Verskilmakers in die Afrikaanse vermaakbedryf

Kerstyd is omgeetyd en Afrikaans.com het gaan uitvind hoe oop is die harte van ons Afrikaanse kunstenaars en nodeloos om te sê … ons is nie verras nie. Ons plaaslike vermaakkunstenaars se harte is oop en hul gee met oorgawe! Daar is baie suksesvolle bekendes wat in die vermaaklikheidsbedryf werk en ’n punt daarvan maak om vir opkomende talent ’n kans te gee om hulle drome te bewaarheid. Annelien van Basten het met ’n paar verskilmakers gaan gesels oor hoekom hulle daarin glo om hulle voorspoed met ander te deel.

In die fliek, Klein Karoo, sê een van die karakters dat enige dag wat jy die kans kry om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak, ’n goeie een is. Daar is baie suksesvolle mense in die samelewing wat saamstem.

Party borg ’n minderbevoorregte kind om te gaan studeer, ander gee geld en kos vir behoeftige mense of diere… en dan is daar diegene wat deur middel van hulle eie sukses ander help om ook hulle drome te bereik.

Laasgenoemde is waaroor ons graag in hierdie artikel wil gesels. Die vermaaklikheidsbedryf is nie ’n maklike veld om in te werk of naam te maak nie. Dit kom met hope uitdagings, opinies, kritiek, kompetisie en drama, maar vir party musikante en akteurs is daar geen ander werk wat hulle eerder sou wou doen nie. Dis ’n passie en ’n droom… maar lê soms na jare van probeer steeds ver buite hulle bereik… tot daardie een dag wat die regte oog hulle raaksien of oor hulle hoor.

Hier is ’n paar weldoeners, wat self ’n moeilike pad moes stap om sukses te bereik, en dit ’n prioriteit maak om opkomende talent te ontgin en ’n kans te gee om die beroep te volg wat hulle nog altyd wou.

Johan Vorster

Johan Vorster

Johan Vorster is seker een van die bekendste name in die bedryf. Hy is een van die suksesvolste liedjieskrywers in die land, met verskeie toekennings op sy kerfstok, en was reeds verantwoordelik vir meer as sewentig nommer een-treffers, waaronder Pa en Seun (Steve Hofmeyr en Bok van Blerk), Tyd om te trek (Bok van Blerk), Juliet (Steve Hofmeyr), ‘n Vrou wil dit hoor (Bobby van Jaarsveld), Eendag As Ek Groot Is (Dewald Wasserfall), Net voor die Storm kom (Theuns Jordaan), Swart koffie (Corlea), Jy Soen My Nie Meer Nie (Lianie May), Skepe (Jo Black) en vele meer.

Verder is hy ook die gesoute draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger van die lokettreffers As Jy Sing en Susters, ’n gewilde musiekvervaardiger, ’n knap besigheidsman en die mede-eienaar van Inhoud Huis Musiek, wat nie net nuwe talent ontgin nie, maar ook verantwoordelik is vir die IN AFRIKAANS-konsertreeks, wat vanjaar op 22, 24, 28 en 29 Desember 2018 vir die tweede keer by die ATKV-Amfiteater in Hartenbos plaasvind.

Johan het sy musiekloopbaan begin as deel van die mansmusiekgroep Eden, onder mentorskap van Ewald Coleske, wat vir hom die fynere kuns van musiekskryf geleer het. Omdat iemand bereid was om in hom te glo en hom ’n kans te gee om sy droom te bewaarheid, glo hy dat hy ook op hierdie manier moet teruggee aan die bedryf.

“Ek wil nooit ophou om die guns wat aan my bewys is terug te gee nie. Dit is vir my lekker om nuwe, onbekende kunstenaars se talent te ontgin en hulle te help om suksesvolle loopbane te bou,” vertel hy.

Johan bou vir elkeen van sy kunstenaars ’n handelsmerk en het die vaardighede om te bepaal watter lied kommersieel sal werk in die mark. Die liedjies wat hy skryf en vervaardig het ’n spesifieke sielkunde en baie ander fasette wat verseker dat dit gewoonlik ’n treffer is. Hy is agter die skerms betrokke by die gedaanteverwisseling van ’n gewone sanger tot superster wat goud, platinum of multiplatinum verkoop. Jo Black, Roan Ash en verskeie ander groot name, is ’n getuigskrif hiervan.

Tans doen Johan ook werk in Nashville en Londen en beplan hy om binnekort die internasionale mark te betree.

André saam met Leon Schuster saam met wie hy al aan verskeie flieks gewerk het. Foto – Facebook

André saam met sy AFDA-studente op die stel van Toorbos.

André Scholtz

André Scholtz is die rolprentvervaardiger saam met wie almal droom om saam te werk en is verantwoordelik vir verskeie bekroonde lokettreffers soos ’n Pawpaw Vir My Darling, Meerkat Maantuig, Die Wonderwerker (wat verskeie Silwerskermtoekennings ingepalm het), die suksesvolle Oh Schucks-reeks saam met Leon Schuster asook verskeie van sy ander prente – waaronder die splinternuwe lokettreffer, Frank & Fearless wat tans by bioskope wys. André is ook die kreatiewe brein agter televisieprogramme en -reekse soos Pandjieswinkelstories, Dryfsand en Amalia 1 en 2.

Hy werk al sedert 1969 in die vermaaklikheidsbedryf en het aanvanklik begin as beplannings- en finansiële bestuurder by Ster-Kinekor, waar hy baie oor die bedryf geleer het. Sy heel eerste fliek was Môre Môre waarin Hans Strydom en Sybil Coetzee ook hulle buiging gemaak het. Sedertdien is hy passievol oor die rolprentbedryf, juis omdat dit jou die geleentheid gee om jou eie realiteit te skep, en het hy al talle toekennings vir sy pogings ingepalm.

Volgens hom is sy liefde vir film in die laat vyftigs gebore, toe hy nog op skool was in Koffiefontein en hulle in die stadsaal gaan fliek kyk het. Hy put inspirasie uit draaiboeke met sterk stories, wat die verbeelding van kykers kan aangryp.

Waar moontlik, probeer hy jong filmmakers betrek by die vervaardiging van sy projekte en het al baie jongmense – wat potensiaal getoon het – van die straat af getrek. Mense wat vandag steeds in die bedryf is en self opslae maak.

Met sy nuutste Afrikaanse rolprent, Toorbos, wat op Dalene Matthee se roman gebaseer en in Knysna verfilm is, het hy drie weke lank sewe AFDA-studente op stel gehad. “Ek het nie die leermeesters gehad wat vandag beskikbaar is nie. In die sestigs was dit maar elke ou vir homself. Gevolglik moes jy self sien kom klaar en alle aspekte van rolprentvervaardiging onder die knie kry. Die meeste jong filmmakers het die teoretiese kennis, maar nie die praktiese ervaring nie. Dit is hier waar ons ouer garde waarde kan toevoeg,” verduidelik hy oor hoekom hy graag opkomende talent help. “Op die ou einde, is ons doel op aarde mos juis om ’n nalatenskap agter te laat.”

Volgens dié vervaardiger, is dit belangrik om seker te maak dat die Afrikaanse rolprentbedryf groei en hy meen dat kykNET ’n baie waardevolle bydrae maak. Hy glo ook dat die kwaliteit van flieks met elke nuwe projek verbeter, maar dat die storie en vermaaklikheidsaspek ’n belangrike rol speel, omdat mense nie noodwendig net iets sal ondersteun omdat dit in Afrikaans is nie.

Sy raad aan opkomende rolprentvervaardigers is dat elke projek soos ’n eindeksamen aangepak moet word en dat daar nie plek is vir ‘druip’ nie. “Passie en werksetiek is baie belangrik en sal oorspoel na die span saam met wie jy werk,” sê hy.

Tans is hy besig met nog twee rolprentprojekte waaroor hy baie opgewonde is.

Rex van Deventer

(Foto: Karin Leibrandt)

Rex op die verhoog

(Foto: Morné Coetzee)

Rex van Deventer

Rex van Deventer is ’n man van vele talente en is betrokke by verskeie aspekte van die vermaaklikheidsbedryf. Hy is medevennoot en -stigter van twee van die grootste kuierplekke, met lewendige musiekoptredes, Weiveld en At The Beach, in Gauteng en talle ander besighede soos Entertainment & Event Factory wat in die koördinering en volledige beplanning van funksies en feeste spesialiseer.

Verder is hy ook mededirekteur van die reismaatskappy, LEEF Nou, wat eksklusiewe oorsese reise saam met bekendes reël; asook by Entertainment & Event Factory Wedding Planning wat alle aspekte van troubeplanning hanteer – van voorhuweliksekontrakte tot wittebroodreëlings; SEED en Star Zoo Factory, waar hy kragte saamgespan het met Starburst Promotions en The Marketing Zoo om ’n volledige diens te bied – wat die bemarking, publisiteit en reël van feeste en funksies insluit.

Rex se loopbaan in die bedryf het nege-en-twintig jaar gelede afgeskop. Hy het Ewald en Arnold Coleske in die weermag ontmoet en werk steeds vandag saam met hulle. Aanvanklik het hy hulle klank behartig en so alles oor die bedryf geleer en die geleentheid gekry om saam met baie bekendes te werk. Omdat hy glo in wedersydse respek, het hy oor die jare baie goeie en blywende verhoudings met kunstenaars gebou en is hy iemand met wie hulle graag besigheid doen, omdat hulle hom kan vertrou.

Hy is absoluut passievol oor die bedryf en geniet elke oomblik daarvan en daarom is dit nooit vir hom werk nie. Omdat dit moeiliker is vir kunstenaars om deesdae albums te verkoop, as gevolg van die slegte ekonomie en die digitale era waar aanlyn musiekaankope die norm geword het, meen hy dat die toekoms vir musikante in vertonings lê.

“Ek is dankbaar om ’n platform soos Weiveld te hê, waar ek opkomende talent die kans kan gee om voor ’n groot vertoning so een of twee liedjies te sing. So word hulle ook sommer aan die publiek bekendgestel. Die feit dat CD’s nie verkoop nie, maak dit moeiliker vir nuwe talent, daarom is dit belangrik om daardie kunstenaar op die verhoog te kry. Maar ek het ’n idee waaraan ek tans werk, waarmee ons dalk ’n plan kan maak om hierdie probleem te oorkom,” sê hy. “Ek is geseënd om te kan doen waarvoor ek gemaak is en ek wil graag ander help om dieselfde te kan doen.”

Rex is ’n sagte en romantiese siel, wat graag ’n rolmodel en inspirasie wil wees vir ander mense in moeilike tye en het ’n groot hart vir liefdadigheid. Hy is deel van die liefdadigheidsorganisasie, MoKiFo, wat motiveringswerk doen, met kinders werk en fondsinsamelings doen. Tans is hy ook baie betrokke by die reëlings van die Jakaranda Kinderhuis Liggiefees wat fondse vir die 210 inwoners van Jakaranda Kinderhuis in Pretoria vir 2019 insamel. Gautengers wat vanjaar met Jan Tuisbly se karretjie ry, kan juis tot 31 Desember die kinderhuis besoek om liggies te kyk en na mooi musiek te luister. Hy is ook al vir etlike jare betrokke by fondsinsamelingsprojekte vir President Kruger Kinderhuis.

Om die toekoms van die Afrikaanse musiekbedryf te verseker, is vir Rex ’n belangrike saak en hy is hard besig om planne te maak om dit te laat werk.

Vernon Muso

Vernon Muso

Vernon Muso is ’n multibekroonde country-sanger wat oorspronklik van die Kaap af kom, maar deesdae Vanderbijlpark as sy tuiste beskou. Dit is ook waar hy die liefde van sy lewe ontmoet het en ’n pragtige dogtertjie ryker geword het.

Hy maak al vandat hy twaalf is musiek en was op die ouderdom van vyftien reeds deel van ’n gospelmusiekgroep. Aanvanklik het hy naam gemaak as kitaarspeler saam met Dr. Victor & The Rasta Rebels, wat hoofsaaklik op jazz en reggae gefokus het, maar deesdae is hy ’n gewilde Afrikaanse country-ster, wat deur Lance James geïnspireer is om sy debuutalbum, Country According To Me, uit te bring. Hy kan ewe goed sing as wat hy kan kitaar speel… en die toekennings wat sy trofeërak vol staan is ’n baie goeie bewys van sy sukses.

Vir Vernon is dit baie belangrik om opkomende talent ’n kans te gee om hulleself te bewys. Omdat dit iets is wat hom baie na aan die hart lê, het hy besluit om in 2018 ’n projek in die Vaaldriehoek met die naam, Lokal is Lekka, te loods. Die doel hiervan is om musikante uit die area blootstelling en die geleentheid om voor groot gehore op te tree, te gee. Uit hierdie musikante kies hy dan uiteindelik ’n wenner saam met wie hy ’n pad wil stap om daardie talent te ontwikkel.

Omdat Barnyard Vereeniging, VCR 90.6 FM Stereo, IFM en Mooivaal Media die projek ondersteun, het hy dit ook reggekry om te reël dat uitgesoekte deelnemers die kans kry om vir groot name, soos Barry Hilton, Radio Raps en Cordelia, te open. Boonop kry hulle dan ook radio- en mediablootstelling en die geleentheid om by verskeie feeste op te tree.

“Dit is vir my belangrik om brûe te bou met my musiek. Ons het mekaar nodig en moet hande vat,” sê hy.

Verder meen hy dat dit juis belangrik is om saam te werk in die musiekbedryf, eerder as om teen mekaar te werk, sodat almal die geleentheid kan kry om hulle werk met die wêreld te deel.

Hy het nog baie opwindende planne om musiek in Suid-Afrika en in die Afrikaanse bedryf te bevorder.

Hierdie is maar net ’n paar van die verskilmakers in die vermaaklikheidsbedryf, maar die impak wat hulle op die lewens en drome van onbekende talent het, is van onskatbare waarde.