Anton Goosen se radioreeks plaas die Afrikaanse musiekkultuur in konteks

Die Musiek-en-liriek-beweging van 1979 het gegroei tot ‘n allermagtige dreuning, en die Rubicon-skeiding geword in oorspronklike Afrikaanse musiek in teenstelling met die vertaalde deuntjies wat destyds aan die orde van die dag was. Vandag, 40 jaar later, luister ons na ‘n verskeidenheid substansiële Afrikaanse musiek uit eie bodem van die afgelope vier dekades.

Elke Maandagaand om 21:10 kan jy inskakel op RSG (100 tot 104 FM) vir Musiek en Liriek 40 wat aangebied word deur Anton Goosen en Lise Swart. Die 13 episodes fokus op die substansiële en oorspronklike Afrikaanse musiek wat vanaf 1979 deur kunstenaars wat deel was van die Musiek-en liriek-beweging, geskep is. In die program word die invloed van hierdie beweging op Afrikaanse musiek oor die afgelope 40 jaar verken.

Die Musiek-en-liriek-beweging het spontaan begin en oorspronklike Afrikaanse musiek het vastrapplek gevind op TV, verhoë en in teaters.

“Die teëlaarde was ryp om te plant en te pluk” sê Anton.

Die reeks is ’n holistiese blik oor die vier dekades van Afrikaanse musiek en die groei en ontwikkeling van die  Afrikaanse musiekkultuur. Daar is verskeie klankgrepe en interessante bydraes van onder meer Laurika Rauch, Jannie du Toit en Mynie Grové om na uit te sien. Hulle was almal betrokke by die beweging en mense soos David Kramer, Amanda Strydom en Coenie de Villiers het in hul voetspore gevolg.

Deon Maas, Johan Badenhorst en Kerneels Breytenbach lewer ook bydraes.

Indien jy op Netwerk24 ingeteken is, kan jy meer oor die program lees. Klik hier