25 jaar van kuns in die Klein-Karoo …

kies koers na die 2019 KKNK!

“Of jy nou ’n Sokkiebokkie, Kunskat of Dramavoor is, die 25ste KKNK het iets vir elke kultuurdier – van komedie tot kontemporêre musiek. So slyp jou tande, spits jou ore en swaai jou stert Klein-Karoo se kant toe…”

Afrikaans.com het na die program gaan loer en hou van die volgende:

DIE POGGENPOELS PRAAT: Komedie met Pieter-Dirk Uys.  Die Poggenpoels uit Bethlehem, Vrystaat, was al by die KKNK. Ouma Ossewania Kakebenia het haar storie nog in die vorige eeu kom deel, en haar dogter, Evangelie, was al ’n paar keer by die fees in haar gedaante as Evita Bezuidenhout. Hulle is nou albei terug om die 25ste fees saam te vier.

DONKIE: Komiese drama met Frank Opperman. Teks: Dana Snyman. In Donkie ontmoet ons mnr. Barry Swart, 58-jarige hoof van die Hoërskool Hans Oosthuizen, ’n voormalige model C-skool. Mnr. Swart is ’n man onder druk: Die leerlinge se akademiese prestasie is nie na wense nie en die eerste rugbyspan het vyf wedstryde agtereenvolgens verloor. Daar is ook ernstige probleme met dissipline, ’n rassistiese voorval en vrae of Afrikaans nog ’n onderrigtaal gaan wees. Uit talle oorde word mnr. Swart se kop geëis. Só besluit hy een Maandagoggend tydens saalopening om sy kant van die saak te stel … Afrikaans

MY SEUNS: Drama  – Ouma se verjaardagpartytjie stuur heel moontlik op ’n familie-oorlog af. Pa wag om te hoor of hy as regter aangestel gaan word, of gaan die huidige bestel teen hom tel? Die seuns sit duidelik nie meer langs dieselfde vuur nie. Weet Ma meer as wat sy voorgee? ’n Eg Suid-Afrikaanse verhaal met al die verwikkeldhede van vandag: die familiedramas, die verwyte en onopgeloste vrae.

NON MET VAKANSIE: Komiese drama met Lizz Meiring en Wynand van Vollenstee – Anna het op 18 as ’n Afrikaanse, Protestantse middelklasmeisie besluit om ’n Katolieke non te word. In haar 50’s, is sy ontnugter en wonder of sy die regte besluit geneem het. Met ’n opgemaakte familiedrama as verskoning bespreek sy vir haar ’n vakansie op die eiland Nazarene aan die Portugese kus. Só kruis haar pad met dié van Drikus, ’n Afrikaanse man in sy vroeë 30’s, wat vlug van die rat race en ’n gebroke huwelik en wat nou ’n hedonistiese bestaan voer. Wat sal twee sulke uiteenlopende mense tog in gemeen kan hê? Verwag ’n verrassing of twee, hope humor en stof tot nadenke.

SCHALK BEZUIDENHOUT: SNORSEUN  – As stand-up-komediant is Schalk ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika. Teatergangers kan uitsien na die snorseun op sy beste, met nuwe materiaal, vlymskerp waarnemings en sosiale kommentaar oor die lewe en die land waarin ons leef.

25: OUD EN NUUT IN DIE OUTENIQUAKontemporêre musiek  – 25 jaar gelede, by die heel eerste KKNK, was Amanda, Margit, Koos en die a capella-groep Cutt Glas reeds daar. Die produksie bring onder meer van die lede van Cutt Glass vir die eerste keer in jare weer byeen. Die musikante, kunstenaars en storievertellers neem feesgangers op ’n reis deur die dekades met van die mees geliefde liedjies en staaltjies. Daar word ook hulde gebring aan kunstenaars wat nie meer met ons is nie, maar wat oor die 25 jaar onvergeetlike bydraes tot die fees gelewer het. En in die gees van die KKNK stel die veterane ook nuwe talent bekend, nuwe fakkeldraers vir die volgende dekades.

WOORDE OP AKKOORDE: Musiekteater, ondersteun deur NATi met Diana Ferrus, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Deniel Barry en Hermien de Vos.  Ses kreatiewe woordkunstenaars verweef woorde, musiek en natuurlike elemente van die oseaan asook rommel wat uit die oseaan spoel. Die resultaat is die herwinning van klanke, en die strewe om jou stem te laat hoor. Die gehoor word op ’n magiese musikale reis van woordkuns, sang, digkuns, dreunsang en rymklets teen ’n visuele agtergrond geneem. Net die antwoord om sin te maak van die lewe se kakofonie van klank.