fbpx

Cindy Swanepoel se rol in Fiela se Kind

Die nuwe weergawe van die Dalene Matthee-treffer, Fiela se Kind, is nou in bioskope te sien. Annelien van Basten gesels met Cindy Swanepoel oor hoeveel haar sterk karakter op die kassie van haar onderdanige rol op die grootskerm verskil.

Fiela en Benjamin in die nuwe weergawe van Dalene Matthee se Fiela se Kind

Suid-Afrikaanse sepiekykers het oor die afgelope drie jaar ’n tipe liefde-haat-verhouding begin bou met Binnelanders se weeskinddokter, Annelize Roux. Die rede hiervoor is grotendeels Cindy Swanepoel se puik en deernisvolle vertolking van hierdie komplekse vrou wat eintlik net êrens wil hoort, maar baie maklik die mense rondom haar wegstoot deur die harde dop waarmee sy haarself teen die buitewêreld beskerm.

Dit is daarom glad nie verbasend dat hierdie talentvolle aktrise haarself ook skitterend van haar taak kwyt in die rol van Barta van Rooyen wat, net soos Annelize, met haar leuens talle lewens omvergooi nie.

Kyk die lokprent hier

Toneelspel was nog altyd haar groot liefde en passie en die vooruitsig daarvan om te kon “speel” vir ’n lewe, het aanleiding gegee tot ’n wonderlike toneelkunstenaar wat so gemaklik in die vermaakbedryf rondbeweeg.

Cindy het in 2003 haar graad in Drama aan die Universiteit Stellenbosch behaal en het, buiten vir haar vaste karakter op die bogenoemde kykNET-sepie, sedertdien al rolle gehad het in verskeie teaterproduksies (Kring in ’n Bos, Drift, The Crucible, Curl Up and Dye, Houtkruis – die Musiekblyspel), toneelstukke (My vrou se man se vrou, My boetie se boetie se boetie se baba, Ballade in die Lug) televisieprogramme (Egoli, Villa Rosa, Generations, Getroud met Rugby, Proesstraat, Laugh out Loud, The Mating Game, 90 Plein Street), kortfilms (Spiertier, Eenrigting, Die Staat se Bul, Fluit Fluit) en in die fliek Ballade vir ’n Enkeling as Mysi Moolman.

Daarmee saam, het sy talle benoemings ontvang vir haar uitstaande toneelspel en in 2018 die Silwerskermfees-toekenning vir Beste Aktrise en die 2019 ATKV-Mediaveertjie gewen vir haar rol in Fluit Fluit (vir haar persoonlik ’n groot hoogtepunt) asook ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Beste Aktrise in ’n Sepie.

Alhoewel dit nie aanvanklik haar droom was om die rol van Barta te speel nie, het sy na haar oudisie geweet dat sy bestem was om nuwe lewe te blaas in hierdie bekende karakter.

Barta is, in teenstelling met Annelize, ’n gebroke vrou wat opgegee het op die lewe. Die verlies van haar kind en die skuld wat sy saam met haar dra, het ’n merk op haar gelos. Sy volg die pad met die minste weerstand. Ons het by Cindy gaan hoor hoe sy vir dié rol voorberei het en wat dit vir haar beteken.

Volgens die aktrise, wat die leisels van dié karakter by die legendariese Lida Botha oorgeneem het, was dit vir haar nogal ’n uitdaging om ’n rol wat reeds perfek vertolk is haar eie te maak. Daarom het sy dit aangepak sonder om toe te laat dat die bestaande Barta in haar kop vassteek. “Barta dra ongelooflik baie bitterheid, skuld en hartseer in haar. Sy praat nie baie in die film of boek nie, so dit was ’n groot uitdaging om haar groei en ontwikkeling te speel, omdat dit meer in die liggaam en gesig lê as in die dialoog,” vertel sy. “Ek wou vir Barta so eg as moontlik speel, op my manier en met konstante interne dialoog. Die subteks het my baie hiermee gehelp.”

Op die kassie speel jy ’n sterk en onafhanklike vrou, teenoor die onderdanige Barta in die fliek. Hoe was dit vir jou om hierdie transformasie te ondergaan en watter aspekte van jou gaan dit vir die kyker wys?
“Die verskil tussen die twee karakters is so groot dat dit nie vir my moeilik was om tussen die twee te spring nie. Ek hoop mense kan my veelsydigheid as aktrise waardeer, dat die een karakter nie soos die volgende een is nie.”

Hoe verskil die twee vroue van mekaar?
“Annelize is nie ’n ma nie. Sy is ’n selfstandige vrou wat nie sal terugstaan vir enigiemand nie. Barta word onderdruk deur ’n regering en haar man en sy staan nooit op vir haarself nie… behalwe aan die einde waar sy uiteindelik haar waarheid spreek.”

Is daar ooreenkomste tussen Barta en Annelize?

“Beide vroue het verledes wat by hulle spook, waarmee hulle gekonfronteer word.”

Word vroue van vandag steeds onderdruk soos Barta en wat dink jy is die oplossing?
“Ja, dit is hoekom die storie steeds relevant is. Ongelukkig leef ons nog steeds in ’n manswêreld. Die oplossing is nie eenvoudig nie, maar daar word deesdae baie meer bewustheid oor vroueregte gemaak en as daar ’n geleentheid opduik om dit te ondersteun, dink ek dis ons plig om dit te doen.”

Wat sou Annelize se raad aan Barta wees?
“Barta moet vrede maak met haar eie kind se dood en haarself vergewe en nie terugstaan vir haar man se nonsens nie!”

… en Cindy se raad vir Barta?
“Jy is ’n goeie ma, weet dit en glo.”

Op die oomblik word daar baie nuwe weergawes van ou flieks gemaak, hoekom is hierdie tendens so gewild?

“Dis was nog altyd ’n gewilde tendens om nuwe lewe te blaas in klassieke stories soos Romeo and Juliet, Pride and Prejudice, ensovoorts. Elke nuwe generasie bring iets nuuts na die verhaal en dit is wonderlik om te sien hoe anders mense die rolprente interpreteer, maar steeds die wese van die storie behou.”

Dink jy daar is plek in die jong Afrikaanse mark vir so iets?
“Natuurlik, en dis belangrik. Die storie is so mooi, dit moet weer-en-weer vertel word. Plus die tema is steeds relevant in vandag se tyd. Dalene Matthee se werk moet ook altyd gevier word.”

Wat dink jy hou die toekoms vir die Afrikaanse vermaakbedryf in?
“Ek dink dit hang af van die publiek. As almal gaan aanhou om Afrikaanse vermaak te ondersteun, sal dit groei. Daar is soveel talent.”

Wie het ’n invloed gehad op jou eie loopbaan?

Hans Strydom (At Koster in Binnelanders) is ’n baie groot inspirasie vir my. Sy dissipline en professionaliteit is iets waarna ek streef. Ek respekteer hom ongelooflik baie en leer elke dag iets nuuts by hom… en ek voel baie gelukkig om so gereeld teenoor hom te kan speel. Leon van Nierop het ek ontmoet tydens die verfilming van Ballade vir ’n Enkeling en sedertdien werk ek al drie jaar saam met hom in die radiobedryf. Hy skryf die radioprogram, Hartebreker, wat weekliks op RSG uitgesaai word. Brett Michael Innes, wat die regisseur is van Fiela se Kind, het ’n mooi manier om saam met almal te werk. Hy vertrou jou, as aktrise, en respekteer jou besluite. Ek het regtig baie respek vir hom ook.”

Het jy raad vir opkomende aktrises om dit in die bedryf te maak?
“Jy moet bereid wees om alles te doen, leer soveel as wat jy kan en moet nooit dink jy is beter as ander nie. Wees nederig, werk hard. Doen kinderteater… dit bou fondasies en leer jou hoe om te karakteriseer! Skep jou eie werk. Moet nooit terugstaan vir enige iemand nie en hou by jou waardes.”

Haar ervaring op die stel van Fiela se Kind, het vir Cindy geleer om haar instink te vertrou en die eindresultaat is puik. “Ek is hardwerkend, professioneel en uiters passievol oor my werk.  Dit is al wat ek nog altyd wou doen, ek is nie bang om nuwe dinge aan te pak nie… dit gaan nie vir my oor wat mense van my dink nie, my kreatiwiteit is vir myself eerstens en dan as mense daarvan hou, is dit ’n groot pluspunt”, sluit sy af.

Ons kan nie wag om te sien waarmee hierdie veelsydige ster volgende vorendag gaan kom nie. Volg haar gerus op Facebook en Instagram om te sien waarmee sy alles besig is. 

Oor die fliek…

Fiela se Kind is die bekende verhaal van ’n bruin vrou wat in die dorre Karoo woon en ’n verlore wit kind inneem en as haar eie grootmaak. Nege jaar later, word die seuntjie verwyder en word hy geforseer om in die Knysna Bos te leef saam met ’n familie houtkappers wat beweer hy behoort aan hulle. Die pad wat beide Benjamin en Fiela moet stap om weer bymekaar uit te kom, is die emosionele bestanddele van hierdie wenresep en regisseur Brett Michael Innes en The Film Factory kry dit reg om in hierdie splinternuwe verwerking die storie opnuut in die harte van Suid-Afrikaners te laat vlam vat.

Hierdie aangrypende rolprent, wat in samewerking met kykNET Films vervaardig is, sluit ook puik vertolkings in deur akteurs soos Melissa Willering, Zenobia Kloppers, Wayne Smith, Luca Bornman, Drikus Volschenk, Wayne van Rooyen, Chiara Roodt, Stefan Erasmus en meer.

Dit het op 13 September 2019 in plaaslike rolprentteaters begin draai. Moet dit nie mis nie! #OndersteunPlaaslik #OndersteunAfrikaans #FielaSeKindFilm

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.