Snoek-en-Patatfees: 28 en 29 Junie 2019

Ma en dogter -Karin en Carlene Moorrees span elke jaar saam en werk om die fees ‘n sukses te maak.

Goedverwacht se gemeenskap spog met hartlikheid, goeie kos en ‘n erfenis wat hulle hierdie tyd van die jaar met almal deel.

Sedert die vorige eeu is die vrugbare Goedverwachtvallei (digby Piketberg) met sy gematigde klimaat en vlytige entrepreneurs bekend as die “kosmandjie’ van die Weskus. Die beste, soetste patats word hier gekweek.

Gedurende die depressiejare het hierdie boere hulle patats op naburige dorpe begin ruil vir snoekmootjies, bokkoms en maasbankers en vandaar het die watertandmaaltyd, veral in wintermaande, ‘n ereplek in Weskuskultuur – gebraaide snoek met ’n spesiale soetsuursousie, oondgebakte patat en roosterbrood met korrelkonfyt … natuurlik met ‘n goeie beker moerkoffie.

In 1996 het die plaaslike toerismebeampte, Lorraine Cornelius en ’n groepie gewillige inwoners, saamgespan en besluit om hierdie feesmaal, ’n kultuurskat, sy regmatige plek op die Suid-Afrikaanse MOET-beleeflys te gee en die gevolg was die Goedverwacht Snoek-en-Patatfees. Die grootste doel was om geld in te samel sodat hierdie sendingdorpie sy eie toerismekantoor kon vestig en hierdie juweel van ’n plek vir besoekers toeganklik te maak. Aanvanklik was die fees klein, maar het sedertdien so gegroei dat daar jaarliks meer as 5000 mense die dorpie instroom en die Snoek-en-Patatfees beklee nou sy volwaardige plek op die Suid-Afrikaanse feeskalender. Die toerismekantoor hanteer ’n toevloei van gaste wat reg deur die jaar die pragomgewing besoek en die spesiale mense van hierdie streek leer ken.

Die 19de fees vind vanjaar op 28 en 29 Junie plaas en gaste sal self op tuintoere kan gaan en patats oes vir hul etes. Feesgangers kan ook tradisionele Khoi-patatresepte probeer. ’n Deel van die winste word geskenk aan gemeenskapsorganisasies wat die maatskaplike uitdagings in die gemeenskap hanteer.

Ons was verlede jaar daar en René Arendse, Afrikaans.com se gemeenskapskoördineerder, het die gees van hierdie kultuurfees ontdek en besef dit is veel meer as die varsgebraaide snoek, roosterkoek en die soetste vuuroondgebakte patats. Kultuur en erfenis is die belangrikste bestanddele. Dit snoer hierdie spesiale gemeenskap saam en is die grootste rede waarom hierdie  suksesvolle fees uit sy nate bars.

Lees meer oor die fees hier.