’n Taalfees vir almal!

Vanaf 1 tot 7 Julie is dit weer aan die gons op die Kovsiekampus in Bloemfontein. Die Vrystaat Kunstefees is die besoek werd. Vat gerus ‘n blaaskans en trotseer die winterkoue om te deel in die aanbod wat jou wêreld sal verbreed en ’n program wat vermaak bied wat jy nêrens elders sal vind nie.  Die ryk aanbod sluit  vanjaar weer vlagskipproduksies in Afrikaans, Engels en Sotho in en jy kan jou verlustig in alles van musiek, eksperimentele dans, visuele kuns, lewende kuns, klankkuns tot kunsvlyt. Daar is iets vir elke smaak – dit is immers dié fees vir almal!

Van die hoogtepunte …

Internasionale deelname

Die Vrystaat Kunstefees, wat as een van die sleutel-kunstefeeste op die Afrika-vasteland bestempel word, bied ‘n breë spektrum van nasionale en internasionale werk in ‘n indrukwekkende rits genres aan. Benewens die groot getal Suid-Afrikaanse kunstenaars is daar ook ‘n magdom kreatiewe praktisyns van sover as Australië, België, Kanada, die Karibbiese eilande, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Malawi, Mexiko, Nigerië, Senegal, Singapoer, Brittanje, die VSA en Zambië, en dit is nie eens al die verteenwoordigende lande nie.

Kyk ook uit vir die populêre Reza de Wet-Tienertoneelvertonings van regoor die land.

Die Vrystaat Kunstefees is die eerste Suid-Afrikaanse fees wat die Khoi-Sanprotokol toepas deur die Eerstenasies en tradisionele grondeienaars op openbare platforms en in die feesprogram te erken. Die fees se Eerstenasie-verwelkomingseremonie is ‘n unieke geleentheid in Suid-Afrika. Diana Ferrus tree boonop op as die Sol Plaatje-sleutelspreker.

Toneel

Die vlagskiptoneelstuk is Kamphoer, die storie van Susan Nell wat gegrond is op ‘n ware verhaal uit die Anglo-Boereoorlog.

The Island, geregisseer deur Jerry Mofokeng wa Makhetha, is soos Kamphoer ‘n debuutstuk en ook op ware insidente gegrond. Athol Fugard, John Kani en Winston Ntshona het saam aan dié apartheidsdrama geskryf wat in ‘n tronk soortgelyk aan die berugte Robbeneiland afspeel.

Die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) bied ook twee vlagskipproduksies aan, Katvoet met Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots, Albert Pretorius, Martelize Kolver en Geon Nel, en My Seuns met Sandra Prinsloo, Louw Venter, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Buhle Ngaba en Donovan Pieterson.

Musiek

Vir musiekliefhebbers is daar onder meer die kort opera, The Maid and the Thief van Menotti, 40 Vingers Volume 2 met Charl du Plessis en nog drie pianiste, die kamermusiekkwartet Classica van Amerika, die klavierduo Flying Fingers van Bloemfontein en Most Magical Music Moments met Niël Rademan en die Kaapse sopraan Lynelle Kenned. Amanda Strydom bring Stadig oor die klippers en op die kontemporêre musiekverhoë sal vermaak verskaf word deur die rock-ikoon Karen Zoid, The Parlotones, Spoegwolf, Heuwels Fantasties, Andile Qongqo, Asanda Mqiki, Jak de Priester, Anna Davel met ‘n Shirley Bassey-huldeblyk, Jannie du Toit, Drie van die Bestes (Mathys Roets, Danie Niehaus, Kevin Leo) en All the Way from Bloem. Laasgenoemde is die sanger en kunstenaar Jacobus Silwer se projek wat opkomende Vrystaatse kunstenaars die geleentheid gee om te wys waartoe hulle in staat is.

Lewende kunste

Die twee belangrikste kunstenaars in die Program vir Innovasie in Kunstevorm-ontwikkeling (Piko) is die Suid-Afrikaner Marius Jansen van Vuuren en die Australiër Paul Gazzola. Ons kan ook helde wees is die titel van hul tydelike kunswerk wat deur die sterpatrone in die suidelike halfrond, verbeelde wêrelde en plaaslike mitologieë geïnspireer is. Die fees se lewende kunsprojekte sluit in The Vertical Journey – a tribute to the still unknown deur Marcus Neustetter, wat ‘n reeks kortfilms bekend stel waarvoor die planetariumkoepel op Naval Hill as “skerm” sal dien, terwyl lewende improvisasies die vertoning vergesel. ‘n Tydelike kiosk vir eksperimentele rolprentvervaardiging en die vertoon daarvan asook Ella Ziegler en Andrei van Wyk wat gehore in openbare en private ruimtes by speletjies sal betrek.

Visuele kunste

Visuele kuns sluit vanjaar Footprints deur Andrew Tshabangu in die Stegmann-galery in met Thembinkosi Goniwe as kurator, en dwell in possibility in die UV se Eeufeessentrum. Johann du Plessis is hier die kurator vir nasionale kunstenaars soos Michael Taylor, Andile Dyalvane, Lien Botha, Mbongeni Buthelezi, Alta Botha, Iaan Weldeck, Bongi Bengu, Katherine Glenday en talle ander. Betwixt & Between in die Scaena-portaal is ‘n uitstalling waarin kunstenaars van die Vrystaatkunskollektief hul reaksie op hul lewenservarings in die Vrystaat uitbeeld. In die Oliewenhuis Reservoir stal die fotograaf Jodi Bieber nie net foto’s uit nie – in #i kombineer sy dit met visuele navorsingswerk, onderhoude, tekste, digitale fotografiese collages en ontwerp.

Film

Talle verhale van lande oor die wêreld kan in vanjaar se rolprentfees beleef word. Die omstrede Suid-Afrikaanse fliek The Wound en die roerende Heartstone van Ysland is te sien. ‘n Baie spesiale opera word ook vertoon, Don Pasquale van Donizetti met die Suid-Afrikaanse dirigent Gérard Korsten en sy wêreldbekende vrou, die sopraan Eva Mei, in die hoofrol.

Vrynge

Dié platform vir opkomende kunstenaars en beroepslui wat nuwe werk wil toets, huisves vanjaar talentvolle kunstenaars van die Vrystaat, Suid-Afrika en die buiteland.

Gesinsvermaak sluit in Francie en haar foon en Die groot avonture van Vernon en sy maats: Die heks fiasco.

Die Vrystaat Kunstefees vat ook hande met die Baxterteater en die Lagos-rimpelfees vir meer plesier. Vrynge 2019 sit sy missie voort om brûe tussen kunstenaars en gemeenskappe te bou en om ‘n geleentheid te skep waar die publiek wêreldklas-kuns kan ervaar.

Vrystaat Literatuurfees

Meer as 70 aanbiedings oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe sal feesgangers bekend stel aan plaaslike, nasionale en internasionale skrywers en digters wat aan besprekings, lesings en werksessies deelneem. Van vanjaar se temas is geloof en spiritualiteit, seks, humor, rillers, kortverhale en memoirs. Hoogtepunte om na uit te sien is optredes deur Amore Bekker, Carina Diedericks-Hugo, Erns Grundling, Daniel Hugo, Herman Lategan, Maretha Maartens, Jean Oosthuizen, Alexander Strachan, Pieter-Dirk Uys, Rudie van Rensburg, Jan van Tonder, Ingrid Winterbach en Bettina Wyngaard.

Klik hier vir die volledige program.