fbpx

ATKV-Tienertoneel 2019 

Skeppende kuns laat voel jou Afrikaans aan jou lyf!

Ongeveer 4 000 hoërskoolleerders het vanjaar deelgeneem aan die 213 produksies wat tydens 12 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste landswyd en in Namibië opgevoer is. Jong voornemende teatermakers het die verhoë warm gespeel, gehore vermaak, ontroer en bekoor en uiteindelik is die beste produksies na die finaal genooi.

Drie skole – Hoërskool Tygerberg, Hoërskool Zwartkop en Hoërskool Noordheuwel – het elkeen twee produksies in die finaal gehad. Hulle het meegeding teen Hoërskool Stellenbosch, Afrikaanse Hoër Seunskool, C&N Sekondêre Meisieskool Oranje, Helpmekaar Kollege, Bernadino Heights High School, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Hugenote, Hoërskool Florida, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Parel Vallei en Hoër Meisieskool Bloemhof.

Die kompetisie

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is al vir 55 jaar ’n platform vir talent- en teaterontwikkeling. Hierdie projek bied aan hoërskoolleerders die geleentheid om betrokke te raak by alle aspekte van teater, soos toneelspel, regie, skryf van tekste, kostuums, grimering, dekor, klank, beligting, verhoogbestuur en choreografie.

Afrikaans.com-ATKV Tienertoneel

“Dis vir my wonderlik hoe ongelooflik kreatief daar met teaterelemente omgegaan word. Dis esteties mooi en raak ’n mens se hart aan, en boonop is die stories wat vertel word, uiters relevant en nodig vir die samelewing om te hoor. Kwessies soos geweld teen vroue, tieners se daaglikse lewe, vriendskappe, tienerseksualiteit, die dood en die liefde kom onder die loep. Tienertoneel is mooi en opreg en sonder pretensie!”, sê Lizané Basson, projekorganiseerder.

Lizané  vertel meer …

Wenners

Die wenproduksie is Waterbrief, ’n eenvroustuk van Hoërskool Noordheuwel (Krugersdorp). Hulle ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees van 2020. Minke Marais ontvang die toekenning as beste aktrise vir haar spel in Waterbrief.

Die naaswenner is In die duister en deurmekaar van Hoërskool Tygerberg (Kaapstad). Hulle ontvang R20 000-prysgeld. Dié produksie het ook die toekenning ontvang vir die beste hantering van algehele tegniese aspekte en die beste ensemblewerk. Frans Hamman is as die beste regisseur aangewys vir In die duister en deurmekaar.

Die produksie in die derde plek is Sonder van Hoërskool Zwartkop (Centurion) en die geselskap ontvang R10 000. Corné Landsberg is aangewys as die beste klankoperateur vir Sonder.  Hierdie produksie is ook die wenner van die afdeling vir slegs leerders, dus ontvang die skool nog R10 000-prysgeld. Drie produksies waarvan al die aspekte (regie, skryf van die teks, spel én tegniese aspekte) deur die leerders self behartig is, het deurgedring na die finaal.

Die ATKV het vanjaar twee nuwe toekennings daargestel om kreatiwiteit van die produksiespan te beloon – in die vorm van kostuums en grimering. Die toekenning vir die beste grimering word gedeel deur Hoërskool Noordheuwel vir Waterbrief én die slegs leerders-produksie van Hoërskool Parel Vallei – Bruwelik.

Die leerders van Hoërskool Tygerberg saam met hul regisseur vir hul produksie In die duister en deurmekaar. Links na regs: Hano Groenewald, Marzaan Grundlingh, Frans Hamman (regisseur) en Danté Barnard.

Afrikaans.com - Hoërskool Zwartkop - ATKV-Tienertoneel 2019

Hoërskool Zwartkop bied hierdie jaar ‘n nuutgeskrewe teks en eksperimentele sketskomedie getiteld Sonder aan. Hier is (van links) Diandra Slabbert en Corné Landberg van die produskiespan en die regisseurs Emma van der Walt en Donné Boshoff.

Die leerders van Parel Vallei is opgewonde oor hul produksie Bruwelik  in die afdeling Nuutgeskrewe teks/Absurde teater, produksie deur slegs leerders.

Kry die volledige lys wenners hier.

Vir meer inligting kontak Lizané Basson by 084 789 1477 of e-pos lizaneb@atkv.org.za.

064 652 6873

JOU Afrikaans tel oral en altyd. Vertel ons met die hutsmerk #jouafrikaanstel waar, wanneer of waarom jou Afrikaans tel. Met ons nuutste veldtog bevestig ons dat jy nooit jou taal hoef prys te gee nie, dat Afrikaans oor globale grense strek en dat ons die verskeidenheid in Afrikaans vier. Kyk hier na die veldtog-video’s en neem deel. Onthou om jou naam, van en van watter geweste jy is, by te voeg.