Fiëstas 2019

Die kunste se onontbeerlike rol in die strewe na versoening, vrede en harmonie

Vanjaar se negende kykNET Fiëstas, die kanaal se jaarlikse toekennings vir kuns, musiek en teater, het op Valentynsaand in die Kunstekaap in Kaapstad plaasgevind. Dit was ’n swierige en plesierige geleentheid en is oudergewoonte regstreeks op kykNET, DStv-kanaal 144 uitgesaai.

Bennie Fourie het die program as seremoniemeester gelei en is deur Schalk Bezuidenhout, Gideon Lombard, Kay Karriem, Jarrid Geduld en Jill Levenberg as sy mede-aanbieders bygestaan.

Die gaste en kykers is ook met optredes deur Jo Black, Craig Lucas, Paxton, die Cape Dance Company, CPYO onder leiding van Chad Hendricks en UWC Choir bederf.

“Die feeste speel ’n ongelooflike belangrike rol in die volhoubaarheid van die kunste en vermaaklikheidsbedryf. Daarom is die kykNET Fiësta-toekennings so ’n gepaste wyse vir ons om dit te erken en vier. Baie geluk aan al die wenners.” – Karen Meiring, M-Net Direkteur:  kykNET-kanale.

Lewenslange bydraes tot teater

Die hoogtepunt van die aand was ongetwyfeld die verering van John Kani as ’n teaterlegende. Die commendatio is gelewer deur Sandra Prinsloo, wat self ook vroeër in die aand as ’n teaterlegende vereer is. Kani is ook luid toegejuig nadat hy verklaar het dat die kunste ’n onontbeerlike rol speel in die strewe na versoening, vrede en harmonie.

“… Kani se toespraak het perfek gepas by die grondtema en in net ’n paar woorde het hy die problematiek, tragedie, hoop én potensiaal verwoord van wat dit beteken om saam in hierdie land te leef en om saam aan die grond gebonde te wees. “You’re stuck with me,” was die sin uit sy toespraak wat my bygebly het, en dit het my laat dink aan ’n gunstelingreël uit die Wachowski-broers se film The Matrix revolutions: “I’m interested in one thing, Neo – the future. And believe me, the only way to get there is together.” – Jaco Barnard-Naudé gee sy indrukke van die aand in ’n LitNET-artikel

Luister hier … John Kani oor lewensbydrae – Fiëstas 2019

*Lees die LitNET-artikel hier.

Fees van die jaar!

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees

Andy Lubbe en Sandra Jacobs ontvang trots die toekenning waarvoor feesgangers stem. Innibos is die fees van die jaar!

Die goeie nuus is dat die toegangsfooi tot vanjaar se Innibos-fees dieselfde gaan bly.

Die Innibos kykNET Konsert, met Barry Pretorius as vervaardiger, is ook die wenner in die kategorie beste buitelugkonsert vir 2018.

Andy Lubbe, Innibos-feesbestuurder, het in sy aanvaardingstoespraak gesê Innibos dra die toekenning as Fees van die Jaar op aan ál die kunstefeeste landwyd.

“Dit is ’n wonderlike en inspirerende manier waarop Innibos sy sestiende feesjaar afskop,” sê Sandra Jacobs, bemarkings- en mediabestuurder van Innibos. “Dié toekenning is ook danksy ons lojale feesgangers sowel as die ondersteuning van veral die Laeveldse gemeenskap wat Innibos waarlik hul eie maak.”

Innibos word vanjaar van 26 tot 29 Junie in Mbombela (Nelspruit) gehou en die tema is Vuur en vlam. Die pryse van toegangs- sowel as produksiekaartjies bly dieselfde as verlede jaar.

Geluk aan die wenners!

“Vanjaar het ons baie sterk finaliste gehad. Wat vir my die meeste uitgestaan het, is die nuwe opkomende kunstenaars … dit maak my baie opgewonde.” – Johan van Lill , die sameroeper van die KykNET Fiëstas-paneel.

Johan van Lill, Schalk Bezuidenhout en Sedrico Husselman gesels met Afrikaans.com:

Klik hier vir die wenners.

Op die blou tapyt …