen ook die hoofrol gespeel in die tienerfliek, Jou Romeo.

Haar perfekte Valentynsafspraak… is om iets nuut te ervaar wat sy nog nooit voorheen gedoen het nie en ook om nuwe kosse te probeer.

Haar lekkerste Valentynsbederf ooit… was toe sy in graad twee ’n reusesjokoladebeertjie gekry het. Dit het haar ongelooflik gelukkig gemaak.

Kyk hier om te sien wat sy sê oor die fliek en Valentynsdag.

Albert Maritz is ’n geliefde gesig op die kassie en grootskerm. Hy is veral bekend vir sy rolle in die reekse Orion, Konings en Torings, en was in flieks soos Modder en Bloed, Die Pro en meer. Hy speel die rol van Lisa se pa, Frans, ’n suksesvolle sakeman wat nie veel waarde aan familie heg nie.

Sy perfekte Valentynsafspraak… is wanneer die vrou in sy lewe vir hom braai en hulle rustig saam is, met ’n ietsie koud vir die keel.

Sy lekkerste Valentynsbederf ooit… was sy blondekop seun wat op die veertiende gebore is en hom elke jaar herinner aan die seëninge in sy lewe.

Barbara-Marie Immelman speel die rol van Michelle. Sy glo nie in ware liefde nie en dink dat haar beste jare by haar gesteel is. Die aktrise het naam gemaak as Natasha Fourie in die sepie Villa Rosa, maar is ook te sien in Egoli, 7de Laan, Arendsvlei en meer.

Haar perfekte Valentynsafspraak… is om ’n glasie vonkelwyn te klink saam met die man in haar lewe. Omdat die restaurante gewoonlik op die dag so oorvol is, verkies hulle om later in die maand eers Valentynsdag te vier.

Haar lekkerste Valentynsbederf ooit… is elke jaar wat sy saam met haar geliefde kan vier en kan sien hoe hulle verhouding en liefde sterker word. Hy is immers haar beste vriend.

Marco Spaumer speel Willem wat ook verlief is op Lisa, maar te gewoon is vir haar. Die akteur is ’n gereelde gesig op die kassie en is te sien in Suidooster as Tim.

Sy perfekte Valentynsafspraak… is ’n stappie op die strand, gevolg deur ’n tuisgemaakte ete, ’n lekker glas rooiwyn en ’n mooi uitsig.

Sy lekkerste Valentynsbederf ooit… was ’n aand van liggieskyk in die Kaap en ’n ete by sy gunstelingrestaurant.

’n Ander romantiese Valentynsafspraak kan natuurlik wees om jou liefie te bederf met ’n pragtige fliek by julle plaaslike bioskoop. Liewe Lisa begin amptelik op 14 Februarie 2019 landswyd draai en is die perfekte keuse as julle nog nie planne het nie!

Kyk die lokprent hier!

Volg ook die fliek op Facebook, Instagram en Twitter op @liewelisafilm.