fbpx

Sharoney se nuwe album is op pad!

Sharoney het beslis geen bekendstelling nodig in die Afrikaanse musiekbedryf nie. Oor die afgelope vyf jaar, het sy nie net diep in die harte van musiekliefhebbers kom kruip nie, maar ook twee Ghoema- en Huisgenoot Tempo-benoemde albums en sewe groot radiotreffers uitgereik.

Nóú is hierdie talentvolle ster, met haar borrelende verhoogpersoonlikheid en onblusbare energie, terug met die eerste enkelsnit en musiekvideo vanaf haar komende album.

21 VIR EWIG spog met ’n splinternuwe volwasse klank en is ’n unieke pop-nommertjie, wat hemelsbreed verskil van dít waaraan aanhangers gewoond is. “Hierdie snit val lekker op die oor en is ’n saamsingtreffer, wat jou voete sal laat jeuk om te dans. Dit is daardie tipe liedjie wat jy orals sal wil luister – in jou motor, by partytjies, om die braaivleisvuur en selfs by die gym,” gesels sy oor dié langverwagte vrystelling.

Die liedjie, uit die pen van Douvoordag se Jattie de Beer, het ’n positiewe boodskap en gaan daaroor dat die menslike gees nooit werklik verouder nie. Dat jy spontaan moet leef en die beste moet maak van elke oomblik, want op die ou einde is jy net so oud soos wat jy voel.

“Ek onthou my een-en-twintigste so goed soos gister, want ek bestempel dit as die ouderdom waarop jy regtig ’n volwassene word. Dan is jy jonk genoeg om dié tyd van jou lewe te geniet, maar oud genoeg om die herinneringe vir altyd te koester. Soms wens ek dat ek net vir ’n dag die horlosie kon terugdraai om weer so te voel. Toe ek 21 VIR EWIG vir die eerste keer hoor, het ek net geweet dit moet deel wees van my volgende album, want die tema is van toepassing op elkeen van ons … jonk en oud,” aldus Sharoney wat baie opgewonde is om haar nuwe musiek met die wêreld te deel.”

Fathom Media, saam met wie sy al ’n hele paar projekte aangepak het, was die kreatiewe brein agter die musiekvideo wat spog met ’n vars, moderne aanslag en wys vir kykers ’n hele nuwe kant van die sangeres.

Volgens Sharoney was die doelwit van hierdie video om iets in Afrikaans te doen wat nog nie voorheen gesien is nie. Daarom het hulle besluit op ’n dansmusiekvideo wat voldoen aan internasionale standaarde. “Ons sien nie gereeld Afrikaanse musiekvideo’s wat maande se oefening, doelgemaakte kledingstukke en choreografie met ander dansers insluit nie, wat hierdie een dus baie uniek maak,” sê Jay.

Kyk die video hier

Die een sukses na die ander …

21 VIR EWIG volg op die musikant se vorige gewilde vrystelling, Crush, wat baie goed deur die publiek ontvang is en steeds gereeld oor die radio gehoor kan word. Die musiekvideo het reeds meer as 40 000 trefslae op YouTube gehad en is baie gewild.

Sharoney het in 2014 die musiekwêreld amptelik betree toe haar eerste enkelsnit, Een Keer, wat deur ADAM se Hugo Ludik en Reynardt Hugo geskryf is, binne enkele dae die trefferleer begin klim het en sommer vir lank bo-aan al wat ’n treffersparade is, gekuier het.

Kort daarna is haar debuutalbum, In Ons Fairytale, vrygestel en dit was ook ’n kitssukses wat aan haar in 2015 twee Ghoema-nominasies (Nuweling van die Jaar en Beste Pop-Album deur ’n Vroulike Kunstenaar), asook ’n benoeming vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning (Nuweling van die Jaar) besorg het. Prinses, haar tweede enkelsnit uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo, was ook baie gewild en het dadelik lugtyd oor die radio en ook op televisie gekry. Die derde en vierde enkelsnitte, Fairytale en Wees My Held, het kort daarna gevolg en haar plek in die harte van Suid-Afrikaners verstewig en voortgebou op die sukses wat sy reeds bereik het.

Sharoney het met Afrikaans.com gesels:

Wanneer het jy besluit om musiek jou loopbaan te maak?

Ek sing al vanaf sewe, maar my liefde vir musiek en drama het tougetrek. Op 16 was dit ’n skoolrevue wat my finaal oortuig het dat dit musiek is wat my roep. Ek glo musiek kies JOU!

Wat/wie laat jou in jouself glo?

Dit is die klein goedjies in die lewe wat my inspireer en elke kunstenaar (ek luister na verskillende tipe musiek) het ’n spesiale storie om te vertel en ek glo ek kan iets leer by elkeen wat sy/haar droom najaag. Walt Disney het tydens ’n moeilike tyd in sy lewe gesê: “If you can dream it, you can do it!” Dit is ook my lewensbenadering. Ek bou my lewe op my drome.

Waarom het jy die Afrikaanse mark gekies?

Ek is ’n gewone Afrikaanse meisie en doen alles in Afrikaans! My hele lewe gebeur in Afrikaans. Ek maak my herinneringe in Afrikaans, as ek dans, dans ek in Afrikaans en as ek droom, droom ek in Afrikaans. Toe die geleentheid daar is om in Afrikaans te sing, het ek dit met alles in my aangegryp.

Waar het jy skoolgegaan?

Ek was in Laerskool Pam Brink en het steeds kontak met my onderwysers. Hulle het iets in my raakgesien wat ek nie in myself kon raaksien nie. My hoërskoolloopbaan het ek by Hoërskool Hugenote voltooi waar ek die eerste keer ’n rol op die verhoog vertolk het. My hele skoolloopbaan was in Afrikaans en ek sou dit nie anders wou gehad het nie. Skool vorm jou karakter en wie jy as ’n volwassene word. Jou tyd op die skoolbanke het ’n groot invloed op jou sienswyses en ek is trots daarop dat ek in Afrikaans kon skoolgaan.

Waar was jou deurbraak?

Ek het die geleentheid gekry om ’n voorvertoning te doen by ’n liefdadigheidskonsert wat aangebied is deur die groep ADAM. Ek was 17 jaar oud en dit was na hierdie vertoning dat Hugo Ludik my onder sy vlerk geneem  het.

Wat dink jy is die vyf belangrikste bestanddele wat iemand wat in jou voetspore wil volg, moet weet?

  • Wees net jouself, dis meer as genoeg.
  • Glo in jou drome, werk hard elke dag en jy sal sien, drome word waar!
  • Vergeet van ander se opinies, fokus op jou doelwitte en om elke dag ‘n positiewe impak op die samelewing te maak. Glo jy kan ‘n verskil maak.
  • As jou drome jou nie bang maak nie, droom jy te klein. Skraap al jou moed bymekaar en droom groot, daardie spesifieke droom het dalk net jou naam op.
  • Wees trots op wie jy is. Niemand is perfek nie. Sien jou eie uniekheid raak.

Wanneer Sharoney nie op die verhoog is nie, is sy baie betrokke by liefdadigheidswerk. Verder is sy ’n gereelde gesig by funksies en feeste regoor die land. Tans is sy hard aan die werk met die opname van haar nuwe album wat in 2020 vrygestel word, en is sy dankbaar vir elke geleentheid en hoogtepunt in hierdie hoofstuk van haar loopbaan.

Volg haar hier:

Facebook: https://www.facebook.com/www.sharoney.co.za

Twitter: @Sharoneymedia

Instagram: @sharoney01

Webblad: www.sharoney.co.za

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.