Onmiskenbaar Afrikaans – Leon Schuster

Die veteraanrolprentmaker, liedjieskrywer en grapmaker Leon Schuster is onmiskenbaar ʼn trotse, Afrikaanse Boertjie!  Christiaan J de Swardt  gesels met hom oor taal en geloof, humor en rugby, kritiek en klappe …

“Ek dink die feit dat almal weet ek is ‘n Boertjie maak my onmiskenbaar Afrikaans. Ook my liedjies, baie waarvan satiries is, is in Afrikaans.  Dit sê vir jou ek is wat ek is: onmiskenbaar Afrikaans. Die feit dat álle  kleurgroepe met my movies identifiseer – én hulle weet ek is ‘n Boertjie – wys  jou identiteit is nie ʼn demper nie.”

Dié voormalige Vrystater, in murg en been, woon nie op ʼn  swierige gholflandgoed met  ʼn mensgemaakte meer nie. Sy gerieflike plekkie in Boskruin, Randburg, Johannesburg, is nederig: soos hy – én  dit is soos hy dit verkies.

Hier pryk roemryke herinneringe teen die mure: onder meer die multiplatinumtoekenning vir verkope van  oor ʼn kwartmiljoen CD’s van sy album Hie’ Kommie Bokke, plakkate van sy rolprente, onder meer Mr Bones en Zulu On My Stoep (albei rolprente wat ʼn beduidende internasionale gehoor bevredig het).

Die kroeg is nie ge-stock met drank nie. Sy kroeg weerspieël sy loopbaan: sy talle toekennings, onder meer ʼn Goue Horing (SAFTA) as beste akteur in ʼn rolprent, die SAMA-toekenning vir die grootste plateverkoper, drie toekennings vir sy lewenslange bydrae, fliekaandenkings,  ‘n  klein draadwerk-renostertjie – én Naas se tande!

“Hier is gʼn glamour en gʼn voordoen nie,” sê Leon Schuster (67). “My beste kuierplekkie is op my stoep. Oorkant my stoep is ‘n groen gebied; régtig groen. Dis waar ek sit en luister na die voëls en scheme oor die lewe. As ek vir Cyril na my huis toe nooi, sal ek hom na Amanda, die liefde van my lewe, se huis toe neem. Haar plek is baie mooier as myne! Ek is baie lief vir haar; sy’s ʼn juweel, sy inspireer en motiveer my.  By haar kan ek my hart uitstort en sy verstaan my. Sy het ʼn goeie hart en is baie lief vir diere. My plekkie is te klein om diere aan te hou, maar wanneer ek by haar kuier, speel ons graag met haar drie hondjies.”

Leon en Amanda, ʼn nooi Coetzee en eiendomsagent, is al ʼn geruime tyd ʼn paartjie. Hy bieg hy is “verskriklik, bitter onbehendig” in en om die huis en vertel sy elektrisiteit het juis annerdag uitgeskop…  “Ons het ‘n elektriese kas wat vier eenhede bedien en ek hou toe my lyf elektrisiën en gryp ‘n koperdraad wat my lyk of hy loshang. Ek belowe jou daai skok gooi my drie meter terug – en ek land seer op my boude in die teerstraat soos ‘n sak vrot nartjies wat op die N1 beland het.  My duim was vir weke lank ontsettend sensitief en potblou.  Ek sou nooit ‘n mechanic kon word nie, behalwe die soort in Panic Mechanic!” skerts hy.

Hy sê hy kan glad nie kosmaak nie. “Ek het een aand ‘n pakkie noodles in die mikrogolf gesit sonder om die instruksies te lees. Die resultaat was ‘n uitgebrande pakkie met sulke swart gebrande goedjies wat soos gebraaide erdwurms gelyk het … Ironies genoeg, in  my nuwe movie, Frank and Fearless, is my nering ‘n sjef!”

Ja, Leon Schuster is die meester van humor, maar hy is ʼn emosionele omgeemens wat al onsimpatiek deur die lemme van die lewensmeul bygekom is.

Die nuwe Leon Schuster-fliek, Frank & Fearless begin op 23 November in teaters landwyd draai. (Foto’s verskaf)

“Ek is gewis daardie nar wat in sy masker huil en dikwels agter daardie masker skuil. Enige  goeie clown  laat mense lag, maar deep down is ons ernstige mense. En ons huil maklik …”

Hy sê hy is nie ligsinnig nie, maar: “Cometh the hour cometh the man. Ek haat dit om by funksies clown te wees, maar as dit beteken ek moet dit doen, dan sal ek. Ek pluk my ou varsity songs uit en dan góói ek maar. Gelukkig is my forte op dié gebied om lukraak  vir elkeen daar ‘n liedjie te improviseer.”

Leon, wat pas sy sewentiende rolprent, Frank & Fearless, uitgereik het, beskou homself  as ‘n Suid-Afrikaner. “Ek is nie bang my taal gaan verdwyn nie, maar my gehoor is demografies – alle tale, alle kulture. My moedertaal is Afrikaans, maar my movie-taal sluit Kuvuki, Engels, Zulu, Hollands en matriek-Duits in. Baie van my ‘slagoffers’ in my rolprente is Afrikaans – en ek kan partykeer nie my lag hou as hierdie ouens hul Engels aanwend nie!  Dis die manne wat sal vég vir ons taal!”

Die rolprent Frank & Fearless, uit die pen van Gray Hofmeyr, Leon Schuster en Geoff Newton tref 95 rolprentteaters landwyd.

Dit is die storie van ’n  hartlike, werklose, ou spoorwegsjef, Frank (Leon),  ’n plattelandse Afrika-seun, Fearless (Themba Ntuli), ’n groot hond, Dog, en ’n wees-renosterkalf, Reini, wat probeer om die uitmoor van renosters stop te sit. Hierdie avontuur laat hulle in skreeusnaakse én tragiese omstandighede beland, en hulle word die inspirasie en gewete vir ’n wêreld wat op soek is na helde.

Die sterbelaaide rolverdeling sluit onder andere Kenneth Nkosi, Khanyi Mbau en Jennifer Steyn in.

Die rolprent is geskep deur ’n dinamiese span rolprentkundiges, met die bekroonde filmmaker Gray Hofmeyr (Jock of the Bushveld, Sweet and Short, There’s a Zulu On My Stoep) as regisseur en André Scholtz en Menzi Thabede as vervaardigers.

Dié musikale grapjas, poetsbakker, akteur, sosiale kommentator en uitmuntende loket-rolprentskepper het die Springbokke al twee keer na wêreldrugbyglorie aangevoer. Want, Schucks, sy humor spot en terg, tap ʼn skater, kweek ʼn peins en moedig aan!

Christiaan J de Swardt wou die volgende weet:

Jy was aanvanklik ʼn onderwyser, waarna jy jou as  ʼn omroeper by die destydse Radio Suid-Afrika aangesluit het. En toe skep jy die uitvangprogram Die Vrypostige Mikrofoon. Herroep  die beperkings van daardie jare en oor hoe Afrikaanse radio deur die dekades verander het.

Afrikaanse Radio hou by sy resep – vir jare al. Suiwer Afrikaans, konserwatiewe styl van aanbieding  en ook ‘n meer konserwatiewe benadering tot musiek. Hy het sy gehoor en so sal dit altyd wees. Ek was so baie in die sop as omroeper by die ou Afrikaanse Diens van Radio Suid-Afrika. Veral wanneer ek en Fanus (Rautenbach) in ons Koukus-program die draak gesteek het met die sake van die dag. Die destydse stasiehoof, Morkel van Tonder, het gereeld ons opnames gesensor –  en dan sou ek op ‘n Vrydagaand sy kantoor binnesluip en van my darlings terug in die program redigeer.

Die program is op ‘n Saterdagoggend herhaal en ek het geweet die omroeperpersoneel het reeds Dinsdagaand na die program geluister. Ek is later toe óók uitgevang –  en Morkel het my en Fanus se gaie geskop en die program summier beëindig! Ons het baie gekgeskeer met ‘Die Groot Krokodil’  en ek dink hy en sy trawante wou nie byt aan die alternatiewe tipe program nie. Die publiek was mal daaroor, maar ons monde is gesnoer en ons kreatiwiteit gedemp.

Maar RSG doen steeds ‘n great jop vir sy luisteraars. As ek baas was van daardie stasie sou ek meer humor ingewerk het,  want dis wat die mense wil hê.Ek kan my net indink as Riaan van Heerden  in sy spesifieke ‘omstrede’ styl van uitsaai en sy meng van tale ‘n program op RSG sou aanbied. Die luisteraars sou die horries kry!

Jy het met jou eerste rolprent, You Must Be Joking, iets heeltemal anders in die tagtigerjare aan die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf toegevoeg. Dit was ʼn reuse- risiko, maar dit het die weg gebaan vir die Oh Schuks It’s Schuster-flieks, Panic Mechanic en There’s A Zulu On My Stoep. Wat was die uitdagings destyds?

Dit was ‘n totale wegbreek van dit wat ek by die radio gedoen het. En ek het aan ‘n nuwe gehoor begin bou.

“Ek het carte blanche gehad; geen burokratiese  fundi’s wat my kon sensor nie. Uiteindelik was daar vryheid van spraak – solank my gehoor net daaraan sou byt.”

Ek het “weggebreek” van my tradisionele gehoor – en dit was absoluut die regte besluit op die regte tyd. Dit het die weg gebaan  vir alles wat daarna gevolg het  – onder meer Mama Jack en Mad Buddies – en dit het ons nou by Frank & Fearless uitgebring.

Jy het volhoubaar vasgebyt en is steeds ʼn  suksesvolle en gewilde rolprentmaker en akteur. Hoe het dinge deur die jare verander – makliker of moeiliker geword – en wat is die grootste uitdagings nou?

Beslis moeiliker, want met elke rolprent was die uitdaging groter. As jy ‘n  “flop”  het, is dit bitter moeilik om dit weer reg te pluk. Jamie Uys is my ikoon. Nadat Gods Must Be Grazy 2 nie so ‘n fenomenale sukses was soos die eerste  een nie, het hy vir my gesê: “Die volgende een gaan beter wees.” Ek het sy draaiboek gelees – dit was 700 bladsye lank – maar ek kon duidelik sien waarheen Jamie mik. Dit is bitter, bitter tragies dat hy in die proses van die movie skryf aan ‘n hartaanval gesterf het.

Jy sien, sy uitdaging was gróter, en hy sou nooit bes gee nie. Ek kan nie sê wat die grootste uitdaging nou is nie; my kop is rondom Frank & Fearless, maar die muse sal my binnekort slaan; ek weet dit. Onthou, ek stap nou aan 70 toe en ek moet  dinge ‘n bietjie kalmer vat. Maar as die Here jou geseën het met kreatiewe denke dan hou jy aan – miskien tot die dag wat my grafskrif sê: “Leon kon nie die laaste klap vat nie”.

Wat is die grootse tekortkominge in die rolprentbedryf – én die oplossings?

Finansiering is ‘n groot probleem. In die huidige ekonomie is elke rolprent ‘n risiko en die beleggers raak al hoe versigtiger. Die oplossing sou wees dat ek my eie movies finansier, maar ek het nie daardie tipe fondse nie. Ek moet finansieel beplan vir my oudag, wat net om die flippin draai is! Die oplossing lê in regeringsbystand. Dit sal hulle met Jan Taks help en as hulle die pot rááksit met movies wat oorsee verkoop, is hulle in die pound seats. En dit kán gebeur, want hier is baie fantastiese stories om te vertel wat internasionaal byval kan vind.  Ons is baie dankbaar vir wat die DTI en die IDC tans op die finansiële gebied vir rolprentmakers doen.

Waaroor moet ons nog rolprente maak?

Ons het genoeg ernstige movies gemaak met ‘n politieke ondertoon wat die wonde van die verlede oopkrap.  Die mense wil relax, nie stres nie. Maak eerder satiriese komedies waarin jy met die sake van die dag spot:  Zuma, Malema, die chaos in die parlement, Steve en Die Stem. JA. Die Sweet ‘n Short-tipe movie waarin ons voorspel het wat in die toekoms in die land gaan gebeur.  DIS wat die mense wil hê. Ek het nog altyd my vinger op die pols gehad van die sogenaamde “Rainbow Nation”: waaghalsig, maar snaaks. Die mense love dit as jy omstrede goed aanpak, want hulle kan identifiseer daarmee.

As sanger het jy meer as 20 albums uitgereik en met Hie’ Kommie’ Bokke reusemusiekwelslae behaal. Jy het  as‘t ware nie-amptelik tot die Springbokke se seges teenoor die All Blacks in 1995 en toe weer in 2007 teen Engeland tydens die Wêreldbekertoernooie bygedra.  Jy was inderdaad self ʼn kranige speler en voorste haker. Wat wink vir ons Springbokspan?

Ek het 75 kg in my beste rugbyjare geweeg! Vergelyk dit met vandag byvoorbeeld met Malcolm Marx wat seker ‘n goeie 110 kg weeg. Hoe groter, hoe beter. Maar dan is daar die Faf de Klerks wat soos Dawid lyk as hy langs Etsebeth staan!  Daai outjie het die hart van ‘n leeu en kyk hoe tackle klein Cheslin Kolbe die All Black-grotes!  TROTS is die wagwoord; nie noodwendig grootte nie. Rassie kry dit reg om die TROTS terug te bring in die spel!  En HART. Ons moet net so aanhou en ek hoop uit my hart uit dat ons hierdie hoë standaarde wat deur die Springbok-afrigters gestel is, sal handhaaf tydens die opkomende Europese toer.

Man, mis ek nie daai vrygeestigheid, kommerloosheid, minimum stres en om weer ses weke lank saam met my varsity-span, die Shimlas, in Europa te toer nie!  Ek mis egter nie die Engelse klas op Kovsies waar ek T.S. Elliot se gedigte moes ontleed wat net so moeilik was soos om Hebreeus in Afrikaans te vertaal. Ek het maar die goed soos ‘n papegaai uit my kop uit geleer, onbewus van wat de heng dit beteken.

Ja, ons is deur ‘n baie slegte tyd met Springbokrugby, maar dinge gaan nou beter. Ek dink eerlikwaar dat transformasie nou goed toegepas word en dat die beste spelers gekies word, ongeag kleur. Die reeks teen Engeland,  die Aussies,  die All Blacks, die Franse Hane en die Skotte het dit bewys. Ons is nog nie heeltemal daar nie, maar as Rassie (Erasmus) voortbou op sy huidige patroon, gaan ons weer ‘n krag in wêreldrugby word.

Word Afrikaans bedreig en kan die aanslae afgeweer word om ons taal te laat oorleef en te floreer?

Daar is briljante kunstenaars in Afrikaans. Ek het ‘n rukkie gelede met Bokradio se Bokkie-toekennings weer onder die indruk gekom hoeveel Afrikaanse sangtalent daar in die land is. Jan Blohm;  sommer drie toekennings op een aand! Fantasties!  En die “ouer” Steve (Hofmeyr) wat steeds sy gehoor vasnael. Ek dink daar moet bietjie minder oor die liefde gesing word en  meer oor Mphe die Hoenor! Ek het my slap gelag vir ou Robbie (Wessels).  Wraggies, hy kan die komiese spyker op sy kop slaan!  Nee wat, daar is oorgenoeg briljante kunstenaars en as ek kyk waar die Afrikaanse musiekbedryf hier in die vroeë 80’s gestaan het toe ek my buiging gemaak het, en waar dit nou staan, is ek verstom! Musiekfeeste, 6000 mense per slag en nog meer bewys dat die mense bankvas agter hulle gewilde kunstenaars staan.

“As jy onlangs saam met my by die Bokkie-toekennings was, sal jy weet die Afrikaner ruk in hul derduisende op na groot musiekfeeste. Gaan sê jy vir daai  mense Afrikaans gaan uitsterf en hulle gryp  jou aan die agterbene, sleep jou na die vuur en sê: “Nou gaan ons braai!’”  Nee wat, daar is so baie onderstrominge in ons regering dat die laaste punt op hul agenda is om Afrikaans te verinneweer!  En gaan sê dit vir Steve. Hy sal sê: “Ek STEM!”

Wat hoop jy kan ons nog in Afrikaans vestig en in kuns en vermaak bereik?

Ek was ‘n klompie jare gelede in Amsterdam en het ‘n vertoning bygewoon van ‘n Nederlandse komediant, André van Duyn. Die konsert is gehou in ‘n massiewe teater en dit was inderdaad ‘n konsert met groot verskeidenheid; nie net liedjies nie. Hy doen sketse, afgewissel  met ‘n skouspel van diere, kulkunstenaars, buiksprekers en dies meer. Dis my droom om eendag dié tipe konsert saam te stel en aan te bied. En ek dink Suid-Afrikaners van alle kleure en geure sal dit geweldig geniet. Ek voel die gebrek aan ʼn  kleurryke verskeidenheidskonsert in Suid-Afrka met al sy talent is ‘n groot tekortkoming.

Is daar ʼn verskil tussen kuns en vermaak, gehalte en kommersialiteit?

Kuns is Andreas Bocelli, Vincent van Gogh, Leonardo da Vinci, Meryl Streep, Beethoven. Beslis nie Leon Schuster nie. Dis soos die mense dit sien.

Vermaak is Beethoven die hond,  Mphe die hoenor, my movies, Swem, Jannie Swem. Die béste vermaak is Leon van Nierop wat my uittrap omdat daar altyd ‘n p**p in my movies is!

Jy gaan nie ‘n kommersiële sukses hê as daar nie gehalte is nie. Dit kan nou maar Dumb and Dumber of Mama Mia wees.  Dis goeie voorbeelde van kuns én gehalte. Jim Carey is ‘n uitmuntende “kuns”-tenaar,  want sy mimiek, hansworstery en gesigsuitdrukkings is ‘n absolute kuns. So ja, ALLES wat wérk, kom uit ‘n kreatiewe brein. DAN IS DIT KUNS.

Jy ken erkenning. Hoe belangrik is toekennings?

In nederigheid, belangrik. Sjoe, toe ek die Bokkie-toekenning ontvang,  toe staan 5000 mense op en gee my die erkenning. Ek is net ‘n mens; nie ‘n windgat nie. Ek sien sulke toekennings as die gevolg van ‘n klein talentjie waarmee die Here my geseën het. Ek ontvang die toekennings in dankbaarheid en loof my Skepper daarvoor. Ná die Bokkie-toekenning het ek een aand gedroom ek staan voor die Here en ek vra Hom: “Het ek dit verdien?” Hy het my ‘n thumbs-up gegee en gesê: “Sharp sharp”!

Jy ken ook kritiek. Hoe hanteer en verwerk jy dit?

As die kritiek van my mense kom, hanteer ek dit moeiliker as wanneer dit van die kritici kom. Die resensente se jop is om die movie te ontleed, dit te meet aan die genre van die spesifieke movie – en te besluit is dit goed of sleg. Hulle verteenwoordig nié my gehoor nie. Ek gee nie om as hulle my kritiseer nie; ek glo dit is die loketsyfers wat tel en as dit by die loket werk, hét MY mense dit geniet. Dis maklik om op die kantlyn te staan en die Bokke te kritiseer, veral as daai kantlyn-ou se droom was om ‘n Bok te word…

Jy het ʼn egskeiding en ʼn mislukte verhouding agter die rug en jy ken hartseer en afskeid. Het jy enige berou?

Miskien berou ek die feit dat ek so opgeneem was in my loopbaan dat ek destyds ʼn bietjie uitgemis het op my vier kinders se grootword. My dogter, Leandé, het pas ‘n tweeling gehad. Daai pienkvoetjies  is goud; net soveel goud is haar vyfjarige dogtertjie my oudste dogter, Lelanie, se twee onnutsige, maar dierbare seuntjies. En ek probeer opmaak met hulle wat ek met my eie kinders gemis het.

My seun, Ernest, kom pluk my soms hier agter my rekenaar uit en sê: “Pa, kom ons gaan lunch.” Dis baie ontspannend, want ons is twee mense wat mekaar baie goed ken. Dan sal hy na my verbleikte T-hemp kyk en sê:  As ons hier klaar is, gaan koop ons vir Pa klere.” Ek haat dit om in malls rond te hang, behalwe as hy my na die klerewinkels neem. Hy’s nie ‘n cheapie nie; dra net branded kepse en klere. Dan laat ek maar toe dat hy my ook brand!

Ernest se tweelingsussie, Rachelle, woon in dieselfde kompleks as ek. Daar is geen groter vreugde om te  hoor “Nou gaan ons braai nie!” Dis samesyn met my vier kinders en die vyf kleinkinders!

My grootste hartseer was my pa se dood en toe my broer en sy vrou, Hettie, se oudste seun Walter op 21-jarige leeftyd. Hy was ʼn begaafde musikant, het ʼn goue stem gehad en ʼn suksesvolle musiekateljee in Bloemfontein bedryf. Hy was ‘n wonderlike siel met ‘n fenomenale gees. Sy dood het ons geweldig geruk, maar ons het geloof behou en ons hartseer in ons Groot Vader se skoot gaan neerlê. Ek het net nou die dag ‘n wonderlike artikel gelees wat sê dat as jou lewe in Jesus geanker is, maak dit die dood van ‘n geliefde ‘n bietjie makliker, want jy weet sy eindbestemming is om voor die Troon van ons Koning Jesus te staan.

Ek het soveel om voor dankbaar te wees: Liewe Jesus, my dierbare lewensmaat, Amanda, my 96-jarige moeder, my kinders en kleinkinders, my Ouboet, Amanda se hondjies – en diepseehengel; geensins in volgorde van belangrikheid nie – eerder aanvullend tot mekaar.

Terloops, is jy tevrede met wat die spieël weerkaats?

Ek sien my alie, want die skok is blerrie groot. My boep hang oor my belt, my oë is kleiner, want die pap velle bo my ooglede laat my oë by die dag krimp. Is ek tevrede daarmee?  Nee!  Ek wil weer lyk soos op my matriekafskeidfoto! Ek wonder baie hoe daai poppie aan my sy nou lyk…

  • Die rolprent Frank & Fearless word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal op 23 November 2018 landswyd uitgereik word. Dit is vervaardig deur Thabede Menzi Films, Schus Productions en Dapple Films, in samewerking met M-Net, Film Chrome, Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI), die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC), SANParks en Die Departement van Omgewingsake.

Sosiale media:

Facebook:  https://www.facebook.com/frankandfearlessmovie/?ref=bookmarks

Instagram: @frank_and_fearless

Twitter: @frank_and_fear

Hutsmerk: #Fearless

  • Lees ook Christiaan J de Swardt se artikel “Reguit en vreesloos” in Vrouekeur van 30 November 2018. Leon Schuster gesels onder meer oor rampe, dagga en vrede.