fbpx

5 Mei 2020
Geskryf deur: Lara Erasmus

Lof vir Arnold Vosloo se eerste Afrikaanse film in 30 jaar 

Die akteur Arnold Vosloo het nie bekendstelling in Suid-Afrika nodig nie. Plaaslik, maar veral internasionaal, het hy die afgelope jare menige aspirantakteur hoop gegee en laat droom oor ’n internasionale loopbaan.  As jong akteur het hy Suid-Afrikaners se harte verower in rolprente soos Boetie Gaan Border toe en Meisie van Suidwes … Die ster se aspirasies het egter nie by die border gestop nie en hy is kort voor lank Hollywood toe om sy loopbaan as internasionale akteur te vestig. Met rolprente soos The Mummy, Blood Diamond en talle ander is die res geskiedenis …

Luister na ons eksklusiewe onderhoud met Arnold:

Arnold Vosloo en Brendan Fraser in The Mummy

Maar nou is Arnold vir die eerste maal in 30 jaar terug op die Afrikaanse silwerdoek in die krities bekroonde rolprent Griekwastad. Hy het binne 24 uur van die ontvangs van die draaiboek, wat met behulp van sy suster aan hom in Amerika besorg is, tot die rol van hoofspeurder, Dick de Waal, ingestem.

Afrikaans.com het met hom gesels oor wat hierdie rolprent van ander Suid-Afrikaanse aanbiedinge wat oor die jare gekom het onderskei, sy liefde vir Afrikaans en sy hoop om selfs nog meer in Afrikaans te werk.

‘’Ek wag nou al lankal om iets geoffer te word uit Suid-Afrika en spesifiek in Afrikaans … Ek wou ook nie sommer net die eerste ding doen nie. Ek is nou al lank genoeg in die bedryf om te weet dat ’n film lewe of val op ’n draaiboek … en vir hierdie draaiboek het ek binne 24 uur ingestem.’’

Agter die skerms gedurende verfilming. Hopefield het ingestaan vir Griekwastad.

Griekwastad is gebaseer op die ware tragedie wat Suid-Afrika in April 2012 geskud het toe ’n egpaar en hul dogter grusaam op hul plaas vermoor is. Die enigste oorlewende, Don Steenkamp (toe 15), was aanvanklik as slagoffer beskou, maar is later skuldig bevind op drie aanklagte van moord sowel as die verkragting van sy suster. Die raaisel en hofsaak is begeesterd deur huishoudings en die media gevolg … Alhoewel die verhaal dus nie aan Suid-Afrikaners onbekend is nie, is dit volgens Arnold die fokus op speurder Dick de Waal se eerstehandse ervaring waardeur die storie nie net nuwe lewe kry nie, maar ook volbring word.

Met die bekendstelling van die rolprent is Vosloo hoopvol dat twee dinge sal gebeur … Eerstens dat dit ’n gesprek rondom geweld en geestesgesondheid sal begin. Vir Don Steenkamp en talle ander wat al geknak het onder druk, donkerte of depressie kon die prentjie dalk heel anders gelyk het as die nodige hulp betyds aan hulle verleen is. Hy meen dus dat die skep van die rolprent nie net kunssinnige belang het nie, maar ’n hulpmiddel kan wees en kan bydra tot gesprekke wat uiteindelik tot ’n gesonder samelewing kan lei.

‘’As ek op enige punt gevoel het die film word geskep om sensasionele waarde, sou ek nie by die projek betrokke geraak het nie. Hierdie film dien egter ’n veel groter doel.’’

Alex van Dyk vertolk die rol van Don Steenkamp. Voor daardie aand het Don en sy suster ,Marthella, graag op hul plaas perdgery.

Buiten vir die inhouds- en gesprekwaarde, is Arnold ook opgewonde oor die bydrae wat die film tot die kunste maak … Na al die jare ag hy homself steeds as ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat sy beste werk in Afrikaans doen. Hy is daarom opgewonde om die mark se ontvangs van ’n film soos Griekwastad te sien en te bepaal of daar plek vir hierdie tipe rolprente binne die Afrikaanse bedryf is en hoekom? Toe ons later gesels oor die rigting waarin hy hoop Afrikaanse rolprente sal beweeg, en spesifiek sy mening oor tekortkominge in die tipe stories wat vertel word, het hy aanvanklik net geglimlag … maar dit toe duidelik gemaak dat daar nie ’n voorkeur behoort te wees ten opsigte van  spesifieke stories nie, maar dat hy wel hoop dat die verskeidenheid van verhale sal aanhou om te verbreed. ‘’Enigiets van ’n Griekwastad tot flieks soos Moffie en ook komedies – almal het ’n plek’’, sê hy.

Arnold Vosloo in Boetie Gaan Border Toe (1984)

Sy opwinding oor die bedryf kom ook duidelik na vore wanneer hy met passie deel dat hy nie as 22-jarige sy tuisbodem sou verlaat as die industrie toe soos nou gelyk het nie … Hy raai daarom jong akteurs aan om hul sukses hier eerder as elders te maak. Ten spyte van sy professionele oorwinnings en persoonlike geluk in die VSA (hy is byvoorbeeld gelukkig getroud met ’n Amerikaner), waarsku hy ook dat ’n mens wel baie prysgee wanneer jy jou land vir ’n ander verruil.  Arnold deel dat hy hoop om in die volgende paar jaar voor aftrede aan nog Afrikaanse films te werk en dat hy en sy vrou, Sylvia, dan graag meer tyd in Suid-Afrika sal wil deurbring.

Griekwastad open vandag landswyd vir stroom-kyk. Dit is ’n moet-kyk vir alle Suid-Afrikaners wat in die hartseer van die Griekwastadmoorde gedeel het en beloof om op ’n respekvolle en eerlike wyse afsluiting tot die verhaal te bring. Die film is ook direk op Box Office beskikbaar op DStv.

Lees ook Leon van Nierop se resensie op Litnet hier.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.