Vroue oorheers 8ste Ghoema-toekennings

Die kykNET Ghoemas bring elke jaar die grootste rolspelers in die musiekbedryf bymekaar om vrystellings van die 2018-kalenderjaar te bekroon.

Vanjaar het die vroue oorheers met Demi Lee Moore en Tarryn Lamb wat onderskeidelik vier en drie toekennings gewen het. Demi Lee se trefferliedjie “Mis Eet Slaap Herhaal” het Gewildste Liedjie van die Jaar en Beste Musiekvideo gewen en die gelyknamige album is as Beste Pop-album deur ‘n Vroulike Kunstenaar en Topverkoper van die Jaar bekroon. Tarryn is aangewys as Vroulike Kunstenaar van die Jaar en haar album “Mal Oor Jou” is aangewys as die Beste Kontemporêre Album deur ‘n Vroulike Kunstenaar asook as Album van die Jaar.

Klik hier vir die volledige lys wenners.

Ons raaiskote was vanjaar in die kol!

Met die bekendste name en persoonlikhede, die mees opwindende optredes en die heel beste in Afrikaanse musiek, is vanjaar se agtste kykNET Ghoema-toekenningsgeleentheid die plek om te wees!

Die Ghoemas gaan groter as ooit en word vir die eerste keer op Woensdag, 17 April, by die betowerende Sun Arena by Times Square in Pretoria, aangebied. Indien jy nie self daar kan wees nie, kan jy Woensdag om 20:00 by die lewendige uitsending op kykNET (kanaal 144) aansluit en `n onvergeetlike aand van Afrikaanse musiek beleef!

Hier volg die lys van benoemings (in alfabetiese volgorde) en Afrikaans.com se musiek-ghoeroe, Pieter Cloete, se raaiskote.

NUWELING VAN DIE JAAR

  • DIE AVONTUUR – DOUVOORDAG
  • AANGENAME KENNIS –  EARLY B
  • DAAI DING –  IVAN ROUX
  • BLY LIEF VIR MY –  SERENADE
  • ASEM –  VINCENT GORDON

Early B behoort gemaklik die kategorie sy eie te maak. Van sy musiekvideo’s spog met meer as ’n miljoen trefslae. Hy was ook verskeie kere die mees afgelaaide Afrikaanse kunstenaar op iTunes. Afrikaans.com het onlangs ’n kunstenaarsfokus aan hom afgestaan.

BESTE KOMPOSISIE VAN DIE JAAR

  •  MIS EET SLAAP HERHAAL –  DEMI LEE MOORE  (SKRYWER: JOHAN OBERHOLZER)
  • BERG –  ELVIS BLUE  (SKRYWER: ELVIS BLUE)
  • REISIGER –  REFENTSE  (SKRYWER: REFENTSE MORAKE)
  • MAL OOR JOU –  TARRYN LAMB  (SKRYWER: JOHAN OBERHOLZER)
  • PATENSIE –  TWEE  (SKRYWER: HERMAN KLEINHANS)

Hierdie is ’n baie moeilike kategorie. Tarryn Lamb het die meeste van die 2018-trefferparades oorheers, maar Demi Lee Moore het vinnige in die laaste deel van die jaar ingehaal. My opinie? Tarryn Lamb neem hierdie beeldjie huis toe.