Afrikaans: Almal se taal

Harry Kalmer.

“Afrikaanse mense kyk anders na die wêreld. Daar is die droë humor wat nie altyd deur ander waardeer word nie. Daar is die reguit manier van praat. Daar is die woorde wat jy nie kan vertaal nie. En emosies wat jy net in Afrikaans kan beskryf.” – Harry Kalmer 

Maar daar is ook soveel soorte Afrikaans as wat daar Afrikaanse mense is. Elke soort Afrikaans sorg dat die sprekers hulle identiteit op ’n spesifieke manier ervaar soos wat Gizelle Botha (video hier onder) die towerkrag van Afrikaans beskryf.

Bekende skrywer, Harry Kalmer het so ‘n bietjie rondgevra.

Ricardo Arendse

Ricardo Arendse, medeskrywer van die rolprent Baby Mamas wat in 2018 in Toronto en New York gewys het, het dit eers oorweeg om net in Engels te skryf.

“Ons was gesê dat ons Afrikaans nie standaard is nie en  lelik klink,” sê Ricardo. “Ek het baie gewroeg hiermee maar later besef dat my ouma, Lenie Arendse, reg was: Taal behoort aan niemand en aan almal.”

Ricardo voel dat dinge moeilik gaan met die Afrikaanssprekende op die oomblik en dat daar nog moeilike gesprekke is wat voorlê. “Hierdeur sal ons ook kom. Vir nou droom, leef, sien, vry, drink en draf ek in Afrikaans!”

Anton Goosen

Foto geneem tydens Anton Goosen se 70ste verjaardag (Foto: Universiteit van Stellenbosch) en tydens vanjaar se Woordfees saam met Saartjie Botha en medekunstenaars.

Anton Goosen is baie meer as net ‘n rockster. Toe hy op die toneel verskyn het was Afrikaanse musiek, om dit sagkens te stel, stagnant. Goosen se liedjies het Sonja Herholdt se loopbaan laat vlamvat en die pad voorberei vir ander musikante  om ook sinvolle, ligter Afrikaanse musiek te maak.

Sy liedjieskryfloopbaan het by ‘n Engelse Johannesburgse privaatskool, waar hy onderwyser was, begin.

“By St Stithians het ek ’n blyspel, “Jantjie ko’ huis toe”, geskryf en die hele prep-skool betrek,” vertel hy. “Ek het die liedjie (en ander) vir die musikale blyspel geskryf.

“Ek het tot toe meestal infantiele Ingilse liedjies geskryf omdat ek in rock ’n roll grootgeword het. Maar êrens het oom Chris Blignaut, Herman Charles Bosman en misvloerpartytjies op plase ingeskop. Toe ek as vryskutjoernalis ’n onderhoud met die “nuwe” sangeres Sonja Herholdt voer, het sy genoem dat sy liedjies soek vir ’n eerste album. Dit was ‘amptelik’ die begin van my liedjieskryfloopbaan.”

Goosen se ma het hom leer poësie lees.

“Sy het Van Wyk Louw, Opperman en Marais aan my voorgestel. Louw was bo my kop maar ek het totaal in Bosman, Marais en Breyten in gegroei.”

Maar hy is ook beïnvloed deur kunstenaars soos Chuck Berry, Bob Dylan, Lenny Bruce, The Rolling Stones en Neil Young. Goosen se musiek toon internasionale invloede, maar “Jantjie”, “Waterblommetjies” en “Tant Mossie se Sakkie-Sakkie Boeredans” kon net deur iemand geskep word wat die Afrikaanse leefwêreld deur en deur ken.

Jan en Francois Lion Cachet

Jan Lion Cachet was ‘n stigterslid van die Afrikaanse tydskrif “Ons Klyntji” in 1896 en een van die eerste Afrikaanse skrywers en digters. Vandag volg sy agter-agterkleinseun, Francois Lion Cachet, in sy voetspore met ‘n aanlyn inkarnasie van “Ons Klyntji”.

“Afrikaanssprekendes bevind hulself in ’n veranderende Suid-Afrikaanse landskap,” sê Lion Cachet. “Wat dit beteken om Afrikaans te wees, met inagneming van haar wye verskeidenheid subkulture en identiteite, word gereeld bespreek. Ons gebruik Afrikaans as ’n taal tussen tale om kulturele grense te oorskry, deur die vertel van diverse, alternatiewe en progressiewe stories.”

Charles Leonard

Die joernalis en DJ, Charles Leonard, het baie Afrikaanse lesers en luisteraars aan die musiek van Afrika voorgestel, maar sy passie vir musiek loop wyd. Van hip-hop tot by jazz tot by rock en pop.

Charles het hom nie altyd tuis gevoel in die Afrikaanse leefwêreld nie.

“Miskien het dit my genoop om harder, verder en dieper na alternatiewe te soek.Die musiek wat ek ontdek het, het ’n toffie gewys na die beklemmende Afrikaanse kultuur. Ek het swart Suid-Afrikaanse musiek, jazz, soul, funk, reggae en so meer ontdek. Ek ontdek dit nog steeds. Die heerlike reis duur voort.”

En sy reis sluit heelwat Afrikaanse medereisigers in. Daarvan getuig die gewildheid van sy nis-musiekprogramme op RSG.

“Goeie Afrikaanse musiek spreek tot my soos alle ander goeie musiek. En daardie musiek sluit Voëlvry, Somerfaan, Meneer Naude en HemelBesem in.”

Bettina Wyngaard

“Van my vroegste herinneringe is wanneer die Ingelse familie van Mitchells Plain kom kuier,”  sê die misdaadskrywer en gemeenskapaktivis Bettina Wyngaard. “Hulle praat net Engels. Verstaan nie ‘n woord Afrikaans nie, tot hulle kwaad raak en die default settings wat als op Afrikaans gestel is, inskop! En toe verseg ek om verder enigiets anders as Afrikaans te praat. So, dalk het die hardkoppigheid en Afrikaansheid kruisbestuif.

“Ek laaik Afrikaans want dit is so lekker aanpasbaar. Sommige uitdrukkings werk net nie in ’n ander taal nie. En ons noem ’n ding op sy naam. Dis ’n eerlike taal, ’n hartstaal, my hartstaal.

Afrikaans het sy bevoorregte posisie wat hy gehad het verloor, maar op ander gebiede van teater, tot by rolprente en die uitgewersbedryf, beleef dit ’n bloeityd. Dit is en bly ook die hart- en koptaal van soveel van ons, en ons kreatiewe omgang daarmee laat dit steeds aanhou blom.

Luister hier hoe gesels Bettina so ’n paar jaar gelede met Rooi Rose.