Jannie du Toit ontvang ’n eretoekenning van die FAK

Jannie du Toit is reeds meer as 50 jaar deel van die Afrikaanse musieklandskap.  Jannie is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans en is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Dié eretoekenning is tydens die jaarlikse Cantare-kinderkoorfees in Alberton, Gauteng, deur die voorsitter van die FAK, professor Danie Goosen, gedoen.

Benewens talle ander vererings sedert die tagtigerjare het hy in 2008 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning ontvang vir sy lewenslange bydrae en hy word allerweë beskou as ‘n legende in Afrikaanse musiek.

Jannie du Toit saam met prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, tydens die oorhandiging van die eretoekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. (Foto: Maroela Media)

’n Fees van optredes

Jannie du Toit maak vanjaar ‘n draai by ses van die grootste kunstefeeste in Suid-Afrika. Hy was reeds vanjaar te siene by die Woordfees en die KKNK en binnekort kan aanhangers hom by Innibos sien waar hy saam met Anton Goosen en Coenie de Villiers te siene gaan wees in die produksie Musiek en Liriek – 40 jaar later. Dan wag daar ook optredes by die Vrystaatfees, Aardklop en die National Arts Festival in Grahamstad. Dit was by laasgenoemde fees dat hy in die vroeë negentigerjare vir die eerste keer by ‘n kunstefees opgetree het. Die program by daardie fees, voor daar nog enige groot Afrikaanse kunstefeeste was, was Skadu’s teen die Muur, ‘n program oor die musiek van Koos du Plessis, wat hy saam met Christa Steyn en Marié du Toit aangebied het. Die program is ook destyds op televisie uitgesaai.

Sy nuwe produksie, Oesjaar, met musiek van sy jongste solo-album volledig uit sy eie pen sal by die Vrystaatfees en Aardklop te sien wees.

Du Toit het as lid van die  sewentiger-folkgroep, Trilogie, op die toneel verskyn en het deur die jare danksy ‘n vyftigtal verhoogproduksies plaaslik en internasionaal ontwikkel in ‘n liedjieskrywer, sanger, kitaarspeler en verhoogkunstenaar van die hoogste orde.

Jannie du Toit se treffers ’n Liedjie vir jou en Gee ons vrede is sekerlik van die bekendste liedjies in Afrikaans. Eersgenoemde was ook die liedjie wat aan hom ’n opname-kontrak in 1980 besorg het. Hy was saam met prof. Anna Neethling-Pohl verantwoordelik vir die eerste volwaardige Afrikaanse musiekblyspel, Loeloeraai, toe hy destyds by Tukkies begin werk het. Hy en die legendariese Christa Steyn het 25 jaar lank saamgewerk, musiek in twintig lande gemaak en talle produksies saam met verskeie kunstenaars aangepak.  Hulle was ook jare lank betrokke by die ATKV se liedjieskryfwerkswinkels. Sy album Ligjare (2013) is aan Christa se nalatenskap opgedra.

Kyk hier na Jannie du Toit se treffers –  Gee ons vrede en ’n Liedjie vir jou

Luister hier na een van Jannie se meer onlangse gunstelinge – Die eggo van jou oë – opgeneem saam met Renette Bouwer (koorleier van die UJ-koor). Dit is beskikbaar op die album Ligjare wat hy aan Christa Steyn ‘n jaar na haar dood (2013) opgedra het.  Die album is verkrygbaar van www.jnsmusiek.co.za

Jannie se eie Kunstefees in die Kleine beloof om ’n hoogtepunt te wees

Op 14 Julie 2019 hou Jannie sy eie klein kunstefees by die Atterburyteater in Pretoria. Video-opnames van drie volledige produksies wat nog nie vantevore op TV te sien was nie, word op daardie dag tydens die konserte voor gehore opgeneem – Oesjaar, Bonjour Monsieur Brel en Kiekies – Lucas se liedjies.

Vir die produksies self bied Atterburyteater afslag aan: 10% vir twee optredes, 20% vir al drie. Bespreek by iTickets – skakel 012 942 5951 vir navrae en groepafslag (10 of meer). Navrae by Jopie Koen: 072-460-5568 of jannie@agterplaas.co.za www.janniedutoit.com

Lees Christel Cornelissen se artikel oor die FAK se eretoekenning op Maroela Media hier