Ons groet Lerina Erasmus – ’n flambojante rooikop.

Lerina Erasmus. Foto deur Alita Steenkamp.

Lerina Erasmus is op Maandag 20 Augustus, op haar 72ste verjaarsdag, aan kanker oorlede. Hierdie aktrise en skrywer het diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap. Saam met akteurs soos Annelize van der Ryst en Annie Basson was sy in die sewentigerjare deel van SUKOVS se Werksteater. Haar vertolking van Adele in Leon van Nierop se radiodrama, Wolwedans in die Skemer, was meesterlik en het haar stem alombekend gemaak. Sy was ook ʼn uitsonderlike verhoog- en televisieakteur. Afgesien van die Mannheimsage-trilogie, wat bestaan het uit drie boeke: Die Fortuinsoekers, Die Goudkewers en Die Goudbaronne, het sy ook ʼn misdaadriller, Die Leliemoordenaar, geskryf. Hierdie verhaal is in 2016 deur Human & Rousseau uitgegee. Ten tyde van haar dood was sy ook besig met nog ʼn werk in hierdie genre.

In hierdie Bravo-insetsel in 2014, kuier Hannes van Wyk aan huis saam met Lerina.

Alita Steenkamp het in 2013 by Lerina en haar man, Günter Schmikal, se pragtige herehuis in Parkwood, Johannesburg gaan kuier en heerlik oor middagete met die twee gesels. Alita se artikel oor hierdie flambojante rooikop, het in 2013 in Plus 50 verskyn:

Met die koms van ons eie plaaslike televisiediens in die middel sewentigerjare van die vorige eeu, kon duisende Suid-Afrikaners vir die eerste keer sien hoe die gesigte agter die mooi radiostemme lyk. Een van hierdie aktrises, wat eers net ’n mooi gemoduleerde stem was, is Lerina Erasmus. Maar in reekse soos Dokter, Dokter en Drama, Drama, het sy met haar flambojante bos rooi hare behoorlik die aandag van die kykers getrek. Ook op die verhoog was Lerina ’n aktrise van formaat en sal sy veral onthou word vir haar spel in klassieke stukke soos Medea, Elektra en Antigone. Dit is dus te verstane dat sy aan die einde van 2009 ʼn ereplek gekry het in die Foxwood-landgoed se Tuin van Beroemdes in Houghton, Johannesburg.

Lerina se treffende turkooisblou oë het nog niks van hulle sprankel van destyds verloor nie. Haar oë gesels lewendig saam wanneer sy vertel hoe haar pad deur die vermaaklikheidswêreld gekronkel het. Sy laat ’n mens lekker lag met haar staaltjies. Een daarvan is hoe sy en Annie Basson, deesdae ’n vervaardiger by 7de Laan, glo vreeslik ydel was. Die twee kom ’n lang pad saam sedert die dae wat hulle in Bloemfontein by die Werksteater betrokke was. Twee regte karperde, sê Lerina van haar en Annie. In daardie dae het die hele Bloemfontein nog mini’s gedra, maar die twee “aktriezes“ wat van die stad af gekom het, het geweet die mini se dae is getel. Hulle het met lang maksi’s en slaprandhoede wat laag oor die een oog getrek is, in die strate af gesweef. Vandag is die twee steeds goeie vriendinne.

Lerina het egter taamlik vroeg in haar loopbaan ’n groot skuif gemaak. Sy vertel: “Toe my seun Stefan-Pieter gebore is, het dit net te moeilik geword om as vryskutaktrise oral heen te gaan. Hulle sê mos die een se dood is die ander se brood, en so ’n geluk het na my kant toe gekom. Die skrywer van die radiostorie waarin ek gespeel het, kon na sy hartaanval nie voortgaan om die storie te skryf nie. Dit het op my skouers geval om die storie by hom oor te neem. Al was dit net my taak om die storie op ’n logiese manier te beëindig, het dit aan my ’n baie waardevolle oefening in die skryf van ’n radiostorie gegee. Wat vir my veral lekker was, is die geleentheid wat dit aan my gegee het om te kon skep. As akteur is jou skeppingspasie baie klein, maar as skrywer het jy meteens soveel skeppingsmoontlikhede.”

Een aand in die teater het daar iets gebeur wat Lerina finaal laat besluit het wat sy in die toekoms wou doen. Sy was saam met Jannie Gildenhuys in die produksie Medea. Die spesifieke aand was daar nie eers ’n vol huis nie, maar alles verder het perfek verloop.

“Toe ek daardie aand, na ’n byna magiese vertoning van die verhoog af loop, het ek geweet ek gaan dit nooit weer regkry nie. In die kleedkamer het Jannie vir my gekyk en gesê: ‘Jy gaan dit nie weer regkry nie, ek ook nie. Ek is uit.’ Dit was ook so en daarna het hy nie weer opgetree nie. Ek het nog so ’n bietjie hierdie kant toe en daardie kant toe gewik en weeg, maar dit het al hoe duideliker geword dat ek vorentoe iets anders sou doen.”

Lerina Erasmus. Foto deur Robert Hamblin geneem.

In 2009 het Lerina ’n ereplek by die Foxwood-huis gekry.
Foto: Jonathan Taylor.

Daarna het daar uit Nerina se pen die wonderlike Mannheimsage verskyn. Dit is oorspronklik as ’n radiovervolgverhaal geskryf, maar met die Eeufeesviering van Johannesburg in 1986, is sy gevra om dit in ’n televisiereeks te omskep. Sy lag en sê sy weet sy staan bekend as ouma Mannheim, maar die reeks is al ’n paar maal heruitgesaai, en is elke keer van voor af baie gewild. Wie sal dan ooit die flambojante Kit Malloy en die vurige Deborah kan vergeet? Uiteindelik het Lerina hierdie verhaal ook in drie boeke vertel: Die Fortuinsoekers, Die Goudkewers en Die Grondbaronne.

Lerina is reeds 44 jaar met Günter Schmikal getroud. Sy vertel hulle het mekaar by ’n kostuumbal in ’n vriendin se woonstel ontmoet. Haar kostuum was die van ’n sigeunerin en die Oostenryker was heel toevallig ’n sigeuner. Die woonstel waarin die partytjie gehou is, was piepklein, en jy kon feitlik nie roer nie. Dit was haar geluk om oorkant die Oostenryker te staan te kom. Günter is ’n sakeman wie se firma reusekleppe maak wat in die oliebedryf gebruik word. Danksy hierdie werk van hom, kry Lerina ook kans om wonderlike eksotiese bestemmings saam met hom te besoek.

Günter en Lerina het vir baie jare filantropiese werk gedoen en op ’n weeklikse basis kos gaan uitdeel vir die hawelose mense wat hulle om die mynhope van Johannesburg gaan vestig het.

“Vir 22 jaar het ons elke Donderdag kospakkies gaan uitdeel, maar ons kon nie daarmee volhou nie. Günter het sy been gebreek, en ons het ’n strandhuis aan die Natalse Suidkus gekoop waarheen ons dikwels gaan. Dit maak die uitdeel van kos moeilik, want as jy weggaan, en jy kom na drie weke terug, is die arme mense behoorlik blou van die honger. Ons wou graag hê iemand moet daarmee aangaan, maar ons kon niemand kry wat die liefdestaak by ons wou oorneem nie. Dit was nie glamorous genoeg nie. Jy werk met vuil mense wat nie altyd lekker ruik nie. Daar was ook geen steun van die owerhede nie, en ongelukkig het die projek doodgeloop. Vandag help ek maar op klein skaal in my onmiddellike omgewing.”

Lerina is tans besig om te skryf aan ’n speurverhaal wat gaan oor ’n reeksmoordenaar wat met fyn presisie te werk gaan. Sy hoop dat die boek teen die einde van vanjaar uiteindelik klaar sal wees, en tog hou sy heeltemal te veel van haar hoofkarakter om hom sommer net te laat doodgaan. Met ’n skalkse glimlag sê sy dan dat sy eintlik al lankal klaar kon gewees het, maar omdat sy ter wille van die lekker skryf, en nie om oorlewing nie, is daar geen haas om dit klaar te maak nie.

Vir Lerina is dit belangrik om fiks en gesond te bly en sy probeer om elke dag in die gimnasium uit te kom. Drie dae van die week het sy ’n persoonlike afrigter wat haar behoorlik laat sweet, en dan is sy te dankbaar om by die huis aan te kom en haar oefenskoene uit te trek. Tog sorg haar gesonde en fikse leefstyl dat sy en Günter, wat nou albei in hulle sestigs is, nog wyd kan reis en baie dinge saam kan doen. Hulle is ook deel van ’n groep vriende wat een maal per maand by iemand se huis bymekaar kom om lekker saam te eet en te kuier by ’n deftige tafel.

“Daar is oorgenoeg rede tot dankbaarheid. My twee kleindogters, Maxime en Alexi, is twee pragtige goedjies. Die tye saam met hulle, Stefan-Pieter en sy vrou Michelle en natuurlik Günter, is baie spesiaal. Dis ook lekker om te gaan sit en skryf op ’n dag wat alles reg verloop. Dan gryp die storie jou en alles val in plek. Dit is ook vir my besonder lekker om ander te kan help. Die slag wat my hart uit sy pad uit voel, weet ek dis tyd om vir iemand anders iets te doen of te gee. Deur dit te doen, poleer jy die reënboog wat in jou siel is, blink. Niks is meer vervullend as dit nie.”