OPTOG – die bus het vertrek!

OPTOG is hier en die eerste vertonings het op 14 Februarie afgeskop in Stellenbosch en Durbanville met die viering van die liefde vir goeie Afrikaanse musiek en toe sommer op Valentyndsdag – die kersie op die koek natuurlik! Drie van die Bestes (Kevin Leon, Matthys Roets, Danie Niehaus) en Elvis Blue het die gehore op hul voete gehad en selfs beurtkrag kon nie ‘n demper wees nie!

Die OPTOG-teaterinisiatief, waarvan Nataniël die beskermheer is, is die grootste enkele konserttoer waarby plaaslike musikante, sangers en akteurs betrokke is. Hulle poog om op ‘n innoverende manier weer van Suid-Afrika se beste produksies planke toe te bring.

OPTOG skep geleenthede vir musiek- en teaterliefhebbers op kleiner dorpe om meer gereeld die kans te kry om hul gunstelingkunstenaars op die verhoog te sien.

Die OPTOG-bus stop egter nie net om dadelik weer te vertrek nie. Die span wil graag lewe blaas in baie van die teaters/sale wat nie meer in gebruik is nie en voete lok sodat hierdie gemeenskappe hul kultuur meer gereeld kan beleef.

Anna Davel, een van die organiseerders, sê die OPTOG-span ervaar net opgewondenheid oor die lengte en breedte van die land.

“Mense in Suid Afrika het veral nodig om uit te sien na iets wat hoop bring, en musiek en teater is presies daardie ervaring wat ‘n mens se siel verryk.” – Anna Davel

Wat is die grootste uitdagings tot op hede?

“Om seker te maak dat OPTOG die regte venues landswyd deel maak van die reis, by soveel mense moontlik kan uitkom en dit steeds ekonomies die moeite werd is.”

Waarna kan mense uitsien? 

Anna sê daar is baie hoogtepunte. “Ons OPTOG-span kan nie een kunstenaar uitsonder nie, want elke konsert is met die hand uitgesoek, en mense kan op iTickets se webwerf gaan loer.  In Februarie is daar Drie van die Bestes, Elvis Blue, Nataniël, Jak de Priester, Romanz, asook Karoo Suite met Coenie de Villiers en Deon Meyer.

Enige nuwe inisiatiewe?

“Die wonderlike ding van OPTOG is dat ons die plaaslike gemeenskap betrek sover moontlik. Venues wat nie meer gereeld konserte aanbied nie, kry weer nuwe asem.”

Afrikaans.com en OPTOG

Afrikaans.com is saam op die bus en by elke geleentheid kry jy die kans om ‘n foto van jouself by ons uitstalling te neem en vir mense te vertel hoe #onmisbaar Afrikaans, Afrikaanse musiek en Afrikaanse teater vir jou is.

Lees meer oor OPTOG hier.