Snoek-en-Patatfees: 29 en 30 Junie

’n Afrikaanse kultuurfees op sy beste!

Sedert die vorige eeu is die vrugbare Goedverwachtvallei (digby Piketberg) met sy gematigde klimaat en vlytige entrepreneurs bekend as die “kosmandjie’ van die Weskus. Die beste, soetste patats word hier gekweek.

Gedurende die depressiejare het hierdie boere hulle patats op naburige dorpe begin ruil vir snoekmootjies, bokkoms en maasbankers en vandaar het die watertandmaaltyd, veral in wintermaande, ‘n ereplek in Weskuskultuur – gebraaide snoek met ’n spesiale soetsuursousie, oondgebakte patat en roosterbrood met korrelkonfyt … natuurlik met ‘n goeie beker moerkoffie.

In 1996 het die plaaslike toerismebeampte, Lorraine Cornelius en ’n groepie gewillige inwoners, saamgespan en besluit om hierdie feesmaal, ’n kultuurskat, sy regmatige plek op die Suid-Afrikaanse MOET-beleeflys te gee en die gevolg was die Goedverwacht Snoek-en-Patatfees. Die grootste doel was om geld in te samel sodat hierdie sendingdorpie sy eie toerismekantoor kon vestig en hierdie juweel van ’n plek vir besoekers toeganklik te maak. Aanvanklik was die fees klein, maar het sedertdien so gegroei dat daar jaarliks meer as 5000 mense die dorpie instroom en die Snoek-en-Patatfees beklee nou sy volwaardige plek op die Suid-Afrikaanse feeskalender. Die toerismekantoor hanteer ’n toevloei van gaste wat reg deur die jaar die pragomgewing besoek en die spesiale mense van hierdie streek leer ken.

Die 18de fees vind vanjaar op 29 en 30 Junie plaas en gaste sal self op tuintoere kan gaan en patats oes vir hul etes. Feesgangers kan ook tradisionele Khoi-patatresepte probeer. ’n Deel van die winste word geskenk aan gemeenskapsorganisasies wat die maatskaplike uitdagings in die gemeenskap hanteer.

Rieldansers, sokkiedans, trompoppies en karaoke asook landloop en roetes vir bergfietsentoesiaste sorg vir feesnaweekpret vir die hele gesin. Daar is meer as 60 stalletjies en groente- en vrugtemarkte. Moenie die uitstalling by die museum misloop nie. Hier word die lewe van die Goedverwachters sedert die 1800’s uitgebeeld en ‘n besoek aan die Klipkerk is die moeite werd.

Vir meer inligting, kontak die toerismekantoor by telefoonnommers: 078 316 3988 of 073 384 7420 of stuur ‘n e-pos: tourism@goedverwacht.com

Kaartjies kan bespreek word by Computicket.

Verlede jaar se feestelikheid.

Snoek en patats sonder roosterkoek is net nie dieselfde nie. Saam met tuisgemaakte korrelkonfyt … ’n feesmaal!

Sien uit na vars snoek op die kole.

Alle paaie lei die naweek na Goedverwacht.