fbpx

5 November 2019

‘n Verrassende kombinasie van klank

Die Klankgolf-Tuinroete-toer

Dit is nie te sê as jy van ’n klein dorpie af kom, moet jou drome klein wees nie. So sê Klankgolf, ’n toergroep wat bestaan uit ’n groep begaafde musikante wat graag hulle musiek met die res van die land wil deel. Hulle vertel meer oor hulle Tuinroete-toer wat in November 2019 plaasvind.

Die beste manier om jou drome waar te maak, is om nie bang te wees om ’n kans te waag nie, en dit is presies wat Carla van Wijk (voorsanger, liedjieskrywer, kitaarspeler, klavierspeler en mondfluitjiespeler), Weco van Basten (voorsanger, liedjieskrywer, kitaarspeler en klavierspeler) en Jopie Pienaar (baskitaar en elektriese kitaar) besluit het om te doen toe hulle die musiekwêreld betree het.

Beide Carla en Weco sing reeds vandat hulle klein is en het reeds boeke vol lirieke, wat hulle self geskryf het, op hulle onderskeie boekrakke. Maar dit was eers in hulle dertigs, nadat hulle vir ’n paar jaar gefokus het op ander loopbane, wat hulle besluit het om weer ernstig op hierdie passie te begin fokus.

Jopie, wat saam met Weco deel vorm van die groep Victor Bravo, het toevallig op dieselfde tyd besluit om ’n kans te waag en oor die afgelope maande het nog nie een van hulle teruggekyk nie en het hulle meer sukses behaal as waaroor hulle ooit sou kon droom.

Carla en Victor Bravo se paaie het vir die eerste keer in 2018 gekruis nadat hulle mekaar by die Local is Lekka-inisiatief raakgeloop het.

Omdat hulle van die begin af groot bewondering gehad het vir mekaar se musiektalent, het hulle sommer gou vriende geword en ontdek dat hulle nogal heel goed saam musiek kan maak. Stadigaan het die gedagte toe begin vorm om as vriende en musikante saam te gaan toer en hulle musiek met die res van die land te deel. Weco het juis nog altyd gedink dat iets soos die tipe toere wat Johnny Cash, Elvis Presley, Jerry Lee Lewis en kie destyds deur Amerika gedoen het, ’n goeie idee sou wees in die plaaslike bedryf.

Dié passievolle trio is baie opgewonde oor die geleentheid om vir die eerste keer in ’n meer amptelike en gestruktureerde formaat saam te werk en ’n onvergeetlike produksie op die planke te bring. Hulle verklap ’n bietjie meer oor wat gehore te wagte kan wees.

Afrikaans.com-klankgolf

Hoekom die Tuinroete?

“Ons is almal lief vir die Kaap en het al in die meeste ander provinsies opgetree. Daarom het ons gevoel dat dit tyd is om ons vlerke te sprei en ons musiek aan ’n nuwe gehoor bloot te stel… en waar dan nou beter as die area wat bekend is vir sy Afrikaanse musiekfeeste.”

Klankgolf is anders, waar kom dit vandaan?

“Omdat ons nie gewoonlik saam optree nie, wou ons ’n naam kies vir die groep wat lekker val op die tong en iets beteken. Nadat ons elkeen verskeie name voorgestel het, het almal op Klankgolf besluit. Dit herinner ’n mens nie net aan die see nie, maar ook aan wat ons wil bereik met ons musiek; en dit is om iets mooi en uniek te begin wat soos ’n koel lafenis oor die harte van musiekliefhebbers sal spoel.”

Wat maak julle vertoning besonders?

“Ons vertoning is besonders omdat dit ’n gesonde balans handhaaf tussen oorspronklike liedjies en gewilde treffers. Mense kan uitsien na kwaliteitmusiek deur talentvolle musikante. Daar gaan iets wees vir elkeen se smaak en ons sien uit daarna om lekker saam met gehore te sing en kuier. Verder neem ons ook ’n verskeidenheid instrumente saam op toer, wat verskeie kitare, ’n klawerbord en mondfluitjie insluit.”

Hoekom werk julle so lekker saam as musikante?

“Om saam met vriende en musikante te werk vir wie ’n mens soveel bewondering en respek het, maak jou opgewonde en ons sien uit daarna om die eindresultaat met almal te deel. Om te toer is ’n lekker ervaring vir kunstenaars wat die kans kry om hulle werk met nuwe mense te deel, asook gehore wat aan ’n nuwe tipe klank blootgestel word. Omdat ons weet hoe talentvol almal is wat by die projek betrokke is, was ons seker van wat die gehalte van dié produksie gaan wees en is dit vir elkeen van ons ’n voorreg om te kan deel wees hiervan.”

 Waar kan mense julle oral sien tydens die toer?

“Die toer vind plaas vanaf 6 tot 12 November 2019 en sluit vertonings in by:

*Outsiders B&B, Nieu-Bethesda – 6 November 2019 – 19:00 tot 23:00

*La Dolce Vita, Oudtshoorn – 7 November 2019 – 20:00 tot 23:00

*Locals Pub & Grill, Grootbrak – 8 November 2019 – 18:30 tot 22:00

*Caspita Mediterranean Restuarant, George – 10 November 2019 – 12:00 tot 15:30

*Mujō Bar & Restaurant, George – 11 November 2019 – 19:00 tot 22:00

Belangstellendes kan ons kontak by klankgolf@gmail.com.”

Dié groep glo dat musiek ’n universele taal is wat direk met die hart praat en daarom is die hooffokus juis om hierdie aspek in hulle eie werk weer te gee. Die treffende manier waarop hulle bestaande verwerkings aanpak, nuwe materiaal skep en verskillende klanke soomloos kombineer, sal nie net ’n plesier wees vir elke oor wat daarna luister nie, maar ook ’n blywende indruk op musiekliefhebbers laat.

Volg hulle reis op

Facebook: https://www.facebook.com/Klankgolf/

Instagram: @klankgolf_musiek

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.