fbpx

MYMYMY – Synth Pop in Afrikaans

MYMYMY se eerste EP “Ons S’n Is Beter” is in 2016 vrygestel en was die eerste samekoms van liedjieskrywer Conrad van Breda en sanger Jana Oosthuizen. Dit was ‘n poging om sintetiseerder-gedrewe klanke met smeulende sang te meng en sodoende die Synth Pop-genre in Suid-Afrika in Engels en Afrikaans te versterk. Die musiekvideo’s vir enkelsnitte “Net Musiek” en “Kryger” het die meeste aandag geniet en was populêr op KykNet en KyknetNou.

Hulle speelse tong-in-die-kies benadering tot lirieke en subtiele instrumentasie is in 2017 voortgesit met ‘n musiekvideo vir “Strange Place”, en die suksesvolle “Wakker Skrik” in 2018.

Van die begin af was die idee om iets anders te doen – om die Synth Duo-idee uit te bou tot ‘n konsep- en visueelgedrewe kunsprojek –  binne ‘n raamwerk waar die byt gebêre lê onder ‘n dun laag Pop Nonchalance.

Jana sing en speel toneel van ‘n jong ouderdom af – en maak haar eerste buiging in Ian Von Memerty se musiekblyspel Fiela’s Child as Nina en het al selfs ‘n draai op 7de Laan gemaak waar sy die rol van Lienkie vertolk het. Jana is ook stigter van die dramaskool by Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

Conrad is tans musiekvervaardiger, vioolonderwyser en pilatesinstrukteur.

In 2019 is MYMYMY terug uit die laaste onbewoonde uithoek van die heelal na ‘n besoek aan hul onstuimige tuisdorp (IN HIERDIE DORP), raak hul steeds oombliklik verlief op vreemdes in Pick n Pay (STARE), lewer hul ongevraagde kommentaar teenoor kunstige tipes (OOH LOOK AT ME) en besef hulle dat die beste dinge in die lewe gebeur nadat die afterparty lankal verby is (OORSKIET).

OORSKIET is ‘n versameling uiteenlopende snitte wat elk ‘n unieke storie vertel, maar tog saamgebind word deur ‘n klankwêreld onderskraag deur warmgestemde analoë-sintetiseerders waarbinne melodieë tydloos sweef.

Dit is ook die begin van ‘n konsep wat in 2020 verder gevoer gaan word met nuwe musiekvrystellings en ‘n klubkabaret  getiteld “Verskynsel”, waar musiek, dans en visuele animasie saamgegooi gaan word vir ‘n unieke ervaring.

Voorkom Verdriet, geniet Oorskiet!

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.