Raaiselkind: In Gesprek met Annelie Botes

Raaiselkind (gebaseer op die boek deur Annelie Botes) vertel die hartroerende verhaal van die Dorfling-gesin.

Die negejarige outistiese Alexander (Ian Roelofs) word dood in die bad aangetref: Die verdagte? Sy ma, Ingrid (Diaan Lawrenson). Maar het sy hom regtig vermoor, of was sy dood net ‘n ongeluk? Wat sal ‘n ma dryf om haar kind te wil doodmaak?

Deur middel van terugflitse word die lewe van die Dorflings en die mense om hulle oopgevlek. Die raaiselkind, Alexander, wat niemand regtig verstaan nie. Sy ma: sterk, altyd-soekend-na-antwoorde Ingrid, haar man David (Neels Clasen) wat homself emosioneel van eers Alexander en later die hele gesin onttrek en Miriam (June van Merch), Alexander se oppasser en aartsengel.

Kyk hier na die lokprent van Raaiselkind:

Met die skryf van Raaiselkind het Annelie ongeveer drie jaar navorsing gedoen. Sy is selfs deur die polisie gearresteer en het tyd in die aanhoudingselle deurgebring! Die boek was dan ook die eerste Afrikaanse roman wat die kortlys van die Booksellers Choice-toekenning gehaal het (2002) en was ook op die kortlys van die ATKV-prys. Raaiselkind is in Engels (Riddle Child) en Nederlands (Raadselkind) vertaal en in 2003 verwerk Saartjie Botha die roman vir die verhoog.

Petronell Vorster het namens Afrikaans.com met Annelie Botes gesels oor die fliek, boek en hoe dit voel om jou karakters te sien lewe kry op die silwerdoek.

1) Hoekom het jy die boek geskryf?
In my jare op Bedford het ek my swaksinnig en liederlik gedra teenoor ‘n vroulike onderwyskollega aan wie ‘n outistiese baba gebore is. Niemand het geweet wat fout is met die kind nie, en almal het dit toegeskryf aan bedorwenheid en swak ouerskap. Ek ook. Sy het gereeld by my aan huis gekom, en toe die peuter my huis en kosbare goedjies verniel, het ek haar weggejaag soos ‘n hond. My senuwees kon dit nie meer hou nie. Eers toe die seuntjie omtrent 5 jaar oud was, is outisme by hom gediagnoseer. Baie verskonend het sy my gebel en dit vir my vertel. Ek het steeds snorkend gedink dis net ‘n splinternuwe verskoning vir stout wees. In daardie jare was daar nog nie internet nie, en ek het in Bedford se biblioteek begin oplees oor wát outisme nou eintlik is. Hoe meer ek gelees het, hoe dieper het ek ingesuig geraak. En hoe meer het ek my geskaam vir my optrede teenoor haar. Dit het moed gekos om die saak met haar reg te maak, maar ek hét. En uit daardie ervaring van blatante onkunde het Raaiselkind gegroei.

2) Met die skryf van Raaiselkind het jy drie jaar lank navorsing gedoen. Tot watter mate was jy betrokke by die skryf van die draaiboek en die verfilming? Wat was jou grootste vrese t.o.v. die fliek en was dit moeilik om ja te sê?
Dit was werklikwaar maklik om toestemming te gee vir die verfilming. Die boek was toe reeds 15 jaar oud, en het emosioneel lankal nie meer aan mý behoort nie, maar aan iedereen wat met ‘n raaiselkind deur die lewe moet reis. Ek het toe reeds oor en oor die goeie gevolge van die boek gesien, en wesentlik was dit vir my ‘n massiewe eer dat hulle dit in ‘n film wil omskep. Aanvanklik was my allergrootste vrees dat hulle van outisme ‘n bespotting sal maak, en dit onrealisties sal uitbeeld. Maar ek het daardie vrees in geen onduidelike tale met hulle gedeel. Pieter Esterhuizen en Sally Campher wat die film vervaardig het, het my al die pad geken in die vorming en hervorming van die filmteks. Wat die verfilming betref, was ek net een enkele dag op die filmstel daar in Arniston. Ek het my kompleet vergaap aan die fyn kuns van filmvervaardiging. Nooit het ek kon droom dis so ‘n vervlegte en presiés-georganiseerde kuns nie.

3) Hoe voel dit om jou karakters te sien gestalte aanneem op die silwerdoek?
Die hemele weet, my beker het oorgeloop. Van blydskap en dankbaarheid dat Sally-hulle die saak met soveel respek en erns en kennisvaardigheid benader het. Toe ek die film die eerste keer in Augustus 2017 by die Silwerskermfees in Kampsbaai sien, het ‘n lamheid van my besit geneem. ‘n Verwondering. ‘n Out of body experience. Daardie dag daar in die donker teater het ek intens na my pa en ma verlang, en gewens hulle kon sien dat hulle Sussiekind toe nié die lewe se spoor heeltemal byster geraak het nie.

4) Jy het nog nooit weggeskram van moeilike en emosionele (en dikwels kontroversiële) onderwerpe nie. Raaiselkind, Thula-thula, Trippel Sewe en selfs jou kortverhaalbundels, dwing lesers om met ander oë na die wêreld te kyk. Hoe besluit jy op ‘n tema/onderwerp? En hoe kry jy dit reg om met soveel deernis en empatie oor moeilike onderwerpe en mense te skryf?
Wanneer iets nie my kop wil verlaat nie, en soos ‘n hamertjie teen my skedel bly tik, wéét ek dat ek daaroor moet skryf. Toe ek Thula-thula moes skryf, ook na jare se uitmergelende navorsing, het ek besluit: Ek skryf die boek rég, of ek skryf dit glad nie. Ek gaan nié suutjies al met die kleinkantjie-om by gruwelikhede probeer verbykom nie. Ek gaan dwarsdeur die waarste waarheid skryf. Toe volg ek blindweg die pad wat ek geweet het reguit na die bestemming sal lei. Dit het meegebring dat vele mense die boek as ontstellend en too close to home beleef het. Maar … As só ‘n boek oor bloedskande mense nié diep ontstel en onderstebo gooi nie, het ek iewers iets groot verkeerd gedoen.

5) Is jy een van daardie mense wat by die lughawe sit, mense dophou en hul lewensverhale in jou kop skryf?
Nie net op lughawens nie … In winkelsentrums. In wagkamers. In die middagverkeer. In restaurante. In haarsalonne. ‘n Ware skrywer moet die kleinste detail kan waarneem en in die hart en oogkasse bêre. Want eendag gaan jy daardie prentjies nodig kry. Daar word tog gesê: No author can write more than what he is.

6) Wat is volgende?
As alles voorspoedig verloop, verskyn daar vanjaar in Oktober (2018) ‘n boek getiteld ‘n Hand vol suiker by Penguin Random House. Dis al my kortverhale (nie koerantrubrieke nie) en vervolgverhale wat sedert 2002 nog nooit gebundel is nie. Talle mense vra daarvoor, want hulle koop nie gereeld die Rooi Rose en Huisgenoot en Vrouekeur nie, en dan mis hulle dit. Hierdie verhale is nie soetsappige liefdesverhale nie. Elkeen is ‘n roman in die kleine, oor die opdraande en afdraande van die lewe; hoe mense gebukkend loop op hulle reis deur die lewe. En hoe hulle spartel om weer regop te kom.

Annelie Botes. Lees meer oor haar hier.

Annelie en haar geliefde ‘gryse’, haar man Chris, in Hartenbos in 2015. Die foto is deur Annelie se kleindogter geneem.

Die foto is op ‘n snerpende wintersaand in Riebeeck-Kasteel geneem toe Annelie daar in ‘n kunswinkeltjie opgetree het. “Die vrouens het dit goed gedink om vir die gryse ‘n outydse kerkhoed op te sit, en skynbaar was die hoed knus, toe vergeet hy daarvan. Heelaand só rondgeloop … Hy is so ‘n integrale deel van my skrywerswêreld, en almal weet alles van hom. Hulle dink mos hy’s ‘n dissipel, of die engel Gabriël,”sê Annelie van Chris.

Annelie is lief vir buitengewone foto’s, want “Mense kyk gewoonlik net so bolangs na ordinêre foto’s. Maar as dit anders as die doodgewone is, kyk hulle dieper.” Die foto van Annelie en Chris is by ‘n vriend se troue in ‘n fotohokkie geneem.