Eseltjiesrus Boekefees in McGregor help donkies in nood. 18 tot 20 Mei 2018

“Ja, die donkie, o, die donkie, die donkie is ’n wonderlike ding …” (tradisionele liedjie)

Winskoopjagters en boekwurms kan weer na hartelus kom snuffel by die 12de jaarlikse Boekefees in McGregor wat vanaf Vrydag, 18 tot Sondag, 20 Mei plaasvind.  Daar is stapels Afrikaanse boeke, of jy nou na kookboeke, reisverhale, kinderboeke, digbundels of ’n rare en kosbare kleinood of ’n spesiale geskenk soek, jy behoort dit tussen die duisende nuwe en kraakvars tweedehandse boeke te vind.  Nuwe voorraad word elke dag uitgepak. So, kom bederf jouself en vul jou voorraad lekker leesstof aan vir die winter wat voorlê.

Sosio-ekonomiese voordeel

Op sosio-ekonomiese gebied speel die boekefees ook ’n groot rol en word nie net werk geskep nie, maar boeke word ook aan skole en biblioteke in die groter Langebergarea geskenk.

KitKat kyk solank wat vir die kinders gelees gaan word. (Foto: verskaf)

David Kramer by van die donkies.

Vanjaar is daar ook ’n Storievertel- en Leesteater vir kinders waar vrywilligers daagliks vir kinders gaan stories vertel.  Dié boeke word dan aan die Breede Vaardigheidsentrum geskenk, sodat die kinders in die weke daarna verder kan gaan luister.  Hierdie projek wil ’n kultuur van lees by kinders kweek, want niemand behoort vreugde van boeklees misgun te word nie.

Het jy geweet?

  • Meer as 15 000 boeke van ’n groot verskeidenheid onderwerpe word teen winskooppryse aangebied.
  • Elke boek wat verkoop word, help met die versorging en rehabilitasie van donkies wat uit haglike toestande gered word en by Eseltjiesrus Donkey Sanctuary gehuisves word.
  • Die sukses van hierdie jaar se Boekefees in McGregor gaan dus weer ‘n onontbeerlike rol speel in die komende jaar se werksaamhede by Eseltjiesrus.

Meer oor Eseltjiesrus

  • Eseltjiesrus is ’n permanente tuiste vir bejaarde, verwaarloosde en mishandelde donkies net buite McGregor.
  • Elke donkie word elke dag individueel versorg en gevoed na gelang van hulle ouderdom en behoeftes.
  • Eseltjiesrus het ook ’n bron van inligting geword en hanteer daagliks navrae van oor die hele land oor goeie versorging.
  • Hierdie hulp maak ’n beduidende verskil om die status van donkies in die algemene publiek se oë te verbeter.

Vir meer inligting skakel 023 625 1593, stuur ‘n e-pos aan bookfair@donkeysanctuary.co.za of besoek die amptelike webtuiste  www.donkeysanctuary.co.za

Vir akkommodasie, kontak McGregor Toerisme-kantoor: 023 625 1954

Neem ’n prettige foto wat jou wese uitbeeld en deel dit op sosiale media met die hutsmerk #onmisbaar of stuur vir ons ’n WhatsApp-foto of -stemboodskap by 064-652-6873. Onthou om jou naam en van waar jy is, by te voeg.

JOU taal maak dit vir jou moontlik om te wees wie jy is. Neem sommer self ‘n foto of stuur daardie stemboodskap. Jy hoef nie ‘n toespraak voor te berei nie – net ‘n sin of twee, jou naam en watter geweste jy is.

Koester jou hartstaal!