fbpx

8 Oktober 2019

Saamgestel deur Ingrid Erlank

Kosie Beukes …

speel nou saam met die groot kanonne van die Universal musiekfamilie

As daar nou een jongman is wat sommer baie gou diep in Suid-Afrikaanse musiekharte kom kruip het, is dit die uiters begaafde musikant en konsertinaspeler, Kosie Beukes. Kosie beklee reeds op die ouderdom van twaalf ’n volwaardige plek in die plaaslike Boeremusiekmark.

Die besonderse manier waarop hierdie SATMA-bekroonde kunstenaar sy ‘boerepompie’ ritmies kan laat saampraat op die maat van oorspronklike voetjeuklekker langarm-verwerkings, asook bekende gehoorgunstelinge, het die afgelope paar jaar van hom volksbesit gemaak. Dit is daarom geen verrassing dat hy onlangs deur Universal Musiek genader is om deel te word van hulle wenspan nie.

Afrikaans.com het hom al lankal raakgesien! Kyk hier na ons onderhoud met hom toe hy sommer nog ‘n tjokkertjie was.

Hy sluit aan by ’n lang lys bekende en suksesvolle kunstenaars, waaronder Klipwerf Orkes, Die Ventertjies, Tasché Burger, Early B, Adam Tas, Fatman en vele meer. Dié tiener, wat meen dat ’n kontrak met Universal Musiek vir hom veel meer beteken as ’n goeie rapport, sê: “Ek is baie dankbaar en opgewonde vir die geleentheid om een van Universal se nuwe kunstenaars te kan wees, en sien baie uit na wat die toekoms inhou en om saam met hulle te werk.”

Hy het al op vierjarige ouderdom begin

Kosie is reeds ses jaar in die musiekbedryf doenig en het op die ouderdom van vier begin kitaar speel en op vyf die konsertina opgetel, waarop hy dadelik versot was. Vandag het hy reeds veertien instrumente bemeester, waaronder die klavier, trekklavier, orrel, baskitaar, mondfluitjie, dromme, klawerbord, mandolien, ukulele en meer.

Dié oulike seun was maar ses toe hy sy eerste album in 2015 opgeneem het. Die album is ook benoem vir ’n Ghoema-toekenning in die Beste Boere- of Tradisionele-musiekalbum-afdeling. Sy tweede album, Konsertina Kaskenades (2017), is ook in dieselfde Ghoema-kategorie benoem en het vir hom ’n SATMA-toekenning vir Beste Boeremusiekalbum van die Jaar ingepalm. Die musiekvideo van die titelsnit is ook tans op kykNET NOU! te sien.

Lang rits prestasies

Kosie is in 2016 aangewys as die Junior-kampioen van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste en was ook deel van die nasionale span wat in Amerika aan die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste gaan deelneem het. Hy het daar twee goue- en twee silwer-medaljes, asook die trofee vir algehele wenner van sy ouderdomsgroep, gewen. Hy is ook ’n erelid van die Boeremusiekgilde en tree gereeld by hulle geleenthede op.

Sedertdien was hy al te sien by verskeie groot feeste, troues en funksies en gaan hy ook deel wees van vanjaar se varsTRAP-opskop wat op 23 November 2019 by Carnival City gehou word.

Volgens die musikant het Manie Bodenstein en Nico van Rensburg se musiek ’n groot invloed gehad op sy eie styl. Hy het egter ook groot waardering vir Klipwerf Orkes en plaaslike sangers soos Ricus Nel, Ray Dylan, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis en Brendan Peyper en hoop om nog eendag die voorreg te hê om saam met hulle almal een verhoog te deel.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy natuurlik druk besig om tyd aan sy skoolwerk te spandeer en meen dat dit nogal ’n uitdaging is om ’n goeie balans tussen sy boeke en sy musiekloopbaan te handhaaf. Verder verklap hy dat as hy nie musiek kon maak nie, hy graag ’n motiveringspreker sou wou word om ’n verskil in ander se lewens te kan maak. “Om nie ’n traan te stort wanneer ek vir oumensies of behoeftige kinders optree nie, is vir my moeilik. Dit tref my diep om te sien hoe swaar mense kry,” sê hy.

Sy toekomsplanne …

As jy hom vra wat sy toekomsplanne is, deel hy: “Ek sal graag my talent met ander jong musikante wil deel en hulle wil help om die basiese beginsels onder die knie te kry. Formele musiekopleiding vir myself, is ook iets waarop ek wil fokus.”

Universal Musiek is baie opgewonde oor die vooruitsig om saam met Kosie Beukes te werk en beplan groot dinge vir hom in die toekoms. “Boeremusiek is eg aan die Suid-Afrikaanse kultuur en ons belê graag in die toekoms van jong kunstenaars wat besonders talentvol is. Kosie is net twaalf jaar oud, maar sy konsertina-spel is puik en reeds vir verskeie toekennings benoem. Ons sien uit daarna om ’n pad te stap met so ’n veelsydige musikant, wat so baie het om te bied,” sê Christien de Klerk, die platemaatskappy se skakelbestuurder vir Afrikaanse kunstenaars.

 VOLG HOM OP

Facebook: https://www.facebook.com/kosiebeukesblad/

Instagram: @kosiebeukes

Twitter: @KosieBeukes

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.