Die hárt van die langvrou

Afrikaans se kabaretster, Petronel Baard, is gebore in Riversdal en getoë in Villiersdorp – die platteland haar grootwordplek  en die verhoog … haar vrywordplek. Sy maak haar hart oop vir Afrikaans.com en vertel van die kronkeldraaie op haar pad. Christiaan J de Swardt het met haar gesels.

Petronel Baard tydens ‘n optrede in Mei vanjaar by die Adam Small Teater in Stellenbosch. (Foto: Jorina Kriel)

Sy het haar stoeltjie al kleintyd voor die klavier getrek en kon nie wag om met les te begin nie.  Sy onthou dat die natuur haar geroep het om te sing.  Die bome en die wind was haar gehoor en het haar geïnspireer. Op die agterkant van haar nuwe album Die Heelal Draai, is daar juis ‘n foto van haar as dogtertjie wat met bloeisels speel. Sy het toe al geoefen om te poseer.

Sy het op die familieplaas in bome en op windpompe geklouter om haar hart uit te sing. Villiersdorppers was gewoond daaraan om haar in die reën te sien hardloop, dans en sing.

‘n Regte vrygees

Dié liedjieskrywer, sangeres, aktrise, pianiste en teatermaker Petronella Maria Baard (42) het kleintyd al geweet die kunste roep haar!

2018 was ‘n goeie jaar vir haar. Resensente het haar vyfster-album Die Heelal Draai met volpunte  gestempel. Sy en haar lewensmaat van tien jaar, Jaco Swart, het verloof geraak en sy is pas as ‘n lid van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie ingelyf.

Dié boorling van Riversdal en oud-Heidelberger in die Suid-Kaap se paadjie het wyd deur die land gekronkel – van Villiersdorp waar sy van voorskool tot in matriek in 1994 aan De Villiers Graaff geskool is,  Kaapstad en Johannesburg – maar nou is sy weer uit en tuis: op Reebok in Mosselbaai.

Haar loopbaan

Haar  loopbaan het in 1999 afgeskop met die album Hangers in die kas. Toe wen sy die ATKV se Crescendo, waarna sy ‘n aantal grensverskuiwende albums aan die Afrikaanse kultuurskat toegevoeg het: Lank al (2000), Déjà vu (2001), Weergaloos (2008) en Vonnie (2010) .

Daaruit het ‘n SAMA-benoeming vir Lank al ,‘n Vita-benoeming vir kabaret en die Geraasmusiektoekennings vir haar album Déjà Vu  en talle verhoogproduksies gespruit.

Haar mense – haar  man, Jaco, haar ma, Miena,  haar suster, Sorita, broer Danie, die kleinkind, Emma en die ooms en tannies en niggies en nefies – is haar hele wese, haar kat, Moo, is haar hart se punt, haar klavier is haar reisgenoot, die wêreld word in haar stem vasgevang en sang is haar voorreg – en haar bed bied haar die nodige nagrus, en die see en Karoo se silte, af en toe, voed haar met wat sy nodig het om kreatief te skep.

Ons loop die kronkeldraaie van herinneringe en onthou…

Petronel kies haar era. (Foto: Rooi Rose)

Die Langvrou en die maan … (Foto: verskaf)

Petronel en sangervriend, Stef Kruger. (Foto: Beeld)

Vertel van die  ervarings en die mense wat jou geslyp het tot die mens en kunstenaar wat jy is.

Ek onthou hoe ek  pouses  vir my maatjies, seuns en dogters, wat ewe vrolik hul broodjies kom eet het op die stoeptrappies van die saal, “gepreek” het,  terwyl ek eintlik niks anders wou doen as  om konsert te hou nie.  Toe ek twaalf was, het ek ‘n solo in Sleeping Beauty  gesing – en die hele dorp was daar.  Dit was ‘n koue, nat Bolandse aand en die mense het gedink dis ‘n onderwyser wat sing.  So is ek  “ontdek”.

Dan is daar natuurlik die mense wat jou vorm.  Ek onthou my Afrikaans-onderwyser, Juffrou Maritz, wat ons uitgedaag het om die blad op sy sy te draai voor jy jou opstsel skryf.  Ek onthou my kunsonderwyser op laerskool, Juffrou Pecar, wat my raakgesien het en my die geleentheid gegee het om die solo te sing.  Ek onthou my musiekonderwysers; onder andere Juffrou Roux, Tannie Heidie, Tannie Joey, Juffrou Nel en so baie ander wat altyd hul passie uitgeleef het en my ook aangemoedig het sonder ophou.  Daar is nog baie mense wat my help slyp het; ons maak en breek mekaar regtig in die lewe.

Altyd, altyd, was daar die musiek binne my wat wou uitkom.  Ek het eers ten volle begin skryf toe ek op 16 begin kitaar speel het. Ek is bly vir die vryheid waarmee ek myself en my talent kon ontwikkel en glo dit is steeds hoorbaar in my werk.

Jy was hoofdogter, akademies sterk en redelik goed in sport, veral netbal, maar jy was veral intens betrokke by kultuur – en natuurlik het jy graag ‘n show opgesit!

Daar is baie konsert gehou en dan is almal betrek.  As ek nou daaraan dink, kan ek nie glo hoe gewillig my skoolmaats was om pouses saam met  “malligheid” te oefen nie.  Vir mondeling het ek sommer plays geskyf en dan is die hele klas betrek. Hulle het my kreatiwiteit onvoorwaardelik vertrou –  soms tot hul eie skade… Soos die keer toe ek Ryan Lloyd, ‘n goeie rugbyspler, in matriek opgedress het as “Mej Iets”;  kan nie onthou wat nie. Ek het hom tydens die prefekte se spreekbeurt in die saal laat verskyn – op hoë hake!  Alles is opgejazz en Maandae was erg genoeg; dié bietjie lag het altyd gehelp.  Op laerskool het ons ook ‘n paar keer ‘n spookhuis by die tiekie-aande opgesit.  Ek het nog iewers so “spook tape” wat my ma en ons drie kinders gemaak het voor die klavier; kompleet met diep basnote en gille.

En toe is dit Maties toe, maar jy het eers rekenaar-sekretarïeel by Stellenbosch College studeer voordat jy in 1996 besluit het om drama te studeer. Hoekom?

Op daardie stadium was ek onseker oor watter rigting volgende; ek het geweet dis in die kunste, maar soos ons weet, is dit ’n groot uitdaging.  Ek het wel vroeg besef daar is selfs in die kunste politiek betrokke. Daarom het ek toe al my eie ding gedoen en vir kampustoneel ingeskyf met ‘n teks wat ek self geskyf het. Ek en ons groepie goeie vriende is op eie stoom KKNK en Grahamstad toe, selfs as ons nie in departemenele topproduksies sou gespeel het nie. In 1998 het ons ‘n fliek saam met studente van City Varsity gedoen.  In daai tyd moes ons drie keer ‘n week Weskus toe ry om te gaan verfilm – alles tussen dramaklasse, toetse en eksamens, repetisies tot elfuur elke tweede aand vir blokprojekte… Maar dit was presies hoe die bedryf ook is:  harde werk!  Ek het in die Nerina-dameskoshuis gebly vir twee jaar; heerlik.  Ek is trots dat ek vanjaar, tydens die koshuis se verjaarsdagvieringe, in ‘n spesiale boek opgeneem is saam met ander Nerina’s wat ons beskeie bydrae tot die samewlewing gemaak het.  Dit is ‘n eer vir my.

Daar is baie klavier gespeel en konsert gehou.  In ons tyd kon mans slegs  Sondagaande in die koshuis kom kuier.  My en my kamermaat se kuiers was kompleet met ‘n geskrewe, gedrukte uitnodiging! (Nicola is geweldig kreatief en ‘resourceful’).  Daar was koffie, sjerrie en, as ons gelukkig was, ook vriend Graeme Bootsma se kaaskoek. Dan is die kitaar uitgehaal – ek was nooit sonder my kitaar nie – en daar is goed musiek gemaak.  Ja. It was the best of times; it was also the worst of times.  Daai “swart hond” in jou gemoed is ‘n gesel wat baie kunstenaars ken; ook dit is ‘n pad wat ek moes (moet) loop en dit het my baie gevorm as kuntenaar, hoewel dit nooit maklik was nie.  In 1999 het ek na goud gestreef en ATKV-Crescendo gewen in my honneursjaar. Dit het my ‘n voet in die deur in die groter kunstebedryf gegee – en ek moes Johannesburg toe trek.

Daarna het jy so bietjie rogue gegaan, soos hulle sê en begin toer. In 2015 is jy as een van twintig  afgevaardigdes uit Afrika  gekies as ‘n spesiale Kulturele Entrepreneuer. Is erkenning en toekennings belangrik?

Toer is ‘n  eensame werk en teater- en nasie-ontwikkeling is deugde wat nie onmiddellik beloon word nie.   Ek moes baie hard werk vir erkenning. Daar is baie politiek as dit by erkenning (en lugtyd op radio en TV) kom; ook ek het die pyn daarvan gevoel.  Ons kan maak of dit nie saak maak nie, maar as ons enige iets wen of ’n benoeming kry, is ‘n mens altyd bly. Só is jy ook vir ander bly is as hulle welslae behaal. Ek moes leer om myself te vier en stel steeds my eie standaarde.  Dit is juis wat my werk uniek maak. Die werk in die kunste is sonder ophou.  Ek is bly om my beskeie rol in die teaterontwikkeling en ontwikkeling van SA te kan speel en sien my rol as lid van die Wes-Kaapse Kultuurkommissie  as die volgende stap in daardie proses.

Is jy tevrede met hoe jou loopbaan ontwikkel?

Ek is tevrede.  Ek het baie geleer. Dit was soms baie moeilik. Ek het regtig my lewe lank met depressie gesukkel, reeds as klein dogtertjie, en wanneer mens dan met sulke onseker omstandighede moet werk, is dit soveel moeiliker.  Ek dink nie ek het altyd ander mense verstaan nie en hulle nie vir my nie.  Ek het ‘n groot hart en is bietjie soos ‘n rasieleier vir ander soms. Destyds het iemand opgemerk dat ek ander kunstenaars altyd goed laat lyk saam met my op die verhoog.  Ek hou van harmonie, maar dit is nie hoe dinge altyd uitwerk nie.  Life happens to all of us.  Soos daar vir my deur ‘n baie bekende, briljante kunstenaar verduidelik is:  “Dit maak ons wie ons is.”  Dit is ook wat my, soos ander kunstenaars, noop om met mense se siele te werk.  Ek dink wel dis onnodig dat ons so moet sukkel; dit kan en moet baie beter gaan.  Dis moeilik as deure vir jou toegehou word.  Ons almal ken die politieke klimaat van die mens en ons algehele heelal en goed word soms teen ‘n mens gehou – selfs as jy die waarheid praat. Tog hang dit net van jouself af. Dit is waarom ek tevrede is. Ek val en staan op, kan sê waar ek jammer is en ek besing steeds die vryheid. Die impak van dié loopbaan op mense is langdurig.  Dis ‘n voetpaadjie wat jy so deeglik uitloop soos ‘n bokkie in die veld.  Dis selfs dieper as teer en dan moet mens altyd glo dat die beste nog voorlê.

Hoe ontspan jy en hou jy lyf fiks en siel gesond?

Ek het ‘n Christelike huis grootgeword; dit is ook my geloof.  Ek is dankbaar vir my ouers se voorbeeld. Hulle het Christus gelééf en nie hul geloof op boekekennis gegrond nie, maar in en uit hul hart. Ek het nou vir jare net gewerk en nooit gerus nie. Ek het ‘n baie besige jaar agter die rug.  ‘n Mens moet tydmaak vir stap, swem ontspan en kuier saam met vriende.  Ek het oefening en tyd daarvoor baie verskerp die laaste tyd – juis om myself ook kans te gee vir iets anders as net werk.  Dit kan nogal jou lewe oorneem; dié loopbaan! As ons die kans kry, is ‘n besoek aan die Warmwaterbergspa in Barrydale net die ding.  Ek is ook lief vir lees en ‘is versot daarop om ‘n reeks  op Netflix te verslind.

Hoe mode- en optertbewus is jy?

Nie juis nie!  By ‘n Loeriefees destyds het ‘n jong joernalis my gevra oor my gunsteling-ontwerpers… Ek moet bieg ek het ‘n paar name genoem wat as “oud” afgemaak is en ek is gevra of ek nie nuwe ontwerpers ken nie.  Ek dink dis ‘n ongelooflike kunsvorm, maar uit die aard  van my werk, het ek toe onomwonde vir die man gesê dat ek al my klere by Pep Stores koop, want as mense nie kos het nie, hoekom moet ek duur aantrek?  Hy het dit nie waardeer nie.  Ek trek graag mooi aan en het baie bewondering vir mense wat hulself mooi oppas.  Ek dink dis baie belangrik om goed te voel in wat ook al jy aantrek en is al ‘n keer of twee opgetooi in uitrustings wat my nie regtig gepas het nie.  My tannie Elize, en my ma maak pragtige klere. Ek dra veral graag lang rokke. Uiteraard …

Jy versamel mense, jou familie is vir jou kosbaar en jy het jou album aan jou pa, Bertie, opgedra.

My pa, ʼn seun van die Weskus wat jare lank die skoolhoof by Laerskool De Villiers Graaff op Villiersdorp was, was my groot bewonderaar. Hy is in 2015 oorlede.

Ek het ‘n  versteekte snit – waarop ek klavierspel opgeneem het; sommer so uit my kop net soos wat ek vir ek hom gespeel het – en die snit “en draai”  ook aan hom opgedra.  Daar was net een.  Hy het siek geword met ‘n langnaamsiekte wat hom weggeneem het in dieselfde jaar wat ons Adam Small gegroet het.  Ek kon nie help om te vergelyk hoe verskillend hulle ervarings van Suid-Afrika was nie en kan eerlik sê dat my ouers se voorbeeld van liefde in my en ons kinders se lewens ‘n genade is. Mens kan nie sonder liefde deur hierdie lewe gaan nie.  Dit verander alles en ek is dankbaar vir hulle mensheid.  Daarom kon ek Adam Small se woorde so inkorporeer in die lied, “Die Small Weg” op my album.

Hy het geskryf:

“As hierdie land myne is, in al sy rykdom, maar die liefde ontbreek my, dan is hierdie land myne net in sy armoede.  As daar nou bruin en swart en wit bly, dan is die grootste hiervan die liefde.”

Toe skryf ek by:

“Ek hou jou vas tussen groet en tas, tussen spykers in ‘n muur en die hawe op die kas.  Ver by my is liefde nie, ook die smal weg is al op my toe ingepas.  Ek min jou meer as mag, rus sag.”

Rus sag.

Waarheen draai die heelal?

Ons waardes as ‘n gemeenskap is onder bespreking.  Mense moet oopkop kan dink en, soos Christus gesê het, die “boom aan sy vrugte” ken en nie met wie hy/sy trou of uithang of wat mense aantrek of watter karre hulle ry en ander statussimbole as maatstawwe gebruik nie. Ek dink ons moet baie meer fokus op kuns en kultuur in Suid-Afrika.  Dit sal die land nie net help genees nie, maar ook die ekonomie stu.  Mense kan vir hulself werk. Ek dink ons het baie oop gesprekvoering nodig en moet daagliks bid vir goeie leierskap, nie net vir óns land nie, maar vir en in die hele wêreld.  Die aarde –  én ons – kan nie só voortgaan nie.

Petronel se produksies

Petronel het ‘n hele aantal uiteenlopende produksies waarmee sy landwyd toer:

  • Diva Galore saam met Boesman Keyser op saxofoon. Dit is ‘n outobiografiese produksie wat die diva-invloede in haar lewe vier.
  • Die Heelal Draai saam met Schalk Maas en Altan Ungerer, wat ook die album se amptelike vertoning is. Dié produksie het vroeër vanjaar by  KKNK, in “Die Geheime Tuin” by Art Karoo se nuwe venue as een van die feeshooftepunte gedebuteer. Schalk staan ook bekend as “Soetes Maas” en hy en Altan is saam as  “Soetmelk” bekend.
  • Verdubbel die Geluk, saam met die liedjiereus Stef Kruger.
  • Triptruuk is ‘n spesiale samevoeging van Stef, Petronel en Soetmelk. Dié vertoning fokus op liriek en melodie en word met ‘n heerlike kombinasie van klank en humor aangebied.
  • Petronel werk ook saam met Cornelle Carstens, die onder-voorsitter van Mocca en ‘n aktrise/skrywer/komediant en danser by uitstek. Hulle doen ‘n heerlike kabaret DisNellas saam en pleeg sommer net lekker kuns daar in en om hul Baai.  Sy het ook ‘n groot hart vir die plaaslike gemeenskap en saam met haar ma-hulle, Joan en De Waal Carstens, hou hulle baie vertonings by hul pragtige kleinteater, Monroetheater at Déjà Vu Vintage House.  Sedert 2012 doen hulle ook ‘n jaarlikse “Voorjaarsfees” by die teatertjie aan die onderpunt van Marshstraat in Mosselbaai.  Dit gebeur vanjaar weer  en bestaan uit ‘n reeks van vertonings wat oor Desember en Januarie daar aangebied word.

Die album

Petronel Baard se jongste album, Die heelal draai (Lang Vrou-produksies) behoort met elke denkbare musiektoekenning vir Afrikaanse musiek bekroon te word; beoordeel op grond van artistieke meriete. Dis ‘n album wat nie net krities beïndruk nie, maar ook luisterryk bevredig.

Sy besing die lewe en haar mense, die passie en die pyn, die  onverwagse draaie, die verrassings en helaas, ook die onvermydelike; afskeid.

Resensie deur Christiaan J de Swardt

Deel van die album se bekoring is die feit dat dit nie selfsugtige, egosentriese selfverheerliking is nie. Die eiesoortige, universele albumklank – gekap aan die Portugese Fado, maar  tradisioneel-stilisties in Afrikaans en in Afrika gesetel – is die resultaat van musikale samewerking.

Die intieme produksie is deur Petronel se jarelange musiekvennoot Schalk Maas, met insette deur David Cruikshank, by Africa Sun Studios in Plattelkloof, opgeneem en deur Phillip Pels gemeng; lewend, sónder rigiede tegniese beperkings.

Alles is oorspronklik, met tussen die hoogtepunte, Petronel se toonsettings (met toestemming) van die digter Antjie Krog se werk: Hier dien die musiek die vers in volledigheid: inhoud, stemming en struktuur.

Inteendeel, elke noot hierop, ook in haar eie nuutskeppinge, het doel. Die liriese stiltes, veral, ook. Dit is akoestiese kuns.

Petronel se formidabele stemvermoëns is deurgaans boeiend en uitdagend en haar kabaret-aanslag is skitterend.

Haar kabaret-aanslag skitter op die smeulsnit, Nita se blues (Anita Jonker se woorde; Petronel se musiek en klavierspel deur Hanli Cruikshank).

Die klank is deurgaans vars, onverwags en verfrissend.

Schalk Maas se musikale verwerkings, albumregie, mondfluitjie en trekklavier ontgin en verewig ‘n musikale erfenis. Sy folknuutskepping, Liefde van eensaam (wat hy in duet met Petronel uitvoer), is ‘n melancholiese juweeltjie; nostalgies verwerk met die kenmerkende tregterklank van die destydse grammofoon en die naaldgeruis op viniel.

Altan Ungerer se baskitaar en perkussie, André Janse van Vuuren se trekklavier en Boesman Keyser se saxofoon (op die snit Ma) komplementeer die stemming en styl van elke lied.

Dié meesleurende musikale reis word afgesluit met die instrumentale snit, En draai, ‘n meesterlike klaviersolo; kenmerkend aan dié musikant se sonderlinge klawerbenadering; opgedra aan haar onslape pa, Bertie.

Hier is minder meer, eenvoud veelvuldig en artistieke integriteit  die stempel van meesterskap.

Saam met Jorina Kriel-Maas en Wilhelm Vincent se fotografie en kunsregie  is Petronel Baard se album Die heelal draai bloot die mooiste  mooi nóg!

Die album is aanlyn beskikbaar, by haar vertonings en kan ook bestel word by langvrou@gmail.com.

Webtuiste: http://petronelbaard.com/

Facebook: www.facebook.com/petronelbaardofficial/