Irene-Louise van Wyk in die kollig

Sy staan groot skoene vol …  haar ma was ’n bekende sangeres en haar pa, ’n groot naam in die musiekbedryf.  Sy is die dogter van Louis van Wyk, die kunstenaarsbestuurder en eienaar van Music Profile Management, en wyle Irene van Wyk, ‘n sangeres wat gehore vir jare betower het. Tydens haar kinderjare het Irene-Louise saam met haar ma gereis tydens haar konserttoere, en selfs opgetree langs haar. Ma en dogter het ‘n noue band gehad.  Met die tragiese afsterwe van Irene in ‘n motorongeluk in 2009, het Irene-Louise se wêreld in duie gestort, maar het sy krag gekry uit die nalatenskap van haar ma en was sy vasbeslote om in haar voetspore te volg.

Musiek en kreatiwiteit vloei sterk deur Irene-Louise van Wyk se are. Sy was deurentyd in die teenwoordigheid van Suid-Afrikaanse en internasionale sterre en het baie geleer van die bedryf, sommer van ’n jong ouderdom af. Sy het gekyk, geluister en geleidelik haar eie talent en styl ontwikkel om haar droom te vervul en haar musiek met die wêreld te deel.

Sy het al saam met groot name in die bedryf gewerk, onder andere Bouwer Bosch en Stefan Ludik.

Pieter Cloete het met haar gesels oor haar loopbaan en haar unieke klank.

Oor menswees … vrouwees en wat haar inspireer

Leandie du Randt Bosch en Belinda Bam is vir haar inspirerend en het baie vir haar beteken gedurende ‘n tyd in haar lewe toe sy dit nodig gehad het. Sy vertel van die belangrike lewenslesse wat sy by dié twee geleer het, die waarde wat hul toevoeg tot haar lewe en die uitdagings van vrouwees in hierdie era van sosiale media.