fbpx

Ses nuwe Afrikaanse flieks om na uit te sien!

Ses nuwe Afrikaanse rolprente gaan die eerste ses maande van 2020 die silwerdoek tref. Hier is waarna jy kan uitsien.

Poppie Nongena (31 Januarie 2020)

Die lankverwagte Christiaan Olwage-rolprent Poppie Nongena (geskoei op die ikoniese boek, Die Swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert) tref op 31 Januarie die silwerdoek. Die boek is deur Olwage en Saartjie Botha verwerk in ’n film en die fliek is deur Helena Spring vervaardig.

Dit vertel die aangrypende verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou en haar gesin wat probeer stabiliteit vind in ’n era van ondraaglike onrus en onregverdigheid in Suid-Afrika. Dit was ’n tyd toe swart vroue onderwerp is aan boetes, arrestasie en gedwonge verskuiwings – dikwels gedwing  om hul tuistes te verlaat en behandel is soos vreemdelinge in hul eie land. Poppie se man word te siek om te werk en Poppie moet ’n desperate stryd veg om wettiglik in haar land te bly en nie van haar kinders geskei te word nie.

Lees meer oor die rolprent hier

Vergeet my nie (14 Februarie 2020)

Madaleen, ’n gekultiveerde student, bevind haarself vasgekeer in die klein dorpie van Potchefstroom en sy smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die verbrokkeling van ’n verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar vriendin, Lara. Hulle bevind hulself in ’n huis saam met vyf ander Suid-Afrikaners en nuwe liefde vat vlam. Madaleen moet uiteindelik kies tussen die liggies van die stad en die plaaslewe …

Die film is gebaseer op die storie Met ’n fiets deur die sneeu deur Madaleen Derks, wat ingeskryf is vir Huisgenoot se tweede film.

Moffie (13 Maart 2020)

Moffie vertel die storie van ’n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980’s tydens apartheid in Suid-Afrika probeer oorleef. Die rolprent is gegrond op die gelyknamige memoir deur André-Carl van der Merwe. Lees ’n resensie deur Francois Lion-Cachet wat op Klyntjie.com verskyn het, hier

Griekwastad (27 Maart 2020)

In April 2012 word Suid-Afrika en die wêreld tot stillstand geruk met die skokkende nuus van die Griekwastad-moorde. Deon (44) en Christelle (43) Steenkamp en hul dogter, Marthella (14), is wreed op hul plaas, Naawhoek vermoor. Marthella is ook verkrag. Hul seun, Don Steenkamp (toe 15), word in 2014 skuldig bevind aan die gruweldade. Die storie van die Griekwastad-moorde word nou op die silwerdoek verewig. Lees meer oor die fliek hier

Flatland (10 April 2020)

Wanneer haar rampspoedige huweliksnag lei tot ’n onbeplande moord, vlug Natalie van haar man na ’n klein dorpie in die Karoo. Saam met haar opstandige, hoogswanger vriendin, Poppie, jaag hulle die onherbergsame landskap van die Groot-Karoo in met Kaptein Beauty Cuba op hul spoor. Die stryd tussen drie desperate vroue sorg vir naelbytspanning.  Lees meer oor die fliek hier

Toorbos (1 Mei 2020)

Toorbos vertel die verhaal van ’n ‘Bosvrou’ se ontworteling in die tyd van die laaste bosbewoners in die Knysna-woude in die 1930’s. Karoliena Kapp se intense verbintenis met die boomhart van die bos word ’n hindernis in die verhouding met die man wat sy liefkry. Wanneer Karoliena met Johannes Stander trou, ervaar sy die onderdrukking van ’n selfsugtige, geldgierige samelewing. Haar lewe word ’n stryd om aan haarself getrou te bly. Die film is geskoei op Dalene Matthee se bekende boek, Toorbos. Lees meer oor die storie hier.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.