Fliekvlooie kan uitsien na ‘n lewensdrama

Skemerson landwyd in teaters vanaf 3 Mei

Pietie Beyers maak sy debuut as draaiboekskrywer en vervaardiger in Skemerson. Hy speel ook die hoofrol. (Foto met vergunning van Indigenous Film Distribution)

Oor die fliek…

Skemerson is ’n aangrypende en deernisvolle rolprent, met ’n sterk boodskap van hoop, wat elkeen wat dit kyk dieper laat dink oor die lewe. Dit sal ook gehore daaraan herinner dat daar baie mense is wat regtig worstel met diepliggende kwessies en dat begrip en verdraagsaamheid soms regtig ’n lewe kan red. Die toneelspel en produksie is puik en die musiek dra by tot die atmosfeer en spanning van die verhaal. Ondersteun asseblief hierdie Afrikaanse fliek in plaaslike teaters vanaf 3 Mei 2019 en bly op hoogte van sake op sosiale media op Facebook en gesels saam met die hutsmerke #Skemerson #DisOkayOmNieOkayTeWeesNie.

Die nuwe drama, Skemerson, begin op 3 Mei 2019 in bioskope draai en is iets wat elke kyker op die grootskerm moet ervaar. Pietie Beyers gesels met Annelien van Basten oor sy heel eerste rolprent as draaiboekskrywer, medevervaardiger en hoofrolspeler en verklap hoekom dié projek hom so na aan die hart lê.

Pietie Beyers

Pietie Beyers is een van daardie mense wat jou ongelooflik beïndruk wanneer jy hom vir die eerste keer ontmoet. Hy straal ’n kalm rustigheid uit, wat jou onmiddellik op jou gemak stel, en dadelik laat besef dat al die goeie dinge wat jy oor hom gehoor het waar is… en meer.

Daarom is dit nie vreemd dat hy homself beskryf as ’n mense-mens wat daarvan hou om sy ervaringe met ander te deel nie.

“Ek is wie ek is.’n Dankbare dier met die letsels van ’n mens en die gees van ’n Golden Retriever. Toe ek klein was, kon ek eers iets lekker geniet as my boetie dit saam met my geproe het. Om dinge met mense te deel, maak dit vir my lewendig,” verduidelik hy.

Die dag toe die gawe dokter Deon Visser sak en pak by Binneland Kliniek opgedaag het, het hy diep in kykers se harte kom nesskop en hulle soms ook laat naels-kou wanneer hy in die sop beland het. Nóú gaan hy weer so maak, maar hierdie keer vir sy eerlike en emosionele vertolking van Sella in Skemerson, ’n fliek uit sy eie pen en uiteindelik ’n persoonlike stukkie van homself wat hy met die wêreld kan deel!

“Toe ek in graad een was, het hulle ons gevra om ’n storie te skryf. Na die periode verby was, het ek vir my juffrou gevra of ek my boekie maar kon huis toe vat om verder te skryf. Die volgende dag het ek teruggekom met ’n vol boekie van veertig blaaie. Om my verbeelding te gebruik was nog altyd vir my meer opwindend en interessant as die logiese en praktiese aspekte van die lewe. Alhoewel laasgenoemde noodsaaklik is, en ek ook baie blootgestel is daaraan omdat my pa ’n besigheidsman is, vind ek nog altyd meer aanklank en betowering in die minder tasbare fasette en die toneelbedryf is een van die areas waarin ek dit kan uitleef. Idees maak my baie opgewonde en alles waarby ek betrokke raak, het basies op ’n manier hiermee te doen,” vertel Pietie.

Hoewel dié talentvolle jongman uit ’n familie van bekendes kom (sy ma is immers die legendariese aktrise Susanne Beyers en sy grootste aanhanger), is dit duidelik dat dit vir hom belangrik is om sy eie pad oop te kerf in die vermaakbedryf en dat hy sy eie sukses op meriete wil behaal. “My ma was nog altyd baie ondersteunend, sonder om oorbetrokke te wees. Alhoewel ons ’n besonderse goeie verhouding het en ek baie na haar toe gaan vir raad, het sy nog nooit van haar kant af my loopbaan probeer bevoordeel nie. Ons kinders kon nog altyd ons eie keuses maak en ek het tot dusver my eie professionele pad gestap,” sê die akteur.

Om lewe te blaas in sy eerste fliek, saam met regisseur Philip Rademeyer, was dus ’n uitdaging en na talle pogings en struikelblokke staan hulle uiteindelik op die vooraand van die Suid-Afrikaanse vrystelling van Skemerson.

Op die rooitapyt …

An-Mare Roothman, Reynardt Hugo, Hykie Berg en Gerridene de Vries het die Johannesburgse bekendstelling ondersteun. Foto deur Gina van Staden.

Anneke Weidemann as Emma en Pietie Beyers as Sella in Skemerson.

Elize Cawood op die rooitapyt by die Johannesburgse bekendstelling van die fliek. Sy speel die rol van Lidi. Foto deur Gina van Staden.

Pietie Beyers en Anneke Weidemann, wat ook ‘n paartjie is in die regte lewe, op die rooitapyt by Skemerson se bekendstelling. Foto deur Gina van Staden.

Pietie Beyers, Elize Cawood en Anneke Weidemann in ‘n toneel uit die fliek. Foto met vergunning van Indigenous Film Distribution.

Pietie neem Afrikaans.com saam op sy reis …

Ons het met hom gaan gesels oor wat ons van die fliek, wat in en rondom Eersterivier verfilm is, en sy karakter kan verwag.

Vertel ons meer oor Skemerson en waar die inspirasie vir die storie vandaan kom?

“Die storie van die hoofkarakter is nie myne nie en ek wou nooit al die dinge doen wat hy doen nie. Dit is ’n intense verhaal, wat gestroop, eg en eerlik is. My eie ervaring, met my eie emosionele en sielkundige uitdagings, het my wel geïnspireer om die draaiboek te skryf. Dit is dus nie gegrond op my lewe nie, maar wel geïnspireer deur my ervaring as mens. Hierdie is nie ’n fliek waar karre ontplof nie. Daar is nie tierlantyntjies nie, dis net die waarheid en gaan oor gevoel en ek wil hê dat elkeen wat dit sien iets moet voel as hulle wegstap. Volgens my is dit die eerlikste fliek van die jaar.”

Wat is die hooftema en boodskap wat jy met die rolprent wil oordra?

“Almal het uitdagings, ongeag van wat dit is, en as jy dit erken kan jy daaraan werk en jouself aanvaar en liefhê. Daar is altyd hulp en daar is altyd hoop vir elkeen van ons daar buite, al is jou omstandighede hoe moeilik. Ek glo met my hele hart in hierdie boodskap en kan nie wag om dit met kykers te deel nie.”

As draaiboekskrywer, medevervaardiger en hoofrolspeler het jy baie op jou kerfstok gehad. Wat was die uitdagings hieraan verbonde en hoe het jy dit hanteer?

“Vir hierdie projek moes ek baie hoede opsit. Gelukkig het ek ’n goeie span mense om my gehad wat my gehelp het om my fokus op die regte plek te hou. Ons het regtig baie hard gewerk en ek het vreeslik baie geleer. Daar was ’n baie positiewe energie tussen die groep wat saam gewerk het en ons het konstant ons standaarde verhoog en daarvoor is ek baie dankbaar.”

Hoe het julle te werk gegaan om die regte akteurs vir elke rol te kies?

“Met die skryf van die storie, het ek ’n goeie idee gehad van wat elke karakter moes wees. Maar toe ek die teks geskryf het, het ek egter nooit daaraan gedink dat my meisie, Anneke Weidemann (Die Wonderwerker, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom), – wat nie vir die afgelope paar jaar toneelgespeel het nie omdat sy ’n dokter geword het – Emma sou wees nie. Omdat ek haar oordeel vertrou en alles met haar klankbord, het ek die draaiboek vir haar gegee om te lees en sy het daarvan gehou. In my onderbewussyn is die saadjie toe geplant om haar vir die rol te oorweeg, want sy het die regte energie daarvoor. Elize Cawood se natuurlike warmte, aardsheid en spontaniteit het van haar die perfekte kandidaat gemaak om Lidi te speel. Toe my medevervaardiger, Niel van Deventer (Dis ek, Anna), haar voorstel, was dit net asof alles perfek in plek geval het.”

Wie is Sella en wat kan kykers van hom verwag?

“Toe ek op ’n naam moes besluit vir my karakter, wou ek nie iets kies wat ’n mens elke dag hoor nie omdat mense altyd so baie assosiasies het met name. Dit moes egter ’n naam wees wat steeds eg en onpretensieus is. So kom ek toe af op die woord ‘Sella’ wat vir my interessant was. Toe ek dit opsoek, vind ek uit dat dit in Hebreeus ‘plek van vrede’ beteken. Omdat dit die karakter so goed vasvang, omdat hy self op soek is na vrede, was dit vir my die regte naam. Sella is ’n jongman wat baie hard is op homself en baie van die lewe se dinge as skuld op homself pak. Die mense wat hy ontmoet, help hom op sy reis in die soeke na vrede.”

Jy het ’n groot transformasie ondergaan vir die rol. Was dit nodig om die karakter eg te maak?

“Ek het veertien kilogram oor tien weke verloor en daar is baie mense wat vra of dit regtig nodig was. Dit was nodig vir my om dit te doen, want dit het my in daardie spasie en gevoel gesit waar ek moes wees om my rol geloofwaardig te vertolk. Daar is iemand, baie na aan my, wat deur ’n tyd van angs en pyn gegaan het en so maer en uitgeteer geraak het omdat hulle net nie kon eet nie. So dit was een van my naaste verwysingsraamwerke vir die rol. Almal het natuurlik hulle eie manier van dinge verwerk, maar ek wou net hê dat wanneer die kyker die karakter vir die eerste keer ontmoet daar ’n visuele impak moes wees. Dat almal dadelik moet besef dat iets nie reg is nie. ’n Vraag moes geplant word en dit skep sodoende weer spanning, sodat die gehoor verder wil kyk.”

Watter raad het jy vir opkomende draaiboekskrywers?

“Ek kan nie praat as iemand wat dit klaar gemaak het as ’n draaiboekskrywer nie, want dalk gaan kyk niemand eers hierdie fliek nie. Wat ek wel kan deel, is raad uit my persoonlike ervaring. As jy wil hê iets moet gebeur, wees die enjin. Wanneer jy die heeltyd vir iets of iemand anders wag, gaan dit óf nie gebeur nie óf te laat gebeur óf nie wees soos wat jy dit graag wil hê nie. Begin by die begin en neem die eerste stap om uit te vind hoe om ’n behoorlike draaiboek te skryf. Dit vat moeite, toewyding en ’n sterk wil. Dit gaan nie glamorous wees nie, maar doen die werk en moenie bang wees nie. Jy gaan wel baie deure kry wat toeslaan, maar daar is altyd ’n venster wat oop is. Jy moet net bereid wees om dit te sien.”

Hoe lyk die toekoms vir Afrikaanse rolprente in Suid-Afrika?

“Ons wou ’n fliek maak wat die universele taal van menslikheid en eerlikheid praat. Dit is toevallig in Afrikaans, omdat dit die taal is wat ons praat en waarvoor ons lief is, maar nie om enige ander taal of kultuur uit te sluit nie. Eerlikwaar weet ek nie wat die toekoms inhou nie, omdat daar baie is om in ag te neem. Die gehalte van Afrikaanse rolprente word al hoe meer op internasionale vlak erken, wat beteken dat dit beslis op ’n hoë standaard is. Maar die landskap van fliekkyk is besig om te verander, want baie mense kyk eerder iets soos Netflix in die gemak van hulle eie huis en ek blameer hulle nie. Ek sou egter baie graag wou hê dat kykers wel Skemerson op die grootskerm moet gaan kyk. Dit is nie iets wat jy op ’n klein skerm (verwyderd van jou) moet kyk nie, maar eerder ’n ervaring waar die emosie en klank jou in die middel van die storie en in die kop van die karakter sal plaas. Hopelik help dit mense ook om empatie met hulle naaste te hê, eerder as om te oordeel.”

As jy hom vra wat hy die meeste geniet – sepies, toneelstukke of films – verklap hy dat elke projek waaraan hy werk op daardie spesifieke oomblik vir hom ’n hoogtepunt is, omdat hy altyd sy beste gee in alles wat hy aanpak. Dit is juis hierdie entoesiasme en passie wat hom so geliefd maak onder sy aanhangers en so suksesvol maak in sy werk.

Skemerson is egter maar nog net die begin van groot dinge vir Pietie Beyers. Buiten vir ’n film en verskeie besigheidsbelange wat in die pyplyn is vir hierdie jaar, jeuk sy hande reeds om met ’n nuwe draaiboek te begin en sien hy uit om nog baie oor die lewe en die toneelbedryf te leer. “Energade se leuse is: ‘It is what you put in’, en dit het ook my professionele leuse geword. Wanneer ek iets aanpak, probeer ek vergeet van die resultaat en fokus ek daarop om die beste bestanddele bymekaar te maak. As dit in plek is, sal die res vanself volg,” sluit hy af.

Ons kan nie wag om te sien waarmee hierdie veelsydige ster volgende vorendag gaan kom nie. Volg hom gerus op Facebook en Instagram om te sien waarmee hy alles besig is.