fbpx

11 November 2019

DAK help langgekoesterde ideaal verwesentlik

Albertus Davids droom al lank van ’n eie CD. Een met sy eie, eiesoortige luister- en saamsingliedjies daarop. Onlangs is hierdie langgekoesterde ideaal van hom verwesentlik. Die gemeenskapsgerigte DAK Netwerk het die nodige fondse bewillig sodat Davids sy CD, Die ding ruk onder Rebelskop, nou in sy hand kan vashou. Die omslag van die CD toon Davids met sy swart en wit elektriese kitaar. Hy vertel dat hy dié kitaar by Cash Crusaders gekoop het, en die ding neig heeltyd om Engelse liedjies te wil speel!

Sy CD is nou op die rak

Die CD is onlangs tydens die DAK Netwerk se jaarlikse gala-aand by die Zevenwacht-wynlandgoed bekendgestel.

Davids is geen onbekende in die vermaaklikheidswêreld nie. Saam met die Kreakon-toneelgeselskap van Willem Fransman het hy al by feitlik al die groot kunstefeeste in die land opgetree. Hy het sy toetrede in 2004 by die KKNK gemaak met “Die mense van langesaan”, waar hy die geleentheid gehad het om van sy eie liedjies te sing. In 2006, met die produksie, “Leipoldt soos nog nooit vantevore” by die Gariepkunstefees in Kimberley, het hy gedigte van die digter C Louis Leipoldt meesterlik getoonset. Tóé al is gevra na die moontlikheid van ‘n eie CD.

By die immergewilde jaarlikse rieldans-kompetisie in die Paarl, is hy net so ‘n gewilde gesig. Hy is die kitaarspeler vir die Uitsig Rieldansers, en is ook daar per geleentheid vereer vir sy liedjies – liedjies wat nie wil toelaat dat ’n mens se voete stilstaan nie.

Behalwe komponis, kitaarspeler en sanger, is Albertus ook ’n goeie storieverteller.

Die DAK Netwerk, waarvan Davids een van nege direkteure is, is ‘n bemagtigingsorganisasie wat fokus op identiteit, die ekonomiese en sosiale opheffing van gemeenskappe, asook onderwys.

Meer oor die album

Die ding ruk onder Rebelskop verwys na Davids se grootwordwêreld, Sutherland, waar hy so reg onder die Rebelskop die fyner kunsies van kitaarspeel by die ouer ooms aangeleer het. Liedjies soos “Griekwa kom haal jou pap”, “As die spekbos blom”, “Klipkind van die rante”, vertel van daardie onskuldige grootwordjare. Ander lawwe, tong-in-die-kies-liedjies is “Sallie hallie” en “Springbokke spring”. Dit is egter die liedjie, “Tokkeloi se Tjend”, sy moeder se troetelnaampie vir hom, wat sy persoonlike gunsteling is.

Davids was tydens sy aktiewe werksjare lank opleidingsbeampte van die Shell-garages se petroljoggies. As personeellid van Shell, was van sy pligte om tydens die gewilde landbouskoue die klanktoestelle op te stel. Die skoue sou hom met verskeie  mense, selfs mense soos PW Botha en John Vorster, in aanraking bring, want hulle het dikwels die skoue kom open.

Alhoewel hy nou sy geliefde Sutherland vir die Kaap verruil het, vorm sy geboortedorp steeds ’n integrale deel van sy psige. Veral sy liedjies is deurspek van sy grootwordjare daar – so asof hy sy arms letterlik om sy geliefde dorpie wou slaan.

Praat mens vandag met Albertus oor sy lewe, straal hy van trots. In sy leeftyd van bykans 75 jaar het niemand nog so ‘n groot geskenk aan hom gegee soos DAK Netwerk nie. En vir die vervaardiger en ontwerper, Tommy Jooste, het hy ook net die grootste lof.

Kontak Albertus Davids gerus by 078 003 8209 om ‘n kopie van sy CD, Die ding ruk onder Rebelskop, teen R100 aan te skaf.

Lees meer oor DAK hier

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.