Camille van Niekerk

Afrikaans het hierdie Amerikaner se hart gesteel

Camille van Niekerk, die Amerikaner wat so mooi Afrikaans sing, is in Suid-Afrika nadat sy onlangs haar eerste oorspronklike Afrikaanse liedjie opgeneem het. Sy is tans besig met haar heel eerste vollengte Afrikaanse album wat sy in samewerking met Vonk Musiek opneem. Sy is in Suid-Afrika  vir ’n hele paar vertonings. Dit is beslis nie net ’n Afrikaanse man wat haar hart gesteel het nie – ook sy taal!

René Arendse van Afrikaans.com het met haar en haar man, Jaco, gesels.

Haar nuwe enkelsnit, Proteas op die Tafel, is in samewerking met Gian Groen , wie se lirieke en musiek diep met Camille resoneer. Gian (Gideon Hanekom) is ‘n bekende sanger, liedjieskrywer en die stigterslid van die groep Spinnekop.

Camille het diep in Afrikaanssprekendes se harte ingekruip met haar opnames van liedjies soos Sonvanger, Lisa se Klavier, Blouberg se Strand en Vier Seisoene Kind. Sy is deur Vonk Musiek genader vir ’n vollengte album.

Luister hier na Vier Seisoene Kind uit Gian Groen se pen.

“Die oorweldigende positiewe terugvoer van Afrikaanse gehore is fantasties! Dit is vir my ‘n eer om saam met Gian en die wonderlike Vonk Musiek-span te werk.”